Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Daar ís oplossing in ons geskiedenis

Geskiedenis is nie ’n vervelige vak nie. Dit kan wel op ’n vervelige manier aangebied word.

Op skool of in ’n student se voorgraadse jare is die kanse goed dat hul kennis oor die verlede gebrekkig sal wees.

Ek het onlangs gehoor dat die skrywer Clare Mulley geskiedenis beskryf as die verhouding wat ons in die teenswoordige tyd met die verlede het.

Indien dit so is, dan is dit broodnodig dat elke Suid-Afrikaner die verlede behoorlik bestudeer. Hoekom? Is dit nie onmoontlik om alles wat in die verlede gebeur het terug te roep nie? Hoe sal die verlede ’n mens se honger kan stil of jou kar se brandstoftenk kan volmaak?

Geskiedenis help met die diagnose van sosiale kwessies

Dit is presies die tipe argument wat die historici William Strauss en Neil Howe gevind het en in hul boek Generations: The History of America’s Future gepubliseer het.

Volgens hulle was dit teen die einde van die 80’s nie moontlik vir die Amerikaanse burgery om hul lewens as deel van die groter trajek van tyd te sien nie.

Dit is tyd om historici toe te laat om oor meer te skryf as net die apartheidsjare of die laaste oorlog met Groot Brittanje.

Die algemene gevoel was dat die gewone mens se lewe nie belangrik genoeg was en dit nie saak gemaak het wat hulle in hul lewens doen nie, net omdat dit nie na iets merkwaardigs sou lei nie. Geskiedenis is mos net eenvoudige en eensydige verhale oor bekende presidente, veldslae, skandale en oorloë.

Dit was duidelik dat die Amerikaanse burgery die hele punt van geskiedenis gemis het. Ironies, dit was in ’n land waar geskiedenis steeds deel van die hoërskoolleerling se kurrikulum was, al was dit in die afgewaterde vakgebied van sosiale studies.

Indien hulle hul pragmatiese benadering tot sosiale kwessies ver genoeg uitgebrei het om geskiedenis deel te maak van enige analise, sou hulle vinnig agtergekom het hoe noodsaaklik geskiedenis vir elke sosiale kwessie se diagnose is.

Alle probleme het 'n oorsprong in die verlede

Elke probleem wat die mens in die gesig staar, het ’n oorsprong in die verlede en indien die oorsaak nie behoorlik bestudeer word nie, sal ’n moontlike oplossing nie maklik, indien ooit, gevind word nie.

Suid-Afrika moet natuurlik nie dieselfde fout begaan nie. Ons het ’n lys van uitdagende sosiale kwessies wat nie oornag opgelos gaan word nie en elkeen het ’n oorsaak diep in ons verlede.

Kom ons kyk na die sosiale kwessie van behuising. Hoekom is dit so moeilik om ’n behoorlike historiese narratief oor die geskiedenis van behuisingsprojekte in Suid-Afrika te vind? Sekerlik het voormalige administrasies wat vanuit die Uniegebou regeer het, hul eie behuisingsprobleme gehad en ’n plan gehad om vir werkers en haweloses skuilings teen die elemente te voorsien, al was dit nie gratis nie.

Hoekom is dit dat huise wat gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu gebou is, steeds staan – die meeste in ’n goeie toestand en steeds bewoonbaar? In vergelyking met die Hop-huise wat die teenwoordige owerheid sedert die laat 90’s begin bou het, is dit ’n regverdige vraag om te vra!

Geskiedenis kan help om foute te voorkom

’n Mens kan ook gebruik maak van historiese kennis om enige moontlike foute te voorkom. Natuurlik word verwag van alle ampsdraers om wel belese te wees in die institusionele geskiedenis wat op hul posisie betrekking het. Dit is jammer dat dit nie tans oral die situasie in Suid-Afrika is nie. Is dit te veel om te vra dat elke polisiekonstabel wat uit die polisie-akademies kom, die geskiedenis van Suid-Afrika se polisiemagte moet ken voordat hulle begin om misdaad te bekamp?

Suid-Afrika het ’n lys sosiale kwessies en omdat die historiese oorsprong van elkeen nie die nodige aandag kry nie, is ons vasgevang in ’n maalkolk van agteruitgang.

Miskien, maar hoekom? Hoe sal dit hulle help om hul pligte beter uit te voer? Dink net hoe meer lojaal en verbonde die gewone konstabel, en selfs die generaal, sal wees indien hulle weet hoe hul loopbaan in die polisie verder bou op die fondament wat voor hul tyd gelê is.

Dit sal ’n trots kweek wat ’n mens net in die beroemde polisiemagte soos dié in New York en in Londen teëkom.

Dit is duidelik dat die geskiedenis van Suid-Afrikaanse polisiëring, misdaad en die gevangenis die aandag moet kry wat dit verdien. Selfs die Nasionale Party-regerings het dit besef met sy polisiemuseums, byvoorbeeld in Pretoria, wat moes dien om die “blanke” Suid-Afrikaner van misdaad af te skrik en om penkop-polisiemanne die nodige raamwerk te gee om hul nuwe posisie in die samelewing te kan verstaan.

Geskiedenis kan ook help met debat oor grondhervorming

Dit is ooglopend uit die bovermelde voorbeelde dat daar wel ’n pragmatiese element in die geskiedenis lê wat tot die nut van die publiek, in geheel, kan dien. Hoekom word al ons sosiale kwessies dan nie sorgvuldig vanaf die eerste historiese feit behoorlik bestudeer nie?

Dit is ’n begrip wat selfs die staatshoof en sy party se uitvoerende raad ooglopend vergeet het. Ek verwys natuurlik na grondhervorming.

Daar is ’n magdom bronne wat ’n mens eers moet bestudeer voordat die gedagte om te onteien eers oorweeg moet word. Kan die wit eienaars wie se grond onteien was om deel van die NP se beplande tuislande te vorm nie ook hul grond nou gratis bekom nie? Dit het mos ná 1913 gebeur?

Indien die owerheid steeds sy oogklappe wil behou oor hoe hy die grond van Suid-Afrika wil herverdeel, het dit nie al voorheen gebeur nie? En wat was die uitkoms? Sal die teenwoordige generasie van beamptes nie die komende generasies ondermyn met hul onteiening sonder vergoeding nie?

Is die skrywer die enigste skepsel wat verwag om hierdie soort vrae in enige debat oor grondhervorming te sien?

Suid-Afrika het ’n lys sosiale kwessies en omdat die historiese oorsprong van elkeen nie die nodige aandag kry nie, is ons vasgevang in ’n maalkolk van agteruitgang.

Dit is tyd om historici toe te laat om oor meer te skryf as net die apartheidsjare of die laaste oorlog met Groot Brittanje.

’n Mens sal verbaas wees watter soort oplossings in die historiese feite skuil wat dalk die opkomende generasie kan help om die uitgediende opvattings van vandag uit die weg te ruim; en om die sosiale kwessies een vir een te smoor.

  • Emile Coetzee (31) is ’n student in geskiedenis aan die Noordwes-Universiteit. Hy is besig met sy meestersgraad en doseer ook deeltyds in dié vak. Hy kom oorspronklik van Pretoria.
Meer oor:  Menings  |  Geskiedenis  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.