Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Cyril, jy moet dapper wees

Beste president Cyril

Wat ek eintlik die graagste wil weet oor die mense in wie se hande die bestuur van ons land oorgelaat is, is of julle ’n WhatsApp groep het? As julle het, is dit ’n WhatsApp-groep waarop ek graag wil wees.

Alet Janse van Rensburg.
Alet Janse van Rensburg.

Tydens my laerskoolloopbaan het ek een keer in ’n klas gesê ek wil graag die president van Suid-Afrika word. Die antwoord uit alle rigtings was dat ek nie die regte velkleur het vir die pos nie. Ek is ’n wit Afrikaanssprekende vrouestudent aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Ek het in die Oos-Kaap grootgeword en gematrikuleer aan ’n multikulturele plattelandse skool. Hoewel ek nog steeds baie passievol is oor Suid-Afrika, is ek baie bly dat ek nie meer president wil word nie.

Die probleem hiermee is egter dat die rede waarom ek nie die president van Suid-Afrika kon word in my eie kinderwêreld nie, was my wit vel. Nie die ander realistiese redes soos ’n gebrek aan belangstelling in politiek en ander passies wat ek eerder wou najaag nie.

’n Wit vel staan in baie jong ambisieuse mense se pad om ook leierskapsposte in besighede te beklee en daarom wil hulle vlug uit Suid-Afrika na ’n plek waar hulle voel dat hulle ook ’n regverdige kans staan op bevordering en aanstelling.

Al hoe meer jong mense wil landuit

As daar iemand is wat sy werk moet doen vanuit ’n benadeelde posisie, maar nie as gevolg van sy eie toedoen nie, is dit jy, meneer Ramaphosa. En dít is nie apartheid se skuld nie. As jy maar net kon stort om die stigma van korrupsie, leuens en selfverryking wat danksy jou voorganger aan jou posisie kleef, af te spoel, sou jou werk seker baie makliker gewees het.

Dit is nie net die post-waarheid-era waarin ons leef wat die wantroue in die Suid-Afrikaanse regering aanvuur nie. Ons ervaring laat ons soos iemand wat uit ’n slegte verhouding kom: wantrouig en skepties. Moenie vir ons sê jy is nie soos ander presidente nie, meneer Ramaphosa, want dis wat alle presidente sê om in ons beursies te kan inkom!

Wat ek eintlik die graagste wil weet oor die mense in wie se hande die bestuur van ons land oorgelaat is, is of julle ’n WhatsApp groep het? As julle het, is dit ’n WhatsApp-groep waarop ek graag wil wees.

Ek glo ’n mens moet “eer gee aan dié wat dit toekom”. Ek eer jou, meneer Ramaphosa, vir die beleggings wat jy al verseker het. Ek glo in jou pogings om die ekonomie te verbeter en die las op die verbruiker te verlig. Dit is die eerste stappies tot die hervestiging van ’n vertrouensverhouding tussen die mense van Suid-Afrika en die regering.

Maar hoe lank moet jong wit mense nog ontmoedig word deur ’n beleid wat hulle benadeel? Hoe lank totdat daar weer regverdigheid ontstaan, meneer Ramaphosa? Ek kan my nie indink om iewers anders as in Afrika te woon en werk nie, maar al hoe meer studente erken openlik dat dit vir hulle voel asof hulle geen toekoms hier het nie.

Kommunikasie hieroor is uiters belangrik om te verhoed dat die jong mense wat in Suid-Afrika met Suid-Afrikaanse geld opgelei word, hul talente oorsee gaan gebruik om daar die ekonomie te bevorder.

Die belang van ambisie

Ter afsluiting, ek wil nie hê daar moet vir enige laerskoolkind gesê word dat hulle oor die kleur van hul vel iets nie kan vermag nie. Ons kinders moet aangemoedig word om die grootste uitdagings aan te pak met hul harte vol hoop dat hulle sal kan oorwin.

Dit is met daardie ingesteldheid wat mense werk skep en die gemeenskap opbou en nie met die vooropgestelde idee dat hulle nooit die hoogste sport sal bereik nie.

Ek bid dat jy sal lei deur die voorbeeld wat jy stel in elke saak – ongeag hoe na aan jou vel dit is.

Die doelwit behoort te wees om staatskole te skep waarheen die ministers hul eie kinders sal stuur en staatshospitale waarheen meneer self sal gaan vir behandeling en operasies. Anders is meneer se regering net so sleg soos die apartheidsregering wat sekerlik aangedring het daarop dat daar niks fout was met die “nieblanke skole en geriewe” nie, maar tog hul eie geriewe verkies het.

Dié beginsels geld elke aspek van die lewe, ongeag waarin jy glo: Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê en wees lief vir jou bure soos vir jouself. Ek bid vir meneer die dapperheid toe om lief te wees vir al meneer se bure, ongeag jul verskille.

Ek bid dat jy sal lei deur die voorbeeld wat jy stel in elke saak – ongeag hoe na aan jou vel dit is.

Jou wantrouige buurvrou

Alet

  • Alet Janse van Rensburg is 'n tweedejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Sy studeer BA kommunikasie en kom oorspronklik van Cradock in die Oos-Kaap.
  • Hierdie brief is 'n inskrywing vir Die Student se Beste Cyril-kompetisie.

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Bestecyrildiestudent  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.