Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Cyril, ek het matriek op ’n leë maag geskryf'

Beste Cyril,

Ek is Romano Austin Bradley Claassen. Ek is tans 22 jaar oud en ek studeer aan die Mowbray-kampus van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT). Ek studeer onderwys en ek spesialiseer in twee huistale, naamlik Afrikaans en Engels.

Ek is oorspronklik van Oudtshoorn en Dysselsdorp in die Klein-Karoo, maar woon nou in Kaapstad. My omstandighede het my gedruk, sodat ek moes Kaap toe trek om dit te verander.

Romano Claassen.
Romano Claassen.

Somtyds het ek gevoel dat ek te haastig is vir iets om te gebeur en dis daar waar my oë begin oopgaan het, toe ek besef het dis waar teleurstellings inkom.

Ek het altyd ’n lae selfbeeld gehad. Ek het teruggetrokke en minderwaardig gevoel. Ek het altyd myself bevraagteken: Hoekom is die lewe vir ander lekker en is dit so moeilik vir my en my familie?

My ma het gesukkel om kop bo water te hou en ons het basies net op staatstoelaes staatgemaak. Ek moes my matriek op ’n leë maag gaan skryf en saans met ’n kers sit en studeer.

Daar was ’n tyd dat ek my ma sien huil het. Sy het in die aand loop en geld soek om iets op die tafel te sit. Op daardie oomblik het ek nie meer geweet wie of wat ek is nie. Ek het gevoel ek wil saam met my ma huil.

Ek het tot God gebid en by Hom gepleit, want die hartseer en die moedeloosheid het my oorweldig. Ek was op breekpunt oor verkeerde besluite.

In hierdie tye was my ma se woorde aan my: “My kind, die foute wat jy gemaak het, bepaal nie wie jy is nie. Ek ken jou potensiaal. Ek weet waartoe jy in staat is. Ek ken die mens wat jy van binne is. Ek ken jou mooi hart en jou sagte persoonlikheid. Ek sien ’n pragtige mens wanneer ek na jou kyk.”

Daardie woorde het my gemotiveer.

Armoede is ongevraagd

Deur die beproewings wat ons as gesin moes deurmaak, het ek geleer om te gee. Nie omdat ek geld het nie, maar omdat ek weet armoede was ongevraagd.

Ek het ook ’n baie belangrike les daaruit geleer: dat jy nooit jou drome moet laat verlore gaan nie. Armoede was my onderwyser in daardie tydperk, maar ek glo ek is bestem vir sukses.

My hart se begeerte was altyd om BA Kommunikasiekunde te studeer omdat ek ’n nuusaanbieder wou word. Ek het in 2014 gematrikuleer en in 2015 my eerstejaar aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi.

“My kind, die foute wat jy gemaak het, bepaal nie wie jy is nie. Ek ken jou potensiaal. Ek weet waartoe jy in staat is. Ek ken die mens wat jy van binne is. Ek ken jou mooi hart en jou sagte persoonlikheid. Ek sien ’n pragtige mens wanneer ek na jou kyk.”

Ongelukkig kon ek nie die oorblywende twee jaar voltooi nie, want daar was nie geld nie. Ek het die universiteit nog geld geskuld en op ’n lening studeer.

Ek het toe aansoek gedoen om onderwys aan die KSUT te studeer, maar die kursus was reeds vol vir daardie jaar.

Op 19 Januarie die volgende jaar is ek uiteindelik aanvaar by KSUT. Ek het ’n NSFAS-beurs ontvang en ek het dit met ope arms verwelkom.

Ek het pas my derde jaar as onderwysstudent voltooi en is volgende jaar in my finale jaar. Ek het ’n groot passie ontwikkel om kinders te onderrig en ek help waar ek kan.

Niks in die lewe is vir my moeilik nie, want ek is tot alles in staat deur liewe Jesus wat my krag en leiding gee.

Ek werk tans vir Pick n Pay as ’n frontline supervisor, deeltyds om my huur en taxi-koste te dek.

LEES OOK: Cyril, skryf jou eie storie

Baie mense vra my hoe kry ek dit reg om voltyds te werk en te studeer en my antwoord is: Ek ken my omstandighede en ek weet waarvandaan ek kom. As ’n mens uithouvermoë in die lewe het, kan ’n mens enigiets bereik.

My boodskap aan elke individu is om hard te werk.

Hou op om jou omstandighede te gebruik as ’n verskoning, want dit bestaan nie in my woordeskat nie.

Onthou, liewe Jesus help net diegene wat hulself help.

Is jy 'n student en wil jy R5000 wen? Klik hier.
Beste Cyril

Meer oor:  Menings  |  Bestecyrildiestudent  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.