Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Cyril, ek vrees die Khoi-San verloor sy woorde

Beste Cyril

My naam is Lynthia Julius. Ek is ’n nagraadse filosofie-student aan die Universiteit van die Vrystaat. Die kwessie waaroor ek aan u skryf, is een wat baie na aan my hart is, dis iets wat deel van my menswees is.

Ek is die agterkleinkind van ’n Namavrou, Magrieta de Wet. Ek word as kleurling in die land geklassifiseer, my huistaal is Afrikaans. My ma vertel my dat wanneer my oumagrootjie se broers en susters altyd kom kuier het, het hulle onder die skerm gesit en Nama gepraat. Dit was die taal waarin sy met haar god gepraat het, waarin sy gelag het, waarin sy stories vertel het.

Tog is dit vir my vreemd, president, dat die leuse van die land wat ons altwee liefhet die /Xam-uitdrukking !ke e: /xarra // ke is, maar nie een van die Khoi-tale word as amptelike taal erken nie.

Lynthia Julius.
Lynthia Julius.

Ek haal vir u die woorde van dr. Graham Mckay aan: “Recognition of indigenous languages and support for indigenous language programmes stand alongside land rights, health, justice, education, housing, employment and other services as part of the overall process of pursuing social justice and reconciliation. One might go so far as to say that without recognition of the Indigenous people and their languages, many other programmes will be less effective, because this lack of recognition will show that the underlying attitudes of the dominant society have not changed significantly.”

My ma kan in Nama tel tot by tien; toe ek nou die dag probeer, toe kom ek net tot by drie. Twee generasies, sewe minder Nama-woorde.

My ma kan in Nama tel tot by tien; toe ek nou die dag probeer, toe kom ek net tot by drie. Twee generasies, sewe minder Nama-woorde. Ek kan nie aan u beskryf wat dié besef aan my binneste gedoen het nie. Dit het my stil laat sit en hard laat dink. Ek het hoop gehad met oudpresident Thabo Mbeki se “I am African”-toespraak waarin hy gesê het “I owe my being to the Khoi and the San”.

Ek was ’n kind, ’n kind met hoop. Maar hoe ouer ek geword het, hoe meer het ek bewus geraak van wat met die Khoi-San- gemarginaliseerde groepe gebeur het. Hulle tale het spookdorpe geraak, hulle kultuur iets wat net die grootmense van vertel het. President, as die eerste inboorlinge van dié land, hoe is dit dat daar gesig gedraai word wanneer dit by hulle kom?

Die klieks en die kuns

Dit is welbekend dat baie van ons amptelike tale wel beïnvloed is deur die Khoi-tale. Die klieks, die uitsprake, die kuns daarvan. Ek het Erfenisdag by die braaivleisvuur gestaan. My broer het Nama-musiek aangesit. My ma en suster het genamastap. Ek het stil geword, half uit hopeloosheid, half uit skaam, want hoe vier ek die erfenis van my voorouers in ’n land wat nie erkenning aan hulle gee nie?

Rotstekeninge en optekeninge in geskiedenisboeke is twee verskillende dinge. En as ek eendag kinders het, president, en hulle vra oor Namakwaland, Nama, suurdeegbrood in die buiteoond bak en onder ’n skerm sit, wat sê ek vir hulle?

Hoe leer ek hulle vier wat deur hulle ma se bloedstroom loop, die geskiedenis wat in haar hare deursingdans? Taal is mag, dis ’n wêreld, dis ’n draer van kultuur. Daar word in die regering gepraat van grondhervorming, van onteiening sonder vergoeding. Daar word gepraat van die onreg van die verlede, maar ek hoor nie van die rol van die Khoi, van hul gemarginaliseerdheid en taal in toesprake in die parlement nie.

Nou, president, ek vra nie vir gratis tersiêre onderrig nie. My ma het matte gewas in Mediclinic, my pa het meubels gemaak sodat ek in ’n toga my rektor se hand kan skud. Ek weet van hard daarvoor werk.

Ek is maar ’n jongeling in die land. Gebore in 1993. Ek het baie om nog te beleef, baie om nog in die lewe te leer, maar ek sien wat om my plaasvind, president. Ek sien hoe Khoi-skoliere sukkel met hul tweede taal, Afrikaans, wat nou nie meer ’n onderrigtaal in universiteite is nie. Ek sien die onreg teenoor sulke skoliere en studente.

Die filosoof Immanuel Kant het eens gevra wat hy kan weet, wat hy kan doen en waarvoor hy kan hoop. Ek het gevra wat ek kan weet, ek weet dat die Khoi-San-tale onreg aangedoen is. Ek weet waarvoor ek hoop, dat hulle tale as amptelik erken sal word.

Wat kan ek en u doen? Ons kan erkenning aan hulle gee, die erkenning wat hulle menswees, kultuur en taal toekom.

Nou, president, ek vra nie vir gratis tersiêre onderrig nie. My ma het matte gewas in Mediclinic, my pa het meubels gemaak sodat ek in ’n toga my rektor se hand kan skud. Ek weet van hard daarvoor werk.

Ek vra wel aan u om my nageslagte eendag op die skoolbanke die lig te laat sien van ’n amptelike taal waarin sy haar god aangeroep het.

By voorbaat dank.

Lynthia Julius

  • Lynthia Julius (25) studeer aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy kom oorspronklik van Springbok.
  • Hierdie brief is 'n inskrywing vir Die Student se Beste Cyril... kompetisie.
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Bestecyrildiestudent  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.