Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Cyril, hoe wil jy onthou word?

Beste Cyril,

Die eerste keer toe ek gesien het hoe klein ’n skip se roer in vergelyking met die res daarvan is, het dit my verstand te bowe gegaan: Hoe kan iets so klein soos daardie roer daardie logge staalreus stuur?

Wat geld vir die reus van staal, geld die reus van geld, gemeenskap, gesin, genot en geluk. Soos die geval met die skeepskaptein, so het elke gesin sy bestuurder wat die besluite neem. ’n Maatskappy se uitvoerende hoof verrig die taak, en wat ’n taakmag betref – die bevelvoerder.

Ons land, Meneer die President, is ’n skip met u aan die roer – hierdie skip soek ’n skipper met visie wat voor vat, vasvat, raakvat en met doelgerigte vasbyt die dobberende en oënskynlik doellose samelewing met vaardigheid na veiligheid stuur.

Lemuel Blignaut.
Lemuel Blignaut.

Jy is ons rolmodel

My naam is Lemuel Blignaut en tans studeer ek BSc Teoretiese Fisika aan die Universiteit Stellenbosch. As jong Suid-Afrikaner, met my oog op my eie en die land se toekoms gerig, is my vraag aan u die volgende, ’n vraag wat ek seker is ek met menige ander deel: Waarheen stuur u ons? Na chaotiese gekheid of geskiedkundige grootsheid?

In ’n era van fopnuus en ’n menigte wat paradeer as ruggraatlose mannekyne het ek die ANC se saamtrek einde 2017 met groot belangstelling gevolg.

Jare gelede het ’n wêreldlegende, die voormalige president Nelson Mandela, u uitgewys as ’n moontlike toekomstige president van die land, en wie is ek om te verskil? Dit was broodnodig vir Suid-Afrika se toekoms om ’n man van inbors, ’n man wat gegroei het uit die werkersklas as rotsboorder in die dieptes van die aardkors, tot die stuurman in die hoogste pilaargang aan die roer te hê. ’n Man wat nie gesit en treur het agter die skerm van kragteloosheid en armoede nie, maar wat ’n rolmodel geword het vir almal.

Die Ramaphosa-Kolisi-koalisie

Ons hoef nie ver te gaan soek na voorbeelde wat die impak van ’n kaptein op die res van die span – en die land – het nie. Dink aan die impak wat die kombinasie van oudpres. Mandela en Francois Pienaar gehad het – die euforie wat geheers het – en die inspirerende hoop wat dit gebring het. Nou, miskien vir die eerste keer sedert daardie goue oomblik in ons land se jong demokrasie, het die land weer ’n kombinasie van onbetwiste, gewaardeerde en geregverdigde leierskap – leierskap wat vir seker die ondersteuning van die breë gemeenskap het.

Kan die Ramaphosa-Kolisi-koalisie die land weer met vertroue vul?

U moet u politieke teenstanders, intern en ekstern, systap en terselfdertyd korrupsie, die nasleep van die berugte Zupta-tragedie en ’n oneffektiewe dog uitspattige staatsdiens, lak. Soos die ondersoeke vorder, vermeerder die inkriminerende inligting.

U moet u politieke teenstanders, intern en ekstern, systap en terselfdertyd korrupsie, die nasleep van die berugte Zupta-tragedie en ’n oneffektiewe dog uitspattige staatsdiens, lak. Soos die ondersoeke vorder, vermeerder die inkriminerende inligting.

Die pendulum is egter besig met sy onafwendbare terugswaai vanaf ’n toestand wat ons sommer liefderyk “staatskaping” gedoop het, na ’n – hopelik – meer stabiele punt waar ons as burgers kan weet dat die leiers wat deur ons verkies is vir ons werk, en nie vir hul eie sakke en gewin nie.

Die venster vir vertroue wen, koester en bou is klein – bitter klein – en om dit alles te kroon, net soos mens sou hoop dat daar nou tydelike stabiliteit sal wees, siedaar, is die 2019- nasionale en provinsiale verkiesings om die draai.

Hoe wil u onthou word?

As meester-strateeg en -onderhandelaar was u al menigmaal in soortgelyke situasies. Hierdie is u speelveld. Dit het egter die potensiaal om die spreekwoordelike appelkar om te gooi. U vernuf gaan tot die uiterste getoets word. Die vraag is egter: Hoe wil u onthou word?

As die leier van ’n party wat ’n geleentheid gehad het om die land te lei tot grootsheid, maar dit verbrou het, of as ’n staatsman wat oor grense heen mense byeengebring het en wat heling en herstel gebring het – en die skip gestuur het na waters van rus en oorvloed.

Meneer die President, hoe meer ek van ons land sien, hoe liewer raak ek vir hom. My droom is dat my kinders eendag hier sal kan grootword en sê hulle is trots Suid-Afrikaans. In ’n stadium het die kanse daarvoor maar skraal gelyk, meneer, maar ek hou daarvan om te glo dat die kanse sedert 15 Februarie vanjaar effens beter lyk. Is ek verkeerd? Ek hoop nie so nie.

’n (Hopelik) trotse Suid-Afrikaner

Lemuel Blignaut

  • Lemeul Josua Blignaut (19) studeer BSc Teoretiese Fisika aan die Universiteit Stellenbosch. Hy kom van Pretoria.
  • Hierdie brief is 'n inskrywing vir Die Student se Beste Cyril... kompetisie.
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Bestecyrildiestudent  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.