Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Berei die vleispotte van Egipte vir ons voor, Cyril
Timothy Nel
Timothy Nel

Geagte pres. Ramaphosa,

Vir die eerste keer in maande kon die meeste Suid-Afrikaners rustiger slaap. Dis nou ondanks voortdurende beurtkrag, die hoë werkloosheidsyfer, ’n sukkelende ekonomie met geen werklike groei oor die afgelope dekade nie, en ondernemings in staatsbesit wat, ondanks vele reddingsboeie, net nie vir die land wil werk nie.

Sien, meneer die president, u het die byna onmoontlike reggekry om in u staatsrede vir Suid-Afrikaners ’n bietjie hoop te gee.

Sien, meneer die president, u het die byna onmoontlike reggekry om in u staatsrede vir Suid-Afrikaners ’n bietjie hoop te gee. Dit het herinner aan u Thuma Mina-oomblik wat die harte van miljoene mense aangegryp het.

Vir ’n wyle kon ons weer glo dat ons u wel kan stuur – kan stuur om die spreekwoordelike vleispotte van Egipte vir ons voor te berei.

Wat van die SAL?

Meneer die president, my tannie in Prieska en my oom in Pampierstad is bly om te hoor dat hul swaarverdiende pensioengeld vir eers veilig is, en nie as verlengkoord gebruik gaan word om die flou liggie van Eskom te laat brand nie. Hulle is egter steeds in die donker oor presies wat die herstrukturering van Eskom behels.

Die tannie het ook reeds ’n SAL-vliegtuigkaartjie vir Junie bespreek, maar is onseker oor of die Suid-Afrikaanse Lugdiens dan nog vlerke gaan hê. U het niks daaromtrent gesê nie.

Op die einde van die dag bestuur hulle tog ’n onderneming en nie ’n liefdadigheidsorganisasie nie.

Sê tannie Sheila, een van die skoonmakers by die een of ander beleggingsmaatskappy in Kaapstad, dat sy ongelooflik dankbaar is dat die sentrale spoorlyn opgeknap gaan word om die diens en algehele ervaring van pendelaars te verbeter. Sy sê dat die base al op is vir die alewige laatkommery.

En, meneer die president, ’n mens kan ook nie die mense kwalik neem nie. Op die einde van die dag bestuur hulle tog ’n onderneming en nie ’n liefdadigheidsorganisasie nie. Tannie Sheila sê met ’n uit bors dat die bestuur van die staatsondernemings iets van besigheid by haar base kan leer. So, laat weet maar as ek iets moet organise . . .

Dit moet opgeklaar word

Dis verblydend om te hoor dat grondslagfase-leerlinge in staatskole ook voortaan aan kodering en robotika blootgestel gaan word. My buurvroue het juis die ander dag gesê dat hulle dit nie kan bekostig om hul kinders na die spoggerige skole te stuur waar hierdie dinge ’n algemene verskynsel is nie.

Ek wonder net wie die onderwysers gaan oplei om hierdie vaardighede onder die knie te kry so tussendeur die groot administratiewe las, probleme met dissipline en kinders wat doodeenvoudig nie met begrip kan lees nie. Máár, dis seker maar minister (Angie) Motshekga se probleem. Aardetjie tog, die vrou het reeds soveel probleme om in die onderwysstelsel op te los.

LEES OOK: 'Tannie, ek gaan nie swot nie'

Die studente van die Universiteit van Wes-Kaapland is ook dankbaar vir u aankondiging dat geld beskikbaar gestel gaan word vir die oprigting van broodnodige studenteverblyf.

Sien, meneer die president, studente trek maar swaar wat akkommodasie betref. Waskamers, toilette en lesingsale word saans in slaapkamers omskep. Om huiswaarts te keer is ook nie ’n opsie nie.

Die situasie daar is veel erger en die enigste manier om hul lot te verander is om uit te hou en aan te hou. Ek hoop tog net die geld word aan ’n persoon met korter vingers toevertrou. Die beleid van gratis tersiêre onderrig pla ook nog so ’n bietjie. Hulle vra dat duidelike riglyne asseblief aan universiteite gegee word sodat geen verdienstelike student uitgesluit word nie.

Honger na leierskap

Ek is kinderlik opgewonde oor die prestasieooreenkomste wat u met u ministers gaan onderteken. Lank genoeg het ministers hulself op die spreekwoordelike soustrein versuip, terwyl die armes dood van die honger en dors.

Ek wonder egter net of ministers wat nie presteer nie die deur gewys gaan word . . . Dit klink baie onwaarskynlik met die dat kaderontplooiing steeds aan die orde van die dag is in ons parlement. Ekskuus tog, meneer die president, my intensie is glad nie om u woorde in twyfel te trek nie, maar u weet self hoeveel beloftes u al gemaak het; beloftes wat net dít gebly het.

Ons wil u graag hierdie keer heelhartig glo, meneer die president.

Ons wil u graag hierdie keer heelhartig glo, meneer die president. Glo wanneer u sê dat julle daadwerklik met die skuldiges van staatskaping en korrupsie in die staatsdiens gaan handel; glo wanneer u sê dat deursigtigheid en aanspreeklikheid hoogty sal vier in u administrasie.

Want, meneer die president, vir die eerste keer in ’n baie lang ruk blyk u te besef dat u ’n ongeduldige volk lei wat moeg is van leë beloftes en anekdotes; ’n volk wat honger is vir ’n leier wat sy woord gestand doen.

Dis goed dat wetgewing verander

U toespraak het byna alle brandpunte aangeraak, meneer die president. Ons is verheug dat veranderinge aan sleutelwetgewing gemaak gaan word om te verseker dat ons nie nóg ’n Uyinene (Mrwetyana) en nóg ’n Jesse Hess begrawe nie. Dankie dat u uiteindelik besluit het om ons pluimvee- en staalbedryf te beskerm.

(Pres. Donald) Trump gaan uit die aard van die saak nie baie gelukkig wees nie, maar onse mense, meneer die president, onse mense is dankbaar dat minder poste in die gedrang sal wees. Ons sien daarna uit dat Suid-Afrika hom weer as die kern van ontwikkeling op die vasteland gaan posisioneer met die inwerkingstelling van die Afrika-vryehandelsbeleid.

U aankondiging oor die wettiging van dagga vir medisinale gebruik het talle dronkgeslaan. Ek sukkel steeds om vir die bure se stout seun te verduidelik dat u aankondiging nie beteken dat hy nou dagga mag kweek en rook nie.

Meneer die president, ons glo dat u die pyp sal kan rook om alles wat u belowe het ’n werklikheid te maak. Daadwerklike optrede is al wat ons nodig het. Anders, meneer die president, is dit alles dieselfde poeding net met ’n ander sous.

U word wéér gestuur, meneer die president, en loop hierdie keer reguit na Egipte, daar waar die vleispotte vir almal van ons wag.

Groete,

Timothy Nel

  • Timothy Nel is ’n LLM-student verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, waar hy in korporatiewe finansies en bestuur en internasionale handelsreg spesialiseer. Hy is oorspronklik van Ebenhaeser, sowat 30 km buite Vredendal.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Ons stuur elke Vrydag ‘n nuusbrief uit met die drie gewildste meningstukke van die week. Klik hier en teken in vir die Stemme-nuusbrief.
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.