Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Afrikaans het baie gesigte

Ek sien Afrikaans as ’n ietwat hibride figuur met ’n baard en ’n kakiekortbroek, maar met ’n bruin vel en dalk selfs tatoeërmerke. Geslagloos. ’n Ou gesig en ’n jong lyf. Stapskoene aan, maar met hoëhak- en skoolskoene in die rugsak.

Inge Botes
Inge Botes

Ja, my taal lyk en is deurmekaar en misplaas. Dis moeilik om ’n plek te kry wanneer jou sprekers se demografie só verskillend lyk.

Wanneer jou waardes so ongedefinieerd is. Wanneer jou geloof só divers is en jou politiek so uiteenlopend is. Dis moeilik om ’n plek te kry wanneer jou oorsprong iewers tussen kolonialisme en dekolonisasie lê.

Wees subtiel en diplomaties

Ek volg die werk van Mahmood Mamdani, ’n Ugandese akademikus, skrywer en politieke kommentator, met diep bewondering.

In 2018 lewer hy die TB Davie-gedenklesing by die Universiteit van Kaapstad. Mamdani verwys na Afrikaans as die mees gedekoloniseerde taal op die vasteland en dalk selfs in die wêreld.

Eerstens met die wegbreek van die Nederlandse oorsprong en tweedens ná die Anglo-Boereoorlog toe die taal sy plek ná Britse indringing moes herbevestig.

LEES OOK: Moedertaaldag: Vandag vier ek fees in Afrikaans

Dié stelling word gemaak te midde van Mamdani se praktiese plan vir universiteite se dekolonisasie-poging, waarin hy plaaslike tale, meertaligheid en vertalingsprojekte as die belangrikste take in die dekolonisasie-doelwit beskou. Hy ag ook die opbou van letterkunde in Afrika-tale as ’n belangrike projek.

Antjie Krog, skrywer en digter, het in 2017 in haar Sol Plaatje-gedenklesing by die Universiteit van die Vrystaat die letterkundige waarde van Sol Plaatje uitgelig binne die konteks van Mhudi – die eerste Afrikaroman wat in Engels geskryf is.

Sy wys op Plaatje se liefde om tale aan te leer en beskryf sy vertalings en multitaaldiskoers as belangrike bydraes op kulturele gebied in Suid-Afrika.

Ek glo dit is mense wat subtiel en diplomaties in die taaldebat optree, wat ons vorentoe sal neem, eerder as diegene wat arrogant en kras oorkom.

Dit is nie toevallig dat ek dié figure kies om die gesprek in te lei nie. Albei is liberale denkers wat hulself skaar by ’n strewe na ’n gelyke en vry samelewing.

Ek glo nie die gesprek oor die voortbestaan, uitbreiding en liefde van Afrikaans behoort uit enige ander plek te kom nie.

Ek glo dit is mense wat subtiel en diplomaties in die taaldebat optree, wat ons vorentoe sal neem, eerder as diegene wat arrogant en kras oorkom.

Die onderskeid tussen Kaaps en Afrikaans

My hibridiese Afrikaanse karikatuur is sonder twyfel ’n veralgemening. Dit is egter gegrond op ’n interessante konteks.

Ek lees onlangs ’n proefskrif van ’n medestudent wat handel oor die tema van, onder meer, identiteit en verteenwoordiging in Manenberg in Kaapstad.

Die skrywer noem vroeg al dat sy Afrikaans en Engels vlot praat, maar dat sy Kaaps moes aanleer ter wille van haar navorsing in die gebied. Die onderskeid tussen Afrikaans en Kaaps word deurentyd gehandhaaf.

Sonder om stelling hierteen in te neem, beoog ek om Kaaps eerder as ’n gesig van Afrikaans te beskou.

’n Uniforme taalbeleid lyk nie vir my gepas vir die uiteenlopende taalgesprekke oor die land heen nie. Ek beoog nie om uitlatings of voorstelle te maak vir my persoonlike voorkeure nie.

Natuurlik is die gesigte van die taal nie so eenvoudig soos die onderskeid van die stereotipiese uitspraak van “ek” (e, ê, a) nie.

Alhoewel die aksent nie die storie van die gesigte vertel nie, vertel dit wel iets van uiteenlopende geskiedenisse van ’n Republiek van Suid-Afrika wat voorheen in drie verdeel was.

