Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Bouwer Bosch: 'Drie gebede en ’n boemelaar bring tyding'

Bouwer Bosch
Bouwer Bosch

Die son is besig om soos ’n skaam tiener sy kop uit te steek oor die horison en maak gereed om ’n Sondag te groet.

’n Boer net buite Makwassie is op sy knieë in een van sy landerye. Hy is op sy knieë, want hy weet wanneer jy op jou knieë staan, is jy nader aan God se oor en hy weet dat net God nou sal kan help.

Sy hande is in die rooigrond en hy kyk op na die hemele en gesels met God op ’n eenvoudige tog eerlike en weerlose manier. Dit is tjoepstil.

Liewe Vader, hou my en my medeboere asseblief veilig op ons plase.

“Liewe Vader, hou my en my medeboere asseblief veilig op ons plase. Al wat ons wil doen, is om na ons gesinne te kyk en vir die res van die land kos op die tafel te sit. Huil ook asseblief oor ons landerye in hierdie reënseisoen dat ons die mooi land van ons kan help om uit hierdie moeilike ekonomie te kom. Ek weet ons is in die gemors oor ’n klomp leiers wat nie hul werk doen nie en geld steel, maar seën steeds dié wat hul moue wil oprol om dinge hier te maak te werk, liewe Vader. Plant my ook asseblief soos ’n mosterdsaadjie daar waar U my wil laat groei.”

Terwyl die boer sy gebed afsluit, ry ’n taxi verby met die nuutste gereformeerde lofprysing liedjie “Jerusalema” oor die klankstelsel in die kombi. Dit blêr harder as Eugène Terre’Blanche se stem op ’n goeie dag agter ’n mikrofoon. In die taxi is ’n ma van twee op pad werk toe (sy is ’n kassier op die dorp se supermark). Sy is al ’n bietjie moeg vir die “Jerusalema”-treffer wat die wêreld se voete aan die jeuk het en nes die boer, gesels sy ook makliker met God wanneer dit stiller is. So sy sit maar haar oorfone oor haar ore om die geraas te verminder.

Liewe Vader, ek weet nie meer wat om te doen nie. Ek wag vir amper sewe jaar vir my HOP-huisie en daar is ook nog steeds nie elektrisiteit waar ek bly nie.

Sy maak haar oë toe en begin met die Here gesels soos die taxi heen en weer wieg asof dit ’n baba in God se hande is. “Liewe Vader, ek weet nie meer wat om te doen nie. Ek wag vir amper sewe jaar vir my HOP-huisie en daar is ook nog steeds nie elektrisiteit waar ek bly nie. Ek weet ook nie hoe ek vir my kinders ’n goeie onderrig gaan kan kry nie, die skool het nog nie eens toilette nie en ek is bang my kinders val in die puttoilet soos Bongile se seun. Ek weet U sê in U woord ek kan al my bekommernisse na U toe bring. So hier is ek nou liewe Vader, help my, help ons almal asseblief, liewe Vader.”

Soos sy haar gebed afsluit, stop die taxi by die supermark se ingang reg langs ’n klein wit karretjie waar ’n onskuldige 19-jarige B.Com-student met ’n koffie in sy kar sit. Hy is op pad na Bloemfontein om eksamen te gaan skryf. Hillsong United speel saggies oor die motor se radio en jy kan sien die student sit met ’n swaar hart. Hy vat ’n slukkie van sy koffie, sluit sy oë en begin met God stoei: “Liewe Vader, hoekom moet ek verder studeer as daar in elk geval ’n groot kans is dat ek nie gaan werk kry in hierdie land omdat ek wit is. Op daai nooit, hoekom het U u eie seun ’n bruin man van die Midde-Ooste gemaak toe U Hom aarde toe gestuur het? Hoekom het U nie net die hele wêreld net een kleur gemaak nie? Al wat ons doen hier op aarde is baklei oor ons velkleur en ons het dit nie eens gekies nie, U het dit gekies.”

Jammer ek word ’n bietjie kwaai, liewe Vader, maar ek weet nie wat om met my frustrasies te doen nie.

Die student besef hy raak ’n bietjie warm onder die kraag en skep drie asems voordat hy verder met God gesels.

“Jammer ek word ’n bietjie kwaai, liewe Vader, maar ek weet nie wat om met my frustrasies te doen nie. U weet ek is baie lief vir hierdie land, ek weet ons geskiedenis is gekompliseerd, maar ek wil regtig hier wees, my erfenis vier, my kultuur uitleef en help bou aan ’n beter Suid-Afrika. Maar hoe doen ek dit, liewe Vader, as dit voel of die hele stelsel teen my is, of is ek dalk net blind vir al die guns wat op my tafel is en al die geleenthede wat ek reeds het om ’n verskil te maak, liewe Vader? Ek weet U is lief vir almal in die land, ek weet ons almal is U kinders, maar help my om lief te wees vir ander en help ook ander om lief te wees vir my, liewe Vader. Ek weet net U kan ons uit hierdie gemors uit help.”

Die volgende oomblik klop ’n boemelaar met sy glimbaadjie aan die student se venster. Die student rol die venster so 4 duim af uit veiligheid uit, want het al voorheen sy selfoon so verloor.

Hy groet die boemelaar versigtig en vra vir hom wat hy soek.

Die boemelaar glimlag breed en antwoord: “Nee, ek soek niks van jou nie. Die Here het my gestuur met ’n boodskap: Hy sê hy’t jou, die boer en die res van die mense se gebede gehoor, maar hy het ’n vraag vir julle: God vra as Hy al dié dinge fix wat hy kan, sal julle dan ook alles fix wat julle kan fix?”

  • Bouwer Bosch is ’n musikant en filmvervaardiger en is ’n gasskrywer vir Die Student. Hy het BA-kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit studeer en kom ook oorspronklik van Potchefstroom af. Hy woon nou in Randburg.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier. 
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.