Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Cyril, ons is moeg en bang
Lizne Turvey
Lizné Turvey.

Beste Cyril,

Mnr. die president, mnr. die leier, mnr. die baas van die Suid-Afrika-plaas.

Weet u hoe dit voel om 11:00 op ’n Sondagoggend ná kerk en ná ’n salige preek en koppie tee by die huis te stop en onmiddellik tot die stop-by-die-plaashuis-uitklim-en-paraat-wees-protokol te moet oorgaan?

Weet u hoe dit voel om ná ’n Vrydagaand se braai by die hek aan te kom en onmiddellik te wonder: Hoekom storm die honde jou nie soos gewoonlik nie? Het hulle iets oorgekom?

Weet u hoe dit voel om bang te wees? So bang dat dit voel asof iemand jou hart vasklou en jou asem vir jou inhou? Weet u hoe voel dit om in jou eie huis die dood in die gesig te staar?

Ek wonder of u weet met al die veiligheidsmense om u.

Ek weet en ek is maar net Lizné Turvey, ’n 21-jarige BCom (rekeningkunde)-honneurstudent aan die Universiteit van Pretoria.

Ek wonder of jy al so bang was dat dit voel asof iemand die wind uit jou seile geruk het. Ek ken u nie, maar ek is seker u weet nie hoe dit voel nie.

Die plaas is vol Trellidors

My hele lewe het ek op die plaas gebly. So ook my pa, my oupa, my oupagrootjie en wie weet hoe ver terug in my nageslag. Die plaas is in ons en ons is in die plaas. Die plaas wat eens so mooi was en die plaas waar ’n mens vry kon voel en baljaar.

LEES OOK: Cyril, moet vrees dan nou deel van ons DNS word?

Die einste woord “plaas” het egter nou soos ’n vloekwoord in my woordeboek geword. Die vry en baljaar is weg. Dis nou amper ’n kluisenaarsbestaan met hoë elektriese heinings en sement wat ’n meter diep onder die grond onder die heining gegiet word. Daar is Trellidors voor elke deur, dan nog die alarm en die veiligheidshek in die middel van die gang.

Meneer, jou mense is moeg en bang

Maar kom ons praat oor die onregverdigheid.

Hoe onregverdig is dit nie dat ons onsself moet toesluit in ons eie “safehouse” net sodat ons onaangeraak bly?

Meneer, wat is u plan?

Ek sit op ’n reënerige middag in Pretoria en wonder elke keer of ek die u moet tik as ek jou aanspreek want die u was heeltyd om respek te betoon, maar hoe verder ek tik hoe minder wilskrag het ek om jou nog u te noem.

Ek weet daar is boere wat by jou smeek om hul pyn en trauma aan te hoor en dit ’n topprioriteit in ons land te maak.

Hierdie brief gaan seker nooit by jou uitkom nie, maar in dié stadium van die geveg is dit al wat ’n mens seker kan doen.

Meneer, jou mense en boere is moeg.

Ons is moeg en bang.

Wat gaan u doen?

Lizné Turvey

  • Lizné Turvey (21) studeer Bcom (Rekeningkunde) aan die Universiteit van Pretoria. Sy kom oorspronklik van Modimolle, Limpopo.
  • Hierdie brief is 'n inskrywing vir Die Student se Beste Cyril... kompetisie.
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Bestecyrildiestudent  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.