Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Afrikaans, jy bly my eerste liefde'
Vincent Geldenhuys
Vincent Geldenhuys

Afrikaans, jy sal altyd my eerste liefde bly. Veral as jou woorde soos soet heuning van my tong af gly, ook, wanneer ek jou gesegdes en verleidende woorde gebruik om ’n deftige dame heuning om die mond te smeer.

Jy is deel van my, my geskiedenis, iemand wat ek verseker eendag in die vreemde verskriklik gaan mis.

Afrikaans, jy sal altyd my eerste liefde bly.

Jou woorde, vol van krag, veral as my woordeskat in ’n oomblik van woede verdun, en ek ’n paar vloekwoorde leen om my opinie sterker te maak. 

Bliksem, jy is darem so mooi, so mooi soos ’n sonsondergang, oor die oewers van die Oranjerivier met ’n koue enetjie in die hand.

Jy vertel 'n storie

Francois van Coke en Johannes Kerkorrel het jou gebruik om revolusies te begin. Vir verlore tieners ’n heenkome gegee in die tye wat hulle verlore gevoel het.

Robbie Wessels en Appel, leen by jou woorde om ons om kampvuur vermaak te verskaf, terwyl Theuns Jordaan of Refentse op die draadloos my na my beeldskone meisie se prag laat verlang.

LEES OOK: Afrikaans: "Met eish" én met hoendervleis!

Karen en Ingrid laat ons dieper dink, oor die gebeurtenisse van die verlede en drome vir die toekoms. Ons laat dink oor die liefde, die haat, die gevoel van ‘n hart breuk en die gevoel van smart.

Ja, CJ en Breyten het ons almal geken. Op skoolbankies het die laaste twee periodes van Afrikaanse letterkunde ons dikwels gewen. Maar tog, tog smag ek na iemand wat die leiding kan neem. Om vir ons volgende generasie, ’n nuwe gedigteboek te laat sing.

Die beste vertaling

Jy is ’n sprokiesverhaal, die beste vertaling om stories in te vertel. Veral in die Namakwaland, oef, hoe hulle met jou kan buig en speel. Wanneer Pietman en Andries elke Vrydagaand op die Kassie vir ons ou verhale en grappies kom vertel.

Want jy bind ons almal, jou woorde sien geen kleurgrens nie.

Van die Kaap tot Soweto, tussen die stadsrumoer of op stowwerige plattelandse grondpaaie, oral dwaal jy rond. Tussen helder straatligte, sal iemand jou vind. Of dit net ’n woord of aanhaling, selfs awé, of hoe skud die dinge, ons almal sal verstaan wat jy bedoel. Want jy bind ons almal, jou woorde sien geen kleurgrens nie.

Ons kan jou vorm soos ons wil, ’n woord of twee by ’n ander taal leen, dis mos alles oukei. Solank ons weet waar ons wortels is, en verstaan hoe jy moet lyk.

Ek dank in my taal

Jy is ook die taal waarin ek my Skepper elke aand dank. Dank vir die reën, dank vir ’n goeie dag, vir Suid-Afrika se beeldskone prag.

Maar dit sit soos ’n dolk in my hart, dat instansies jou nie meer as ’n onderrigmedium wil respekteer nie. Ek is bang jy raak verlore, soos gisteraand se maan.

Maar ek laat dit oor aan Early B en Spoegwolf om nuwe, moderne maniere te vind om jou nog steeds aanloklik te laat lyk vir ons jonger generasie. Sodat ons jou nie sal vergeet nie, want jy is so rein.

LEES OOK: Afrikaans: Jou rowwe bliksem

So, al sit ek in ’n woonstelgebou, verdwaald iewers in Japan, of in ’n verlate kroeg aan die oewer van een of ander Ierse rivier, sal jy altyd in my gedagtes bly, want jy is my denktaal, die een waarin ek redeneer. Al is ek in die vreemde, sal my kinders van jou hoor. In die publiek of privaat, al dink die mense ek en my gesin is getoor.

Want jy is brandewyn of ’n kameeldoringvuur. Jy is die Bosveld en jy is die oseaan. Jy is die taal van my Vaderland, die taal van my hart.

Ja, Jy is myne. Jy is myne, Afrikaans.

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.