Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Bouwer Bosch: 'Mans moet praat oor hul emosies'

Bouwer Bosch
Bouwer Bosch

Ons almal ken November – of “Movember” soos dit deesdae bekend staan – as die maand waar mans hul snor laat groei vir bewusmaking van testikulêre kanker en mans se geestesgesondheid.

Movember staan vir my uit, juis oor albei hierdie kwessies my taamlik na aan die hart, en die snor, lê.

Kanker het ons gesin getref toe kolonkanker ’n paar jaar gelede by my pa gediagnoseer is en ongelukkig sy stryd daarteen verloor het.

My eie paadjie met geestesgesondheid stap ek al vandat ek 16 jaar oud is.

Wat my betref word ons karakter gemeet aan ons verhouding met ons pyn oftewel verlede, en ek is nogal iemand wat nie skaam is om met my verwonding op my mou rond te loop nie.

Ek sê altyd ek maak musiek om emosioneel te oorleef, nie finansieel nie.

Ons almal het iets in ons lewe waarin ons gesonder kan raak. Die mooi ding van geestesgesondheid is hoe gesonder jy as mens is, hoe gesonder is die mense en verhoudings om jou ook.

Ons is nogal deur ’n paar storms toe ek ’n kind was. Ek dink een van my grootste persoonlikste storms was die een betreffende my aknee en my selfbeeld as tiener. Ek was een van daardie kinders wat nou maar net nie geseën was met ’n mooi blink George Clooney- tipe vel nie.

Ek het steeds die battlescars op my gesig van my geveg met puberteit.

My lelike vel het ’n ongelooflik negatiewe invloed op my sosiale lewe gehad, op hoe ek myself gesien het, en hoe ek gedink het ander mense my sien.

Ons het ook baie in Potchefstroom rondgetrek in my skooljare en ek het in omtrent 13 huise in Potch gebly.

Volgens navorsing is die topdrie mees traumatiese ervarings die dood van ’n geliefde, ’n egskeiding en verhuising.

Diegene wat my loopbaan en lewe ’n klein bietjie ken, sal weet dat ek ongelukkig ’n onderskeiding in elkeen van daardie lewensvakke het.

Ek deel nie hierdie sodat jy my moet jammer kry nie, maar om lig te skyn op die feit dat die lewe ’n mens soms rondgooi. Ons kry seer, ons maak seer en ons gaan deur ervaringe as kinders en as volwassenes (ouer mense is eintlik mos maar net ouer kinders) waarvoor ons nie altyd die gereedskap het om dit te hanteer nie. Jy hoef nie ’n dokter te wees om te weet dat as jy nie aandag gee aan ’n ernstige wond nie, word hy besmet, hy sweer, hy raak erger en veroorsaak ernstige langtermynskade.

Mans mág praat oor hul emosies

Toe die wiele vir my begin afkom as tiener, het ek ’n sielkundige begin sien. In daardie stadium van jou lewe dink jy daar is iets fout met jou omdat jy ’n sielkundige sien, want die wêreld bemark nie geestesgesondheid onder mans soos wat grimeermiddels onder vroue bemark word nie. Dis taboe vir mans om oor hul gevoelens te praat. Ek dink dís sommer nonsens.

Hoe ouer ek raak, hoe meer besef ek die gesondste ding om te doen, is om meer te praat oor wat binne jou aangaan. Deel jou seer, hetsy met die mense die naaste aan jou of met ’n sielkundige of berader by jou skool of kerk.

Ek is nou 36 jaar oud (ek voel darem 28 en ek weet ek lyk 24, dankie) en ek sien steeds ’n sielkundige. Net soos sommige mense hul hele lewe lank ’n fisioterapeut moet sien vir daardie skouer of been waaraan jy moet werk om dit gesonder te kry.

Ons almal het iets in ons lewe waarin ons gesonder kan raak. Die mooi ding van geestesgesondheid is hoe gesonder jy as mens is, hoe gesonder is die mense en verhoudings om jou ook.

Kom ons wees mans wat ’n klein bietjie meer aandag gee aan die seer wat ons nie kan sien nie en die verleentheid wat ons laat skaam voel om onsself te wees, sodat ons gesonder mense kan wees eerstens vir onsself, maar ook vir diegene om ons.

Ek is nie perfek nie, hel ek is die poster child vir complicated wees, maar ek wil jou aanmoedig om nie net in stilte te sit en broei oor die dinge binne jou wat pla of seer is nie, veral nie dinge wat jy ronddra van jou kinderdae af nie.

Van die grootste onverwagse hartseer gebeure in my lewe was omdat ek my geestesgesondheid afgeskeep het. Net soos dit nie ’n skande is om na ’n dokter te gaan wanneer jy jou arm of been breek nie, net so is dit nie ’n skande om ’n sielkundige te gaan sien omdat jou siel gebreek voel nie.

Net omdat ons dit nie kan sien, beteken mos nie dat dit nie daar is nie. Hoe verduidelik ons dan God? Ons kan Hom nie sien nie, maar ons voel binne ons dat Hy daar is. Die seer binne jou is net so – jy kan dit voel, al sien jy dit nie.

Ek doen dus ’n beroep op mans spesifiek dat ons anders moet wees. Kom ons wees mans wat ’n klein bietjie meer aandag gee aan die seer wat ons nie kan sien nie en die verleentheid wat ons laat skaam voel om onsself te wees, sodat ons gesonder mense kan wees eerstens vir onsself, maar ook vir diegene om ons.

Sterkte met snorgroei, mans.

  • Bouwer Bosch is ’n musikant en rolprentvervaardiger en is ’n gasskrywer vir Die Student. Hy het BA-kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit studeer en kom ook oorspronklik van Potchefstroom af. Hy woon nou in Randburg.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie. 
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.