Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Beste Cyril, onderwysers verdien meer respek

Beste Cyril

My naam is Simoné Heenop. Ek studeer grondslagfase-onderwys aan die Noordwes-Universiteit en is op pad na my vierde en dus finale jaar.

Die opvoeding en ontwikkeling van ons jeug is ’n teer punt wat na aan my hart lê. Daarom het ek dit gepas gevind om die volgende saak onder u aandag te bring.

Simoné Heenop
Simoné Heenop

Ons wonderlike land het tekortkominge, soos waarvan ons almal bewus is; onder meer die elektrisiteitskrisis wat ons in die gesig staar, maar ’n groot probleem waarmee ons ook te kampe het, is die onderwys en meer spesifiek die onderwysers en toekomstige onderwysers wat die onderwysberoep wil betree.

Ek voel ’n groter ophef moet van die onderwys gemaak word en meer aandag moet geskenk word aan die verkryging van gehalteonderwysers. ’n Onderwyser hou ’n kind se toekoms in die palm van sy hand.

My bloed kook wanneer individue na onderwys verwys as “maklik” en “ ’n laaste opsie omdat ek nie keuring vir enigiets anders kon kry nie”.

Na my mening is onderwys een van die belangrikste beroepe in ons land en dwarsoor die wêreld. Onderwysers dra die enorme verantwoordelikheid om kinders aan die beste moontlike onderrig bloot te stel en hulle in so ’n mate te ontwikkel dat hulle eendag dokters, wetenskaplikes, ingenieurs en ja, ook onderwysers, kan word om ’n verskil te kan maak in die breër samelewing waarin hulle funksioneer.

LEES OOK: Dissipline in skole – waar gaan dit heen?

Na my mening is die keuringsvereistes vir onderwysstudente heeltemal te laag. Waarom moet jou punte hoog wees om iets soos ingenieurswese te studeer vir die suksesvolle bou van brûe sonder dat dit inmekaar sak, maar jy hoef net omtrent deur te skraap om onderwys te kan studeer, waar die verantwoordelikheid op jou skouers gaan rus om kinders reg te leer en te ontwikkel, sodat hulle eendag ’n sukses van hul lewe kan maak? Dit maak net nie sin nie.

Na my mening is die keuringsvereistes vir onderwysstudente heeltemal te laag.

Die lae keuringsvereistes veroorsaak dus dat individue wat uit die staanspoor nie werklik daar hoort nie, onderwys studeer en ’n struikelblok kan wees vir die verskaffing van onderwys van die hoogste gehalte. Dit het ook tot gevolg dat individue in die onderwysstelsel beland sonder dat hulle werklik daar wil wees. Hulle het dus nie ’n passie vir onderwys nie en kies nou maar net die beroep weens geen ander opsies nie. Die onskuldiges wat onder hierdie omstandighede ly, is natuurlik die kinders.

LEES OOK: Cyril, leerlinge is ongemanierd en het te veel regte

Verder meen ek ook dat onderwysers nie die eer kry wat hulle toekom nie.

Dag in en dag uit, jaar ná jaar, werk onderwysers van vroeg tot laat om die jeug op te voed. Baie individue sal die mening lug dat onderwysers net halfdag werk en vier keer per jaar vakansie hou. Op die oog af lyk dit dalk so, maar in die praktyk is dit heeltemal ’n ander storie.

As die skoolklok aan die einde van die dag lui, begin onderwysers se werk eintlik eers. Dan is dit toetse opstel, projekte merk, buitemuurse skoolaktiwiteite fasiliteer, om net ’n paar te noem. Buitemuurse aktiwiteite vind dan ook nog dikwels oor naweke plaas. Tydens vakansies kan onderwysers ook nie net agteroor lê met ’n boek en ontspan nie. Menigmaal moet eksamens in daardie tyd opgestel word en beplanning vir die nuwe jaar of kwartaal moet gedoen word.

Ek het dit eerstehands beleef aangesien ek uit ’n familie van onderwysers kom.

Verder meen ek ook dat onderwysers nie die eer kry wat hulle toekom nie.

Die beroep wat ek dus op u maak, is dat onderwysers beter behandel en strenger gekeur moet word om ons pragtige land se onderwysstelsel te verhef tot ’n vlak van uitmuntendheid.

Ek stel voor dat onderwysers se salaris drasties verhoog word om waardering te toon vir die waardevolle bydrae wat hulle lewer in die opvoeding van die jeug.

Die regering moet meer geld in die begroting opsysit vir onderwysers se salaris want hulle verdien na my mening beslis heelwat meer vir die werk wat hulle doen. In heelparty lande word onderwys as een van die belangrikste beroepe beskou en die onderwysers daarvolgens betaal, soos in Kanada, Suid-Korea en so meer.

LEES OOK: ‘Ek is bang om ’n onderwyser te word’

Verder moet die keuringsproses vir onderwysstudente by universiteite en ander instellings strenger wees sodat elke Jan Rap en sy maat nie net besluit om onderwys te studeer om iets agter sy of haar naam te kry nie.

Meneer die president, ek pleit dat u hierdie saak ter harte sal neem. Die onderwys en onderwysers maak saak en verdien om beter behandel te word.

Om onderwysers van uitstaande gehalte vir ons land se huidige en toekomstige geslagte te verseker, moet onderwysers voel dat hulle as waardig geag word.

Onderwysers verrig werk van kardinale belang en daarom moet individue besef dat hulle nie welkom in die onderwysberoep is as hulle nie daarna streef om die beste vir ons land se jeug te bied en opgewasse vir die taak is nie.

Die uwe

Simoné Heenop

  • Simoné Heenop (21) studeer onderwys (grondslagfase) aan die Noordwes Universiteit (Potchefstroom). Sy kom van Durban.
  • Hierdie brief is 'n inskrywing vir Die Student se Beste Cyril... kompetisie.
Meer oor:  Die Student  |  Bestecyrildiestudent  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.