Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Agter die ‘Boereworsgordyn’ van die noordelike voorstede
Bellville. Foto: Wikipedia

Die Boereworsgordyn van die noordelike voorstede.

Ja, daar hang ’n geografiese taal- en rasgordyn wat mense skei van mekaar in Durbanville. Hierdie Boereworsgordyn, ’n term wat verbind word met wit Afrikaners se liefde vir boerewors, is geïnspireer deur die Ystergordyn en die muur van Berlyn: om te skei.

In Christi van der Westhuizen se boek Sitting Pretty: White Afrikaans Woman in Postapartheid South Africa, vertel sy van ’n eenderse ingeslote grondgebied tussen Pretoria en Johannesburg met Centurion wat die middelklas- tot wel-af-gordyn vorm tussen die twee stede. Centurion en Durbanville vorm gemaklike gordyne waaragter wit Suid-Afrikaners apart kan lewe van die res van die mense in die land.

Net soos die ossewaforte van die Voortrekkers in die 1830’s, skep ons ingeslote gebiede om ons te beskerm van hulle wat ons vroue en kinders wil seermaak. Die mense is al moeg om te hoor dat apartheid nog bestaan, maar as die mense regtig opgelet het, sou hulle sien dat dit steeds doen. Ruimtelike of geografiese skeiding en apartheid bestaan vandag. Veral in Durbanville.

Statistieke Suid-Afrika bevestig hoe hierdie Boereworsgordyn steeds bestaan.

Die strukturele strategie van apartheid het gewerk. Die strukturele skeiding van mensegroepe bestaan nog 24 jaar nadat apartheid op papier gestop het. Ekonomies en maatskaplik bestaan dit nog definitief as ’n mens kyk na hoe ons buurte lyk.

Ontwikkelings vir die rykes

’n Tiener in my woonbuurt vra my eendag hoekom die verskillende mense in ons land so apart woon van mekaar as apartheid dan verby is. Ek kon nie daardie dag vir haar in detail verduidelik watter impak ekonomiese mag het op die voortbestaan van ons buurte se demografie nie, maar daar is moontlike rolspelers wat ’n impak het, naamlik ontwikkelings en kultuur.

Ons vooropgestelde idees van die ander weerhou ons daarvan om te integreer omdat ons ’n angs en vrees ontwikkel het vir die andersheid van die ander.

Net buite Durbanville word daar nou ’n derde fase van die Graanendal Estate ontwikkel. Die plotte gaan vir tussen R1,5 miljoen en R3 miljoen. Die land se eerste private universiteit word beplan deur Curro en niks word gepraat van gemengdevlak- maatskaplike behuising wat deel vorm van hierdie multi-miljoenrand-ontwikkelings nie. Dit beteken dat waarskynlik net ’n sekere groep mense wat die ekonomiese mag het, daar sou kon koop.

Dít kan moontlik bydra tot nog ’n ingeslote grondgebied van wit mense wat huise agter hekke koop en hulself isoleer van die werklikhede van Suid-Afrika. Geen integrasie van gemengde huishoudings sal hier kan plaasvind met die koopkrag wat nodig is vir hierdie tipe plotte nie. Ontwikkelings wat nie doelbewus besig is om mense van verskillende inkomstevlakke in te sluit in hul projekte nie, is besig om moontlik by te dra tot die apartheid van verskillende mense in Suid-Afrika. Lees meer hier.

Vrees vir die ander

Wynand Breytenbach.

’n Tweede kwessie wat op ’n manier die geografiese skeiding van verskillende mense bevorder, is kultuur. Mense is tropdiere. Ons hou daarvan om by ’n bekende plek in te stap en tuis te voel. Die meeste van die mense weet nie eens hulle is deel van witheid nie. Dis eers onlangs dat wit mense gekonfronteer is met hul eie witheid weens die swartbewustheidbewegings deur studente. ’n Voorbeeld: Twee jonger vissies swem eendag saam, totdat ’n ouer, wyser vis verbyswem en sê: “Water is lekker nè, manne?” Waarop die een jong vis vir die ander een vra: “Wat is water?”

Ons weet nie eens dat ons deel is van ’n kultuur totdat iemand ons daarvan bewus maak nie. Dis die eerste keer dat wit mense oor hul witheid hoef te dink en dit mag dalk bydra tot die vrees vir die ander. Wat weer ’n invloed het op hoe ons dink oor die ander en oor wat aangaan daar waar die ander woon.

Ons vooropgestelde idees van die ander weerhou ons daarvan om te integreer omdat ons ’n angs en vrees ontwikkel het vir die andersheid van die ander.

Ons almal hoop vir ’n geïntegreerde Suid-Afrika waar die “my” en die “jou” sal verweef word in ’n algemene “ons”. Ons verstaan ook nou, 24 jaar later, dat dit moeiliker gaan wees as wat ons ooit gedroom het dit gaan wees.

’n Moontlike beginpunt mag belydenis wees. Ons kan nie die ander se volheid begin liefhê as ons nie erken wie ons is en onsself liefhet nie. Belydenis is nie die oplossing nie, dis die beginpunt vir wit mense.

Ek is ’n jong, wit NG Kerk-man. Ek verdien tussen R307 601 en R614 400, ek het ’n universiteitsgraad en my huis het elektrisiteit en watertoevoer.

Ek skuil ook agter die Boereworsgordyn van Durbanville en ry ook Dinsdae en Donderdae met my motor agter die ossewamuur uit na Fisantekraal om die huiswerker huis toe te neem.

Wie is jy?

  • Wynand Breytenbach (25) doen tans sy doktorsgraad in sistematiese teologie en ekklesiologie aan die Universiteit Stellenbosch en die Radboud Universiteit in Nederland. Hy kom oorspronklik van Groenvallei, Bellville.
Meer oor:  Bellville  |  Durbanville  |  Menings  |  Die Student
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.