Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
BOUWER SKRYF: Drome is vir mense wat slaap
Bouwer Bosch.

Hierdie is nou amptelik my 12de jaar in die vermaakbedryf.

My eerste droom was eintlik om Suid-Afrika se volgende Wayne Ferreira te wees, maar toe maak daar ’n McDonald’s in Potchefstroom oop toe ek in gr. 11 was en dit verwoes toe my drome en my vietse lyf op heelwat verskillende maniere.

Ek het toe verander in die persoon wat sy emosies eet in plaas van om dit op die tennisbaan uit te slaan.

Nou alhoewel ek vandag ’n heeltydse musikant is, het ek vir die groter deel van my lewe ander beroepe en drome gehad.

Van hier tot Amerika en terug

Toe ek 16 jaar oud was, toe kry ek werk by ’n “Chip & Dip” in Potchefstroom. Dit was ongelooflik. Ek was in beheer van die hele winkel. Die souse, die masjiene, die proses van om die lekkerste chips in Potch te maak en te bedien.

Dit was humbling om soveel verantwoordelikheid op so ’n jong ouderdom te hê, ek het die blou hemp gedra met die Chip & Dip-embleem op en so ’n oulike hoedjie wat my laat lyk het soos iemand wat in die vloot moes wees.

Ek moet erken, dit was nou nie die tipe werk waar jy baie meisies ontmoet het nie, want kom ons wees eerlik, ’n lekke warm chippie gaan nie na die hart toe nie, maar eerder na die heupe, so ek was nog nooit so single soos in daai tyd by Chip & Dip nie, maar noudat ek terugdink, dalk was dit nie die werk nie, maar eerder omdat ek elke dag met ’n chip op my skouer geloop het.

Ek het daai selfde jaar by Aardklop gewerk as die gawe seun wat pannekoek maak en verkoop.

Die jaar daarna toe werk ek by Aardklop se feeskoerantjie, Spat, waar ek elke dag moes rondloop en kyk hoeveel koerante ek aan die feesgangers kan afsmeer.

Direk ná skool was ek nie seker wat om te gaan studeer nie en nie almal kan Robert Gumede se seun wees wat ’n Porsche kry omdat hy matriek geslaag het nie, so ek het maar ’n studente-kunstegeselskap ge-join met die naam “C-kruis” wat die land vol getoer het.

Ek was nogal een van die dansers in die groep ook, so vir twee jaar het ek gedans op verskillende skoolverhoë regoor Suid Afrika. Dans was groot in 2003 en 2004 okay.

Toe ek 21 word, toe maak ek my eerste rookie mistake deur agter ’n meisie aan Amerika toe te trek. New Jersey ook nogal. Ek het daar vir my eksmeisie se pa gewerk (My tweede rookie mistake).

Omdat ek by die kerk gewerk het, was ek in hemelse skatte betaal en dit het nie rêrig gehelp met my aardse bestaan nie, so toe moes ek iets doen wat geld inbring.

Hy was ’n dominee, so ek het toe by die kerk begin werk as die ou wat ná elke kerkdiens kopieë van die preek moes maak en dit op ’n CD of kasset sit. Ja, jy het reg gelees, kasset. Dit was immers 2005.

Ek moes ná elke diens by my staanplek gaan staan en bestellings neem, ek het ’n naamkaartjie gedra wat lees “Hi, I’m Bouwer, and I’m here to serve”.

Omdat ek by die kerk gewerk het, was ek in hemelse skatte betaal en dit het nie rêrig gehelp met my aardse bestaan nie, so toe moes ek iets doen wat geld inbring.

Ek bevind my toe as ’n bouer op ’n bouprojek van een van die gemeentelede. My eksmeisie se pa het toutjies getrek by ’n gemeentelid en gereël dat ek kan help met ’n huis wat hy bou. Nou omdat ek nie rêrig op ’n werksvisum in Amerika was nie, mag ek nie rêrig gewerk het nie, so ek was presies die tipe ou waaroor Trump ’n muur wil bou vandag.

Nietemin is ek onder die tafel betaal, maar ek moet eerlik wees met jou, dit was rof om deel te wees van daai bouprojek. My pa was ’n bouer, maar ek het definitief nie daai talente by hom geërf nie. Plus my hande is net te sag vir bou.

