Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Almal hoort nie op universiteit nie

#FeesMustFall het in Oktober 2015 begin, maar dié hutsmerk bly steeds in die nuus. 

Die rede? 

Almal meen hulle is geregtig op tersiêre onderrig – en dit boonop gratis. Die probleem lê nie by die konsep nie, maar by die studente. Die aantal Suid-Afrikaanse universiteitstudente, om presies te wees. 

Gratis onderrig is nie ’n nuwe gedagte oorsee nie. Daar is al ’n geruime tyd instansies, veral in Europa, waar dit gebeur. Daar is egter een kardinale verskil tussen ons en hulle: Die mense wat aan daardie universiteite studeer, is mense wat daar hoort. 

Ons beskou dit as vanselfsprekend dat almal universiteit toe moet gaan. Dit was egter nie altyd so nie. 

Ander instansies soos technikons en kolleges is hoog geag en is nie as minderwaardig teenoor universiteite beskou nie. Die opleiding was goed en die studente kon wegstap met die wete dat hulle uitstekende werk sal lewer wat beslis nie teen dié van universiteitstudente sou afsteek nie. En onderrig van dié gehalte word steeds deur die instansies gehandhaaf. Al wat verander het, is mense se houding daaroor. 

Universiteite is nie die alfa en die omega

Deesdae hoor tieners hulle gaan nooit ’n werk kry as hulle nie ’n graad (of twee) agter hul naam het nie. In die verlede was daar geen skaamte om te erken dat jy aan ’n kollege studeer het of dat jy die familie-onderneming gaan oorneem nie. Inteendeel, dít was die norm. 

Daar is ’n rede waarom na universiteite as akademiese instellings verwys word: Dit is vir akademici. Mense wat moet leer, navors en hulself teoreties bemagtig. Hoeveel mense ken jy wie se ma hul take op skool gedoen het, wat sê hulle haat navorsing en wat hulself nooit sover kan kry om te leer nie? Te veel, neem ek aan. En waar is hulle nou? Dis reg. Op universiteit. Die einste plek waar jy voor jou siel weet hulle nie werklik hoort nie. Die feit is ons is nie almal dieselfde aangelê nie, al word die teendeel in ons kele afgedruk. 

Ons beskou dit as vanselfsprekend dat almal universiteit toe moet gaan. Dit was egter nie altyd so nie.

As jy hoërskoolleerlinge vra wat hulle gaan studeer, is die antwoord medies, aktuarieel of ingenieurswese. Nie omdat dit is wat hul wil doen nie, maar volgens die samelewing is dit wat hulle veronderstel is om te doen. 

En indien jy dit waag om ’n ander rigting in te slaan, word jy oorval deur voorspooksels dat jy nooit genoeg geld gaan verdien nie en dat jou toekoms reeds verby is nog voordat dit begin het. 

Daar is natuurlik die ander kant van die munt, waar mense “maklike” grade gaan studeer – nie omdat dit hulle veel in die sak gaan bring nie, maar omdat hulle steeds smag na die status wat aan die titel “gegradueerde” gekoppel word.

Dis een ding om ’n graad te verwerf in iets waarin jy glad nie belangstel nie, maar dis ’n heel ander kwessie as jy nie aangelê is daarvoor nie. Dosente sit met die hande in die hare wanneer studente die hele tyd vrae vra wat ’n algehele wanbegrip van die werk weerspieël. 

Stigma rondom alternatiewe opleiding

Ek is omring deur studente wat elke aand gaan kuier, wat gewoond was daaraan om op skool soos ’n papegaai te leer en nou met basiese toepassingsvrae sukkel. Hulle is net nie akademies ingestel nie. Hulle sidder as hulle daaraan dink dat hulle moet navorsing doen. En as jy as universiteitstudent nie gaan kuier nie omdat jy vir ’n belangrike toets moet leer, word jy aangestaar asof jy mal is. 

Corine Raath

Ek is een van 7 000 eerstejaars by my universiteit en ek kan jou waarborg die meeste van hulle weet nie wat dit beteken om werklik akademies te wees nie. En dan wonder mense hoekom studente in hul eerste jaar soos vlieë uitval. 

Dit is waarom die staat nie vir ons kan betaal nie. Dis nie dat die land ’n tekort aan geld het vir mense wat hul studie klaarmaak nie, dit is dat daar nie genoeg geld is vir almal wat druip nie.

Ek weet nie wanneer mense begin het om neer te sien op praktiese beroepe nie. ’n Mens kan baie suksesvol wees sonder dat jy jou ouers se geld op universiteit hoef te mors. Is jy goed met motors? Word ’n motorwerktuigkundige. Kan jy uitstekend teken? Begin nou al aan jou portefeulje werk. 

Dis tyd dat die stigma rondom ander soorte opleiding verdwyn. Almal hoort nie op universiteit nie. En dis nie ’n slegte ding nie. Dis die realiteit en dis niks om oor skaam te wees nie. 

Ja, #FeesMustFall, maar eers sal universiteitstandaarde moet styg.

  • Corine Raath (19) studeer BA Wiskunde en Geesteswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit. Sy kom oorspronklik van Bellville in die Kaap.
Meer oor:  Feesmustfall  |  Tersiêre Onderrig  |  Universiteite  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.