Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Afrikaanse musiek: Ons is nie almal só nie
Deon Meiring
Deon Meiring. Foto: Adriaan Scheepers

Ek het eenkeer by ’n braai vir ’n Amerikaner gevra wat vir hom anders is aan Suid-Afrika. Hy’t gesê dat hy eintlik baie van Amerika hier sien, maar wat vir hom uitstaan, is die groot grys voëls wat so hard skreeu. Ek moes eers ’n bietjie dink voor ek besef het hy praat van hadidas. Ek is al so gewoond aan hulle. Tog is dit moeilik om hulle nie te hoor nie.

Die hadidas van die musiekbedryf

Ek ervaar die musiekbedryf ook nogal soos die ryk van die voëls. Daar is beslis ’n paar hadidas wat so groot en luidrugtig is dat hulle maklik uitstaan.

Ter wille van die analogie moet ek verduidelik: Baie van die musiekbedryf se hadidas het nagtegaalstemme. Hulle is net hadidas in die sin dat hulle onmisbaar is. Om goedkoop houe uit te deel is onnodig. Dis wat my bekommer van die sosiale media se reaksie op Riku Lätti se meningstuk in Vrye Weekblad: Mense aan weerskante van die debat maak die ander as talentloos af. Dit ondermyn die geleentheid om Afrikaans se veelsydigheid te waardeer. Hadidas verteenwoordig hoegenaamd nie al ons land se voëlsoorte nie.

Ek ervaar die musiekbedryf ook nogal soos die ryk van die voëls. Daar is beslis ’n paar hadidas wat so groot en luidrugtig is dat hulle maklik uitstaan.

Net so is die prominentste kunstenaars ook nie al wat Afrikaans het om te bied nie. Dis voor die hand liggend, maar dit word oorskadu as ons mekaar vervreem in debatte. Afrikaanse musiek is ryk en wyd. Wat van die suikerbekkies, glasogies, tarentale en bokmakieries? Die ander dam se ganse miskien? Ons mis uit as ons nie na musiekstyle buite die hoofstroom van Afrikaans ook luister nie.

Beskerm en bevorder

Alle voëlsoorte mag beskerming geniet. Sommige prominentes is dalk juis kwesbaar omdat hulle groot teikens is. Groot getalle help wel ook om nie so maklik ’n prooi te word nie. Ander wat skaarser is, kan weer baat vind by ekstra aansporing en beskerming. Anders gaan hulle verdwyn. Dit geld vir minder bekende vorme van Afrikaanse musiek ook.

As kind het ek eenkeer in ons tuin gesien hoe ’n kwikkie mislei is om ’n koekoekkuiken groot te maak ten koste van haar eie kroos. Praktyke in die musiekbedryf ten koste van diversiteit maak Afrikaans bloot armer en moet aandag kry. Maar daarmee bedoel ek nie die hadida of koekoek moet uitsterf nie. Ek begeer ook nie dat almal ewe prominent word nie. Dit sal kunsmatig en vervelig wees.

Afrikaanse musikante buite die hoofstroom is ook lief en goed vir die taal.

Mense weet ten minste sedert die tye van die Ou Testament dat afguns sleg is vir jou. Wanneer ek myself vang dat ek afgunstig dink oor ander kunstenaars sing ek ’n Koos Kombuis-liedjie soos ’n hedendaagse psalm: “Ons en hulle, hulle braai die tjips en ons kou die skille.” Dis menslik om so te voel, maar die feit dat die meeste van ons die een of ander tyd so voel, wys hoe onakkuraat dit gewoonlik is.

Afrikaanse musikante buite die hoofstroom is ook lief en goed vir die taal. Ek maak musiek aan die alternatiewe kant van die spektrum en sien hoe alternatiewe klanke spreek tot alternatiewe sprekers. Hierdie sprekers hou die taal vars en lewenskragtig. Elke genre in ons bedryf dra by tot die skoonheid of diversiteit van Afrikaans. Sonder diversiteit was skoonheid maar saai.

Wat van pryse? Wat kan ek doen?

Pryse en kompetisies is bakens en aansporings vir musikante. Ek sou voorstel dat glansryke pryse en kompetisies saamspan met borge om ook programme aan te pak wat die minder prominente musiekstyle aanmoedig, erken en bemagtig om aan te hou. Dit sal daadwerklik wys dat ’n belegging in Afrikaans ’n belegging in diversiteit is. Dis nie waar die verantwoordelikheid ophou nie. As dit nie vir my ma se CD’s was nie, het ek dalk Koos Doep misgeloop. Almal wat Afrikaans luister, het die geleentheid om mekaar se speellyste uit te brei. My pleidooi is dat luisteraars en liefhebbers van Afrikaans meer gereeld mekaar se liedjies leer sing, eerder as om te skel.

As jy ’n aanhanger van Afrikaanse musiek is wat dalk dwars in die krop gesteek is deur Riku Lätti se mening, gaan luister asseblief na Die Wasgoedlyn. Daar is eerlike Afrikaanse liedjies waarop jy kan dans, huil en selfs bid. Ons weet dat van die mees ikoniese woorde in Afrikaans, soos bobotie en koesister, ’n Kaaps-Maleisiese herkoms het. Ghoema ook.

Afrikaans is divers. Die vraag is wat dit enigiemand in die sak bring om dit te ontken?

  • Deon Meiring (29) is 'n musikant en het BA Kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit studeer en daarna sy Mphil in Toegepasde Teologie aan die Universiteit van Pretoria voltooi. 
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.