Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Die aand toe my broer nie huis toe gekom het nie'
Josua Matthee
Josua Matthee

Ek loer na die horlosie wat teen my kamermuur hang. Kwart voor nege. Amper slaaptyd. Die reën tik-tik teen die sinkdak op dieselfde maat as die sekondewyser. Ek gaan nog ’n kombers nodig hê. Dowwe klanke in die kamer langs myne versteur so effe die hemelwater se sagte ritme. Oor die koue teëls dra my voete my nader aan die linnekas.

“Ons moet vir Josua sê,” hoor ek my ma se stem agter hul kamerdeur.

Met die kas oop, loer ek kieskeurig deur die verskeidenheid komberse wat die Matthee-huishouding bied. ’n Hand, koud soos die teëls onder my voete, vou sag om myne. Haar gesig was klam en haar oë rooi. Was sy in die reën? Sy begin praat met ’n stem wat nie aan haar behoort nie. Krakerig. Stadig. Seer.

“Hy was uit saam met sy vriende . . .”

Haar stem kraak meer, “ . . . ongeluk”.

Vir ’n kort en onskuldige oomblik klou ek vas aan ’n brokkie hoop. Moet net nie daardie woorde sê nie, dink ek.

“Jean het dit nie gemaak nie.”

Die koue skiet by my bene op en by my lyf in. Hoeveel komberse gaan ek nou nodig hê?

***

Die voertuig is doodstil, behalwe vir die gedurige gedruis van reën wat op die dak val en skuins teen die ruite afloop. Die geflits van ’n digitale horlosie op die paneelbord onderbreek elke nou en dan ’n dieper bepeinsing.

06:11

Was dit seer?

08:47

Sal ons hom nog kan herken?

16:22

Wat gaan ons met al sy goed maak?

21:19

Waar is hy nou?

***

Ek maak sy kamerdeur oop. Hy het dit nie netjies gemaak voordat hy gery het nie. Op sy lessenaar staan sy skootrekenaar, nog ge-pause op die fliek wat hy besig was om te kyk. Op sy bed lê die verskeidenheid hemde wat hy oorweeg het om te dra.

Wat as?

Wat as hy net die fliek klaar gekyk het? Sou hy dan net ’n rukkie later by daardie verkeerslig gewees het? Wat as hy die Superman-T-hemp gedra het? Sou hy die kar voor hom met sy bonatuurlike gawes kon vermy?

Ek maak sy kamervensters toe. Dit moenie inreën en die kamermatte laat stink nie. Hy sal my boks.

Hy sou . . .

***

Op die pier staar ek en my pa na die water en soek vir antwoorde daar waar die branders breek. Die ligte getik van die horlosie om sy gewrig en die motreën op my kroon, sus my dieper in gedagte in.

Juffrou Nel het ons vertel van ’n digter wat haar seer op die strand gelos het en in die see, tussen die golwe, haarself verlos het.

LEES OOK: 'Ek het albei my ouers in motorongelukke verloor'

Dit klink baie koud en alleen en onseker, maar nie seer nie. Die seer is mos agter haar in die sand begrawe. Miskien is dit die antwoord.

Miskien moet ek ook die pyn onder ’n hoop korrels bêre en in die water daarvan vergeet. Ek kyk na die man langs my wat die dag voor gister sy oudste seun gegroet het. Hy lyk presies soos my pa. Bruin hare, gryserige stoppelbaard en breë skouers, maar met die oë van ’n vreemdeling. Oë wat op ’n slag na die water en reën sou staar en dit as ’n uitdaging aanvaar, sien vandag bloot nie die punt nie.

***

Ek stap weer deur my ouboet se kamerdeur. In die hoek van die vertrek sien ek vir die eerste keer sy ou kitaar. Die donker vernis tussen die vratte al afgeweer deur konstante spel en oor die boks is die lirieke van verskillende liedere in ’n suiwer handskrif.

Ek sit op die bed en druk die instrument onder my arm. Stadig rangskik ek my vingers oor die snare om die enigste druk wat ek ken te vorm. Liggies streel ek die snare met my ander hand teen die maat van die water se getik.

“Dis mooi,” hoor ek my pa se stem van die kamerdeur af.

’n Glimlag gepaard met ’n traan vorm op sy gesig.

’n Eerste druppel geluk.

***

Dit is nou al vyf jaar later en ’n staat van inperking probeer ons beskerm teen ’n onbekende en onophoudelike donderbui.

In die hoek van my slaapkamer staan dieselfde kitaar. Met die donker vernis nou ’n ding van die verlede en die lirieke nou skaars leesbaar, bly die les wat ek op daardie dag geleer het ’n baken van hoop. Ons tyd is nog nie om nie.

Die reën is maar net ’n metronoom wat ritme bied vir ons eie musiek. ’n Ritme wat sinkroniseer met die van ’n hartklop. As jy stil raak en teen jou borskas voel, sal jy ook daar die musiek hoor klop wat deur elkeen se are vloei.

Die reën sal eendag bedaar. Ons sal eendag in die son weer baljaar.

Terwyl ons wag vir die eerste reënstil dag . . .

Maak ons musiek.

  • Josua Matthee studeer regte aan die Universiteit van Pretoria. Hy kom oorspronklik van Mbombela.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Hierdie meningstuk is deel van 'n kompetisie vir Die Student, waar ons vir studente gevra het om hul stories van hoop met Netwerk24 te deel. Klik hier om die meningstukke te lees.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!
  • Ons stuur elke Vrydag ‘n nuusbrief uit met die drie gewildste meningstukke van die week. Klik hier en teken in vir die Stemme-nuusbrief.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

WIL JY R5000 WEN?

Skryf in vir Die Student se rubriek-kompetisie! Kyk die video vir al die details.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Diestudenthoop  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.