Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Depressie: Jy hoef nie alleen die las te dra nie

Liewe medestudente,

Die selfdood van prof. Bongani Mayosi, dekaan van die Universiteit van Kaapstad se fakulteit gesondheidswetenskappe, het landwyd bewustheid oor depressie as geestesiekte geskep. Hierdie tragedie is ’n bewys dat depressie selfs die beste van ons kan onderkry. Dit dui op ’n pynlike manier dat ons na mekaar moet omsien en om hulp moet vra wanneer ons omstandighede oorweldigend raak.

Prof. Mayosi se familie sê hulle hoop deur eerlik te wees oor sy dood, sal dit ander moed gee om hulp te soek en kan lewens moontlik sodoende gered word.

Die vermoë om te besef wanneer ons sukkel of oorweldig is, is nie ’n kenmerk van swakheid nie; dit is ’n teken van ons menslikheid. Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) het sedert prof. Mayosi se dood honderde oproepe ontvang. Dit is reeds ’n bemoedigende tree vorentoe. Dit dui daarop dat daar mense is wat ’n belangrike stap gedoen het om aandag te skenk aan ’n siekte wat enigiemand enige tyd kan raak.

Wat is depressie?

Die voormalige dekaan van die geneeskundefakulteit aan die Universiteit van Kaapstad, prof. Bongani Mayosi. Foto: Nasief Manie

Sadag beskryf depressie as ’n siekte van die volledige liggaam wat ’n uitwerking op die liggaam, gevoelens, gedagtes en geaardheid het. Statistieke van Sadag dui daarop dat sowat 20% van almal op aarde in die een of ander stadium van hul lewe ’n vorm van depressie ontwikkel. Twee derdes van die mense probeer nie die hulp kry wat hulle nodig het nie. Uit die aard van die saak kan simptome in 80% van hierdie gevalle verlig word.

Ek het al baie te doen gehad met medestudente wat ly aan verskeie vorms van depressie. Hul stories loop ’n lang pad om te vertel van die verskillende tipes pyn en stres wat hulle al ervaar het. Dié pyn het verskillende oorsake en gevolge – byvoorbeeld een mens kan ’n fisieke reaksie op stres hê terwyl ’n ander groot buiveranderings kan ervaar.

Dís wat ons kan doen

Een stap wat ons almal kan doen, is om ’n belofte aan onsself te maak om ’n vriend, kollega, of geliefde altyd met deernis en vriendelikheid te hanteer wanneer hulle eerlik om hulp vra. Hierdie universele vriendelikheid en respek sal vir almal voordelig wees.

Ek raai almal aan om ’n eerlike ondersoek van jou reaksie op stres te doen en, as jy voel jy kan dit nie goed genoeg op jou eie hanteer nie, hulp te soek. Die Universiteit van Kaapstad bied al lank uitstekende diens ten opsigte van die ondersteuning van geestesiektes op kampus. As jy ’n Ikey is, sou jou fakulteitdekaan jou al ingelig het waar om ondersteuning te kry. Die meeste ander universiteite het ook ondersteuningstrukture, maar as jy nie weet waar om hulp te kry nie, Google Sadag en bel gerus een van hul telefoniese beraders wat altyd aan diens is.

Dis nie altyd maklik nie

George Rautenbach.

Vir party is hulp nie so eenvoudig nie. Daar is dalk persoonlike omstandighede wat jou dwing om jou probleme vir jouself te hou.

As jy om watter rede ook al nie self met enigiemand oor jou lewensprobleme wil praat nie, sal jy bly wees om te hoor van Bewrote.

Bewrote is ’n platform wat deur ’n groepie UK-studente ontwikkel is met die doel om enigiemand met geestelike ongemak te help.

Jy kan heeltemal anoniem registreer en ’n dagboek hou van wat in jou lewe aangaan. As jy wil, kan jy dan jou inskrywings openbaar maak om ander toe te laat om kommentaar te lewer.

Anonimiteit verseker dat daar geen persoonlike gevolge is oor wat jy skryf nie. Dit is sielkundig gesproke ’n proses wat baie verligting kan bied aan enigiemand wat sukkel met depressie, angs of hartseer.

Soek “Bewrote” op die Google Play Store of volg hierdie skakel om gratis aan te sluit.

  • George Rautenbach (19) studeer rekenaarwetenskap aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Universiteit Van Kaapstad  |  Kaapstad  |  Menings  |  Depressie  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.