Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Braaidag! Ag, ek bedoel Erfenisdag...

Dis so pas verby, sommige Suid-Afrikaners se gunsteling-vakansiedag: Braaidag.

Die dag waarop daar oor die land heen ’n tjoppie en ’n braaibroodjie op die kole gegooi word, slaai gemaak word, en gunstelingdrankies geniet word.

Nou is die vraag: Is dit werklik waaroor die dag gaan? Braai en kuier?

Nee, dit is nie waaroor dit gaan nie.

Braaidag is in die eerste plek nie Braaidag nie, maar Erfenisdag. Die een dag in die jaar waarop elke liewe Suid-Afrikaner – ongeag geslag, ras, seksuele oriëntasie of geloofsoortuiging – aangemoedig word om hul eie erfenis te gedenk. Dit word aangemoedig met die gedagte dat niemand moet vergeet wie en wat hy is nie en ook nie sal vergeet waar hy vandaan gekom het nie.

Braaidag is in die eerste plek nie Braaidag nie, maar Erfenisdag.

Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu het die beskrywing “Reënboognasie” bedink vir die uiteenlopende kulture, gebruike, tradisies, geskiedenisse en tale van Suid-Afrika. Erfenisdag, wat die eerste keer op 24 September 1995 gevier is, moes ’n viering van dié kleurryke verskeidenheid wees.

Braai steeds jou vleisie, maar moet tog nie vergeet waar jy, jou taal en jou kultuur vandaan kom nie. Dít is tog waaroor Erfenisdag gaan. Wees trots op jou taal, dis ’n besonderse een. Afrikaans is nou al meer as 90 jaar lank ’n amptelike taal (sommige akademici reken dit kan selfs al ouer as 350 jaar wees).

Afrikaans is lid van die Germaanse taalfamilie. (Engels is ook deel van die Germaanse familie indien jy gewonder het). Nederlands is nog ’n familielid en het saam met Jan van Riebeeck in 1652 in die Kaap aangekom. Hierdie Kaapse Nederlands het in kontak gekom met verskeie ander tale, en so het Afrikaans ontstaan.

Braai steeds jou vleisie, maar moet tog nie vergeet waar jy, jou taal en jou kultuur vandaan kom nie.

Afrikaans het sy ontstaan as ’n kombuistaal. Mettertyd het Afrikaans gevorder tot ’n amptelike taal met eiesoortige uitdrukkings, idiome en ’n kreatiewe woordeskat.

Vandag praat ons ’n vorm van Afrikaans wat sedertdien baie veranderinge ondergaan het. Dit ondergaan steeds veranderinge! En dis nie ’n slegte ding nie. Dit beteken die Afrikaanse taal groei en is ver van doodgaan af.

Afrikaans is dan juis so ’n lekker taal. Vra maar vir die hedendaagse bekendes wat beroemd geword het in Afrikaans. Jack Parow wat in Afrikaans kletsrym, Fokofpolisiekar, Bouwer Bosch, Die Tuindwergies, Straatligkinders, Van Coke Kartel, en die res.

In die toekoms kan jy maar gerus seker maak dat jy genoeg treffers het om na te luister wanneer jy die volgende Erfenisdag jou vuurtjie aan die brand steek.

Hopelik was jou vuur hierdie jaar groot, soos net ’n Suid-Afrikaner se vuur sal wees.

Alzena Mulder.

Hopelik het jy heeltemal te veel vleis gebraai, soos net ’n Suid-Afrikaner sou. Ek hoop ook jy het jou musiek heeltemal te hard gespeel, sodat jy uit volle bors saam kon sing.

Indien jy jou brandewyn ’n rapsie sterk gegooi het, hoop ek jy het steeds onthou om jou Afrikaner-erfenis te vier.

Wees trots op hierdie taal wat jy praat, dis ’n beeldskone taal, en wees trots op dit wat die Afrikanervolk gedoen het (soos kaalvoet oor die Drakensberge trek, want ek kan skaars kaalvoet oor die warm teerpad loop).

Ek groet nou tot volgende keer (ek het nog braaibroodjies wat op my wag) en los julle met die volgende woorde van Jack Parow: “Ek is baie trots daarop om Suid-Afrikaans te wees.”

  • Alzena Mulder (24) studeer onderwys aan die Nelson Mandela-Universiteit in Port Elizabeth. Sy kom oorspronklik van Somerset-Oos in die Oos-Kaap.
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Erfenisdag  |  Studente  |  Braaidag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.