Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
As dit waarvan die hart vol is, sleg is vir jou

Wat die hart van vol is lei soms tot die einde. Praat, skryf, skree, sing, maar maak oop jou mond, maak tog net oop jou mond.

Die doodsengel het my naam so duidelik en uitdruklik geroep, maar dit nie waarom ek haar stem gaan opsoek het nie.

Ek moes luister vir my broer se naam. Hy het gevra of ek hoor wat hy hoor, of ek hoor hoe sy hom smeek om huis toe te kom, maar ek kon nie sy naam hoor nie. Terwyl ek probeer luister het vir sy naam en hom probeer oortuig het dat hy verkeerd hoor, het sy my naam harder en harder uitgeskree.

Dit het my laat besef dat die swaarste laste nie op ’n mens se skouers rus nie, maar op jou hart en as jou hart aangeval word, kan dit jou einde beteken.

My broer se hart was letterlik onder beleg. Dit het daartoe gelei dat my hart deur duistere emosies oorrompel is. Die son het byna vir ons albei gesak.

Die dood is onvermydelik, onvoorspelbaar en gewaarborg. Dis iets wat ’n mens net moet aanvaar of jy nou wil of nie. Soms kry jy tyd om jouself voor te berei daarop en ander kere bekruip dit jou soos ’n dief in die nag.

Die dood van haar broer ruk die skrywer se leefwêreld.

Wat is egter erger as die dood?

Ek dink nie daar is enigiets erger as om nie te weet wat om te verwag nie, veral as die onsekerheid jou indirek aanval. As jy nie die een met ’n voet in en ’n voet buite die kant van lig en lewe is nie.

So het dit nege maande gelede gevoel. Ek was omring deur die seer van die duisternis toe my broer skielik siek word. Dokters kon nie vasstel het wat fout was met hom nie. Daar is toetse op toetse gedoen. Hy het by die dag verswak, maar niemand kon vir seker sê wat fout is nie. Dit het so aangegaan totdat ons die skrikwekkende nuus kry: “Sy hart is vergroot en hy het ’n noodoperasie nodig. Daar is geen waarborg dat hy dit gaan maak nie, ons is ook nie seker wanneer ’n operasie gedoen sal kan word nie.

“Al wat ons kan doen, is hoop vir die beste. Hy sal dringend van Paarl-Oos hospitaal na Tygerberg verplaas moet word en dis waar hy sal wag vir ’n operasie.”

Daardie woorde het aanhou eggo deur die lug, dit het ietwat Grieks geklink. Ek kon nie kop of stert uitmaak nie. Ek kon net nie verstaan hoekom dit met ons moet gebeur het nie. My wêreld het ineengestort, ek het nie geweet of ek kom of gaan nie, my oudste broer.

Ek het biddend gebly, ek het sterk probeer bly. Ek was elke dag klokslag besoektyd daar. Ek het my plig as suster probeer nakom en hom nooit alleen gelaat nie. Dit was maklik vir my om hom elke dag te besoek omdat ek ’n student aan die Universiteit van Wes-Kaapland is, en die kampus in Bellville is.

My studies het begin agteruit gaan, ek het van ’n A+ kandidaat na ’n gemiddelde kandidaat gegaan, ek het selfs hier en daar begin druip. Dit was nag. Ek het deur hel gegaan.

Daar was dae dat hy lam was, dae dat hy net moeg was. Ek moes alles aanskou, alles verduur. Dit was heel oukei. Ek kon my emosies goed wegsteek.

Op die dag van die operasie het ek toe ineengestort. Ek onthou dit soos gister. Ek het met my Big Mac Meal in sy saal gaan sit en oudergewoonte gelag en gesels.

Ek het so lekker gelag omdat hy nie mag geëet het nie en gesmeek het vir ’n stukkie. Ons het gewag vir eenuur, vir wanneer sy operasie geskeduleer is.

Dis toe die verpleegster by die saal inkom en my vra om te gaan. Ek wou nie. Ek kon nie. Ek het buite gewag. ’n Paar minute later stoot hulle hom uit en hy was besig om weg te raak. Hulle het hom verdoof, hom voorberei vir die operasie. Ek het beheer verloor. Ek het ’n paar uur voor die hospitaal gesit voordat ek besef het dat ek in die Paarl moet uitkom voor donker.

Toe ek by die huis kom, het ek myself begin sny, die lem het spookstories oor my gewrigte begin skryf. Ek het verlief geraak op die brandgevoel van die lem oor my arm.

Die volgende dag kon hy nie loop, eet of praat nie. Ek het aanhou sny, aanhou sny totdat ek nie meer plek op my arm gehad het nie. Ek kon met niemand praat nie, juis omdat ek nie baie praat nie. Ek skryf eerder oor hoe ek voel. Ek het eensaam en depressief geword. Dis toe dat ek besef het dat waarvan die hart vol is, ’n mens soms van binne kan vermoor.

  • Megan Adendorff studeer aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy kom oorspronklik van Amstelhof in die Paarl.
  • Menings is rubriekskrywers se eie weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie. 
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook! 

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? 

Maar jy wonder nog heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

Meer oor:  Mening  |  Studente  |  Die Student
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.