Alhoewel Afrikaans net een tegniese oorsprong kan hê, het die geskiedenis van die taal uiteenlopend ontwikkel.

Geen wonder die taaldebat lyk net so uiteenlopend by die verskillende universiteite nie. Byvoorbeeld, die tradisioneel konserwatief Afrikaanse universiteite is in die spervuur oor die druk vir behoud van Afrikaans en doen dus toenemende stappe vir eksklusief Engelse onderrig (sien Kovsies, Stellenbosch en Tuks).

Dit terwyl konseptueel liberaal Engelse universiteite druk van studente ervaar om Afrikatale, insluitend Afrikaans, meer te inkorporeer (sien UCT en Wits). Dit kan nie in isolasie gesien word van die ras- en klasgebaseerde demografie van die sprekers nie.

LEES OOK: Moenie skaam wees vir jou Afrikaanse aksent as jy Engels praat nie...

’n Uniforme taalbeleid lyk nie vir my gepas vir die uiteenlopende taalgesprekke oor die land heen nie. Ek beoog nie om uitlatings of voorstelle te maak vir my persoonlike voorkeure nie.

Eerder is die suggestie hier dat die gesigte erken moet word, die hibridiese aard waardeer moet word en dat daar kennis geneem moet word van die veelsydigheid van die taal.

Die taal as dubbeld gedekolonialiseerde, maar ook die taal van die onderdrukker. Die taal van plaaslike bruin mense in die Wes-Kaap én die taal van die Orania-inwoner. Wat nog te make met die onderskeid van die Afrikaner en die Afrikaanssprekende.

Engels is die tussenganger

Richard Ruiz stel ’n basiese maar waardevolle model voor in die evaluering van taal, met ’n fokus op taalbeplanning. Die model fokus op taal as reg, taal as hulpbron en taal as probleem.

Taal as reg verwys eerstens na die reg om die taal van jou keuse te gebruik sonder diskriminasie teen jou en tweedens om in die taal van jou keuse aan gemeenskaplike aktiwiteite deel te neem.

Alhoewel die Suid-Afrikaanse konstitusie die reg ondersteun, is dit voor die hand liggend moeilik om dié reg tot alle tale te akkommodeer. Engels word dus gereeld ’n vrywillige tussenganger en brug.

Alhoewel die Suid-Afrikaanse konstitusie die reg ondersteun, is dit voor die hand liggend moeilik om dié reg tot alle tale te akkommodeer. Engels word dus gereeld ’n vrywillige tussenganger en brug.

Taal as hulpbron sluit aan by VN se besluit om 2019 die taal van inheemse tale te benoem. Hierdeur word kultuur en taal diversiteit aangemoedig.

Taal as probleem is natuurlik uiters relevant in ’n land met elf amptelike landstale wat op ’n kamstig gelyke voet deur die konstitusie voorgehou word.

Kultuurtaal

Ek is nie bekommerd dat die Afrikaanse taal op kulturele gebied in enige gevaar is nie. Ek is onseker of die behoud van Afrikaans as onderrigtaal ’n noodsaaklikheid is.

Ek is egter seker dat die gesprek nie verder kan plaasvind sonder om die verskillende gesigte van die taal te erken nie. En om hul daarvandaan in gesprek met mekaar te plaas.

Ek is onseker of die behoud van Afrikaans as onderrigtaal ’n noodsaaklikheid is.

My hibridiese baster is miskien nie almal se smaak nie.

Ek vind egter troos in ’n raakpunt.

’n Gemene oomblik waar Afrikaans nie triomfeer bo ander Afrika tale nie, maar ’n plek inneem langs hulle.

Miskien nie so afgerond en gedefinieer soos die bure nie, maar met ’n potensiaal om inklusief en vrydenkend voort te beur in ’n toenemend globaliserende wêreld.

  • Inge Botes (21) het 'n BA-graad in Antropologie, Afrikaanse Letterkunde en Sosiologie aan die Universiteit van Kaapstad voltooi. Sy doen tans haar honneursgraad. Sy kom oorspronklik van Bloemfontein af.
  • Wonder jy wat in studente se koppe aangaan? Lees meningstukke hier.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Volg Die Student op Instagram!
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.