Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Dekolonisering: Kom ons ontdek eerder as beskuldig
Universiteite, onder meer die Universiteit Stellenbosch, het hulself daartoe verbind om verskeie graadprogramme se kurrikulum te herontwikkel met ’n addisionele lens van gedekoloniseerde kennis.

Daar is ’n groot uitset van navorsing, gesprekke, angs, wanhoop, opgewondenheid en skerpsinnigheid wanneer dit by die debat oor dekolonisering kom. Hierdie term is reeds toentertyd gemunt en is nie ’n konsep of gesprek wat nuut is in ons tydsgewrig nie. Hy het wel die nuwe akademiese vloekwoord geword na sy voorgangers genaamd transformasie en inklusiwiteit.

Universiteite, onder meer die Universiteit Stellenbosch, het hulself daartoe verbind om verskeie graadprogramme se kurrikulum te herontwikkel met ’n addisionele lens van gedekoloniseerde kennis.

Dekolonisering is nie meer ’n onbekende of taboe vraagstuk nie, maar dit leef in die doen en late van ons alledaagse bestaan. Dit is wel ’n jammerte dat dekolonisering steeds in die regverdigingsproses eerder as in die konstruksie daarvan is.

Hoe verstaan ek dekolonisering?

Kom ek verduidelik my verstaan van dekolonisering. In die eng teoretisering daarvan is dit die totale ontdoening en ondergrawing van kolonialisme. Dit is om alle aspekte van die koloniale verset soos uitbuiting, wit heerskappy, die voortsetting van patriargie, kapitalisme en imperialisme totaal ongedaan te maak.

Frantz Fanon het reeds in 1963 in The Wretched of the Earth in sy geweldstesis vir totale psigiese en fisiese emansipasie deur dekolonisering gevra. Sy voorstel is om die naakte geweld van die koloniale masjien met groter geweld te oorrompel. Daarmee vra hy die vernietiging van die verdrukker en die verdrukte.

In die hedendaagse gesprekke is dit geskoei op prosesse, stelsels en interaksies wat ons van ons menslikheid weerhou. Dis ’n vraagstuk om ons menslikheid te herontdek.

Poka Laenui beskryf die ontdekkingsproses van dekolonisering in vyf stappe. Dit begin by herontdekking en herstel. Dit spoel oor in ’n proses van rou wat aktiewe treur behels en terselfdertyd geskiedenis skryf om te sê ons gaan nie weer dieselfde foute begaan nie. Dit is ’n verifiëring van trauma en pyn. Dít word die energie vir saam droom en debatteer oor ’n nuwe maatskaplike orde wat hom verbind tot gekombineerde stemme en verteenwoordiging en ’n duidelike aksieplan.

Ten laaste word die proses voltooi deur te doen.

Maar bowenal is dekolonisering in die stamina van dié wat werk om ’n wêreldorde tot stand te bring waar dinge ontdek kan word tot iets wat ons weer wek uit ons alledaagse ingeslaapdheid.

Die groter matriks wat dekolonisering vandag probeer ongedaan maak, is kolonialiteit. Nelson Maldonado-Torres verwys na langdurige patrone van mag wat tot stand gekom het as ’n resultaat van kolonialisme. Dit is maghebbendes wat kultuur, arbeid, intersubjektiewe verhoudinge en kennisproduksie ver buite die streng limiete van die koloniale administrasie definieer.

Dus, kolonialiteit oorleef kolonialisme. Dit word in stand gehou in boeke, in die kriteria vir sukses, in die gesonde verstand, in selfbeeld en in die aspirasies van die moderne self. As moderne subjekte is ons dus besig om kolonialiteit elke dag in te asem.

Achille Mbembe, as een van Afrika se voorste skrywers oor kolonialiteit, sê die grootste besef van sy postkoloniale kritiek is die verpligting tot die leerproses. Hy sê ons opvoeding het ons goed toegerus om baie dinge te weet, maar dit het ons uitstekend toegerus om oningelig oor die meeste van die wêreld te wees. En ’n arrogansie oor ons onkunde.

Ons grondwetlike bedeling is al ’n hewige tydjie besig met dekolonisering en gebruik die objektiewe-normatiewe waardegedrewe matriks. Dit is ’n waardegedrewe ondersoek wat voorstel dat elke geregtelike ondersoek nie in isolasie bekyk moet word nie, maar in ’n historiese konteks en agtergrond, asook met die aanneming van die Grondwet self.

Die Handves van Menseregte moet dus saam met ander bepalings gelees word en gekonstrueer word sodat elke individu die handves se volle beskerming kan geniet. Dekolonisering is ook tasbaar wanneer regter Albie Sachs in PE Municipality v Various Occupiers skryf die mens is nie eilande vir onsself nie, maar ons is verweef en interafhanklik van mekaar.

Gideon Basson.

Die anti-verkragting, -seksisme en -diskriminasiematriks van ons Grondwet is dit eens met Fanon se droom om dié wat laaste is, eerste te maak.

“Decolonise and moisturise” is oor Suid-Afrikaanse kampusse heen gesien tydens die Fallist-bewegings. Dit is ingebring met plakkate wat lui: “History take note: this revolution is led by womxn, trans and queer people.”

Ons sien dekolonisering ook in ons alledaagse: Wanneer ons landsvlag halfstok hang ná die dood van Winnie Madikizela-Mandela, die MeToo-veldtog wat vlamgevat het, die oop gesprek van kollektiewe en individuele geestesongesteldhede, struggle-liedjies wat ’n kollektiewe moreel in hedendaagse protesaksies skep, die bewusmaking van omgewingsvolhoubaarheid en die oorsteek van gender-grense.

Maar bowenal is dekolonisering in die stamina van dié wat werk om ’n wêreldorde tot stand te bring waar dinge ontdek kan word tot iets wat ons weer wek uit ons alledaagse ingeslaapdheid.

Dit is tyd om ons eie idee van dekolonisering te dekoloniseer voordat ons die waarde van hierdie ontdekkingsproses onder die koloniale en epistemiese gewelddadige soeklig plaas.

Die proses is onafwendbaar. Dit leef in die gesprekke, koppe, teoretisering, interaksies, klaagliedere, toejuigings, rou, drome en aksies van ons land se mense. Ons sal net dekolonisering se waarde kan evalueer wanneer ons die konstruksie daarvan inasem en die kritiek daarvan uitasem.

  • Gideon Basson (22) is 'n nagraadse student wat regte aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Hy werk ook vir die universiteit se transformasiekantoor. Hy kom oorspronklik van Vredendal.
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Universiteite  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.