Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Beste Cyril, kom ons praat oor onteiening sonder vergoeding

Beste pres. Ramaphosa,

Ek is Martin van Staden, tans ’n student wat ’n meestersgraad in die regte aan die Universiteit van Pretoria voltooi.

Sedert 2015 het meer as 1,5 miljoen Venezolane uit hul land gevlug.

Volgens Tomás Páez sou bykans 15% van die Venezolaanse bevolking in die middel van vanjaar buite hul geboorteland wees, met geen hoop op terugkeer nie.

Diegene wat hulle agtergelaat het, eet vanaand vir aandete miskien ’n rot of ’n skaars dier wat hulle by die plaaslike dieretuin gekry het.

Martin van Staden.

Op ’n buitengewoon slegte dag kan hulle gedwing word om hul geliefde troeteldiere te eet, wat baie Venezolaanse gesinne teen dié tyd reeds ondervind het.

Vanaf Julie vanjaar gaan daar ses Venezolaanse kinders per dag aan hongersnood dood.

Nege uit tien Venezolane het nie geld vir kos nie, en ses uit tien het ten minste 11 kg van hul liggaamsgewig verloor vandat die krisis begin het.

Wat kon tot so ’n verskriklike stand van sake gelei het? Die maklike antwoord is onteiening sonder vergoeding. Sedert pres. Hugo Chávez se maatskaplike revolusie het die regering groot dele van die landbousektor onteien en vandag nog, indien die regering dink ’n boer gebruik sy eiendom nie produktief nie, sal dit van hom af weggevat word.

Die meer komplekse antwoord is dat Venezuela oor die afgelope dekades ’n sosialistiese polities-ekonomiese bestel ingerig het wat nie slegs tot onteiening sonder vergoeding beperk is nie, maar wat ook ander ingrypings deur die regering insluit wat die vrye ontwikkeling van individue en ondernemings vertraag.

Volgens Páez is “sosialisme die hoofoorsaak van die Venezolaanse emigrasie in die 21ste eeu”.

SA sal ’n Venezuela word

Die besluit van u party en, klaarblyklik, uself, om na onteiening sonder vergoeding te streef, sal mettertyd van Suid-Afrika ’n Venezuela maak.

Of onteiening nou ingevolge die Grondwet en regsprosesse geskied of nie, is irrelevant.

Baie van die gruwelikste verskynsels in die geskiedenis is wettig uitgevoer.

Geregtigheid en doeltreffendheid volg nie noodwendig uit wettigheid nie, soos uself van Suid-Afrika se eie apartheidsgeskiedenis sal weet.

Geregtigheid en doeltreffendheid volg nie noodwendig uit wettigheid nie, soos uself van Suid-Afrika se eie apartheidsgeskiedenis sal weet.

Die Grondwet is bedoel om ’n raamwerk van beskermde eiendomsreg te skep en ook die regering te bemagtig om eiendomsreg uit te brei aan diegene aan wie dit in die verlede ontken is.

Indien onteiening sonder vergoeding in die Grondwet opgeneem sou word, sal dit nie slegs op ryk wit landbouers van toepassing wees nie, maar op almal wie se eiendom ingevolge die Grondwet verseker word.

Met só ’n beleid sal géén Suid-Afrikaner, wit of swart, ooit weer veilig wees in die wete dat hul eiendom werklik beskerm is teen arbitrêre of wispelturige regeringsaksie nie.

Geen honger vir grond

U glo dat Suid-Afrikaners ’n “honger” vir grond het en dat, indien u nie onteiening sonder vergoeding navolg nie, u party die algemene verkiesing volgende jaar dalk sal verloor. Dit is dus belangrik dat u verstaan dat dit nié die geval is nie.

Volgens navorsing deur die Instituut vir Rasseverhoudinge in 2018, waar daar gevra is wat mense glo die land se grootste probleem is, het 38% van die swart respondente werkloosheid gekies; gevolg deur 26% wat onderwys en misdaad gekies het. Slegs 1% van swart respondente het gesê dat die bespoediging van grondhervorming die regering se hoofprioriteit moet wees; so ook 1% van wit mense, 2% van bruin mense, en 4% van Indiërs.

Onder ’n regime van onteiening sonder vergoeding sal daar géén werk, onderwys of veiligheid wees nie, soos wat ons in Venezuela kan sien.

Daar is géén honger vir grond nie, maar daar is beslis ’n honger vir werk, ’n honger vir onderwys, en ’n honger vir veiligheid.

Onder ’n regime van onteiening sonder vergoeding sal daar géén werk, onderwys of veiligheid wees nie, soos wat ons in Venezuela kan sien.

Die beleid van onteiening sonder vergoeding staan in stryd met die Suid-Afrikaanse grondwetlike bedeling, al word die Grondwet daarvoor gewysig.

Die realiteit

Die onderliggende waardes van die Grondwet – vryheid, regte, gelykheid, menswaardigheid, nierassigheid, en die oppergesag van die reg – bevat geen verdraagsaamheid vir onteiening sonder vergoeding nie.

Dus, indien u en die regering dié beleid deel van die Grondwet maak, loop u gevaar om die interne logika van die Grondwet, en selfs sy legitimiteit, te ondermyn.

Sterk en beskermde eiendomsreg is van uiterse belang vir ’n vrye en voorspoedige samelewing.

Die eiendomsreg van miljoene Suid-Afrikaners is in die apartheidsjare deur middel van wetgewing en sosiale ingenieurswese ondermyn.

Sterk en beskermde eiendomsreg is van uiterse belang vir ’n vrye en voorspoedige samelewing.

Werklike transformasie beteken dat Suid-Afrika nooit weer die foute van die verlede sal maak nie. Onteiening sonder vergoeding ignoreer nie slegs die Suid-Afrikaanse geskiedenis nie, maar ignoreer die wêreldwye ervaring wat voor ons oë uitspeel in Venezuela en elders waar dié beleid gevolg word.

Die realiteit steur hom nie aan die hubris van ’n regering nie, veral wanneer dit by ekonomiese beginsels kom. Of ons dit nou wil glo of nie, op lang termyn wen die ekonomie altyd sy stryd met die politiek.

Ek vra u dus nie om my mening as u voorkeur te aanvaar nie, maar om wakker te wees vir die ekonomiese realiteite wat sal afspeel indien u regering met dié beleid voortgaan.

Beste groete,

Martin van Staden

  • Martin van Staden (24) is besig met sy LLM aan die Universiteit van Pretoria. Hy kom oorspronklik van Vereeniging, maar het hoofsaaklik in Pretoria groot geword.
  • Hierdie brief is 'n inskrywing vir Die Student se kompetisie, Beste Cyril... Vir meer inligting oor die kompetisie, klik hier.
  • Lees al die inskrywings vir die kompetisie hier.

Is jy 'n student en wil jy R5000 wen? Klik hier.

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Bestecyrildiestudent  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.