Verskillende dokters het al bevestig dat ek die liggaamsbou van ’n man het, maar die hande van ’n vrou. As jy deur enige bekende juwelierstydskrif blaai, sal jy my hande daar kan sien onder die “ringe”-afdeling.

Omring deur die beste

Toe die verhouding in Amerika nie uitwerk nie, het ek maar met my gebreekte Afrikaanse hart van JFK af terug na O.R. Tambo gereis op soek na ’n volgende avontuur en werk.

Ek het toe op 22-jarige ouderdom ingeskryf vir BA-kommunikasie by die NWU-Pukke en in daai jaar ook begin werk by die DUET-gemeente waar ek die nuwe gr. 7-“dominee” was.

Ek moes elke Sondag die dienste reël vir die kinders, die musiek organiseer en selfs nou en dan “preek”.

Dit was nie altyd lekker nie oor twee dinge: Een, jy voel soms soos die laaste persoon wat vir ander kan sê hoe om te lewe, want jou eie lewe is nie rêrig op ’n goeie plek nie.

Tweedens, ek hou van laat slaap en wanneer jy by ’n kerk werk, word daar soms van jou verwag om voor Jesus wakker te wees op ’n Sondag om te gaan werk, so die vroeg opstaan het my soms geknak.

Ek het vir vier jaar aan my driejaar-graad gestudeer, omdat ek wou seker maak ek verstaan als wat ek geleer het, toe besluit ek maar ek wil ’n paar vakke oordoen.

Anyway, in die laaste drie jaar van my studies het ek die voorreg gehad om tydens elke Aardklop vir Beeld te werk.

Nou jy wonder seker hoekom sal ek hierdie tipe werk vir drie jaar ná mekaar wil doen? Wel, die antwoord is maklik. As jy jouself omring deur mense beter en slimmer as jy, leer jy baie, en die beste van alles, wat jy leer by mense is gratis.

Wel, die advertensie het gelees: “Wil jy vir Beeld kom werk?” en toe ek begin “werk”, toe raai ek hulle aan om die advertensie te verander na “wil jy ’n slaaf kom wees vir topjoernaliste van Beeld?”.

Ek het gedog ek gaan skryf vir Beeld, maar ek was meer verkeerd as Bles Bridges se nuwe seun.

Alhoewel ek nie as joernalis gewerk het nie, was ek omring deur joernalis-royalty. Elke dag was ek in die geselskap van Pieter du Toit, Jan-Jan Joubert, Marida Fitzpatrick, Felix Dlangamandla, Herman Verwey, Alet Pretorius, Delia du Toit, net om ’n paar te noem.

BOUWER SKRYF OOK: Die gewonde standbeeld

Ek moes vir Pieter elke dag ’n toebroodjie gaan koop het by die kafeteria op kampus, Felix het my eenkeer Woolworths toe gestuur om vir hom ’n handdoek en plakkies te gaan koop en daar was ’n paar cappuccino-bestellings deur Marida Fitzpatrick ook.

Nou jy wonder seker hoekom sal ek hierdie tipe werk vir drie jaar ná mekaar wil doen? Wel, die antwoord is maklik. As jy jouself omring deur mense beter en slimmer as jy, leer jy baie, en die beste van alles, wat jy leer by mense is gratis.

So van 24-jarige ouderdom af het ek besef dat dit my grootste life hack gaan wees: Omring jouself met mense wat doen wat jy wil doen en wat beter is as jy, want dit is ’n gratis manier om beter te word in wat jy wil doen.

Ek sou nooit daai les geleer het as ek nie ja gesê het om te “werk” vir Beeld as ’n student tydens Aardklop nie.

Baie klippe om by goud te kom

My punt is: Drome is vir mense wat slaap. Jy gaan nie altyd dadelik kan doen wat jy wil doen met jou lewe nie. Soms gaan jy goed moet doen waarvan jy nie hou nie en dit is okay, dit beteken nie dat dit nie waardevol is nie. Mynwerkers kom by die goud uit deur elke dag klippe te kap. Soms gaan jy net moet klippe kap totdat jy eendag by die goud uitkom.

Ek los jou met ’n gesegde van die bekende handmodel en demotiveringspreker Bouwer Bosch: “Jy kan verder loop as hardloop, wees geduldig”.

  • Bouwer Bosch (34) is 'n musikant en filmvervaardiger en is 'n gasskrywer vir Die Student. Hy het BA Kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit studeer en kom ook oorspronklik van Potchefstroom af. Hy woon nou in Randburg.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.