Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Christchurch: Wat van SA se eie Islamofobie?
herschelle benjamin
Herschelle Benjamin

Die wêreld het verlede Vrydagoggend skielik deur ’n vergrootglas na Christchurch, Nieu-Seeland, gekyk oor die onmenslike dade van die moskee-skieter met sy dogma van verregse wit baasskap, asof dit iets nuuts is.

Lanklaas het iets my so aan die nerf geraak soos hierdie tragedie, wat dalk teen hierdie tyd reeds minder aandag geniet.

Ek wil kwetsend wees en byvoeg: by jong mense. Dalk kan ons nie glo dat sulke werklikhede steeds bestaan nie, of dat dit ’n beduidende beeld van die mensdom is nie. Of dalk maak ons dit weer eens af as net “nog ’n tragedie” wat nie van toepassing is op ons hier aan die suidpunt van Afrika nie.

Ja, jong man met jou flat white in ’n Kaapse koffiewinkel, ek hoor jou: “Dis mos nie hier nie. Dankie tog vir ons Grondwet.”

Introspeksie

Daar is min oomblikke in ons daaglikse bestaan waar die lewe ons tot introspeksie dwing. Dat iets so ver verwyderd van jouself, so hard kan slaan dat jy nie kan verwoord hoekom jy meegevoel het met die 12 mense wat in die kantoor van die satiriese koerant Charlie Hebdo in Parys dood is, die slagoffers by Ariana Grande se konsert in Manchester, of die stygende dodetal in Zimbabwe en Mosambiek ná die sikloon Idai nie.

’n Mens lees op plakkate politieke partye se slagspreuke waarmee hulle op jou diepste vrese teer in aanloop tot hul politieke skouspel waarby ons as toeskouers elke keer saamspeel.

’n Mens lees op plakkate politieke partye se slagspreuke waarmee hulle op jou diepste vrese teer in aanloop tot hul politieke skouspel waarby ons as toeskouers elke keer saamspeel.

Nee, ek kan nie “terugslaan” as ek elke dag probeer om nét ’n goeie mens te wees nie!

Net soos al die hashtags wat so maklik ons dapperheid op sosiale media uitbeeld, so wys al die sosialemedia-aktivisme ’n lelike spieëltjie van hoe ons die lewe vir ’n pop vat.

Hakiesdraad

Ek moes op die harde manier leer dat my “coloured identity” meer as net ’n Vannie Kaap-meme is en dat dit altyd tweede kom naas ’n menslikheid wat altyd bewaar en aan gewerk moet word. Meestal rebelleer ek oor hoe ons so maklik retoriek en dogmas wat in die naam van populisme en nuutgevonde “wokeness” sommerso aanvaar.

Dis nog ’n groot euwel van ons tyd.

LEES OOK: Dís hoekom sosiale media jou depressief maak

Ek ken die woorde wat ons praat agter hoë mure en die ruimtes waarin ons gemaklik voel om die wreedste van ons menswees uit te leef met soortgelyke mense wat ons nie sal aanvat nie.

Dis asof ’n “bietjie” verdraagsaamheid goed genoeg is om ander te verstaan en te aanvaar.

Dis asof ons die hakiesdraad om ons identiteite net stywer maak as ander nader kom en saam met ons begin leef. Onthou hoe xenofobies was ons ’n paar jaar gelede met ons mede-Afrikane.

Tweegesig

Hier in Suid-Afrika is borders lankal nie ’n ding nie, want ons het sedert 1994 gemaklik geraak in ander borders wat ons nou grondwetlik uit mekaar se pad hou. Altans net vir ’n tydjie en soos geld of grond dit kan vermag.

Dalk het Robert Frost in sy gedig “Mending Wall” ’n punt beet: “Good fences make good neighbours.”

Die Christchurch-oomblik laat my dink aan ’n voorval in 2017 in Kalkbaai toe die mure van ’n moskee met bloed besmeer is. ’n Paar maande vroeër is die snoet van ’n vark by die ingang van ’n moskee in Simonstad gelos.

Die werklikheid van Christchurch leef dalk net so onder ons. Daar is soveel gevalle van religieuse en seksuele geweld wat nie die nuus haal nie, dis asof dit niks is nie.

So, met ons verskillende kulture en tale en ons aanspraak dat Suid-Afrika aan ons almal behoort, moet ons dieper in die spieël kyk waarin ons net so vrot en tweegesig staan.

Die werklikheid van Christchurch leef dalk net so onder ons. Daar is soveel gevalle van religieuse en seksuele geweld wat nie die nuus haal nie, dis asof dit niks is nie.

In ’n wêreld waar ekstremisme en populisme sy opgang maak met die verkiesing van al hoe meer verregse presidente, wys noodlottige en skadelike ideologieë ’n ander kant van die spieël wat vir te lank in ’n wasem gehul was.

My Islamofobie

Dalk leer Christchurch ons iets anders oor ons grappies oor halaal-kos en die student wat met haar hijab op die kampus verbyloop.

Dalk leer ons iets by die talle Christene wat om die moskee gaan waak het, of by Jacinda Ardern, premier van Nieu-Seeland, wat op ’n medemenslike manier sterk leierskap toon, en haar skerp veroordeling van die aanval.

Die wonderlike en talentvolle plaaslike aktrise, skrywer en kabaretkunstenaar Faith Kinniar het met haar kabaret Valencia hierdie wêreld van my eie onbewustelike Islamofobie aan myself geopenbaar.

Dis altyd goed om krities te wees oor onsself en die wêreld(e) wat ons skep of nie skep nie, maar wel onderhou.

Laat Christchurch ons weer wakker maak oor ons eie Islamofobie en hoe ons land nie immuun is vir soortgelyke onmenslike tragedies nie.

  • Herschelle Benjamin (22) is besig met 'n meestersgraad in drama en teaterstudies aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is oorspronklik van Piketberg en is tans 'n intern by Netwerk24 se kunsredaksie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Volg Die Student op Instgram!
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Verkiesingdiestudent  |  Verkiesing2019  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.