Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Die dieper betekenis van ’n k*khuis vol geld
Jana Van Rooyen
Jana Van Rooyen

Dit is nou al 96 dae sedert ek my gemaklike lewe in die Paarl verruil het vir die lewe van ’n verheerlikte huishulp op yachts op die Mediterreense see. As jy jou dae deurbring deur miljardêrs se toilette te skrop, gee dit ’n dieper betekenis daaraan om ’n k*khuis vol geld te maak.

Op 26 Maart het ek in die Kaapstad-lughawe se Mugg and Bean gesit en huil oor wat vir my voorlê en wat ek alles agterlaat.

Hier waar ek nou sit, iewers langs die Italiaanse kus, ná ’n 14-uur-skof met voete vol blase, is ek tevrede daarmee om te sê dat ek nêrens anders sou wou wees nie.

Verbeel jou: ’n Vyfster-chef wat jou maaltye maak, drie keer per dag. Alle lewenskoste, selfs ’n tandeborsel, is gedek. As jou kleintoontjie pyn, kan jy ’n doktersbesoek versoek, op die boot se onkoste natuurlik.

Hier is kaste en kaste vol fênsie sjokolade met name wat ek nie kan uitspreek nie, St. Pellegrino, coconut water en elke moontlike soort alternatiewe melk.

Op 26 Maart het ek in die Kaapstad-lughawe se Mugg and Bean gesit en huil oor wat vir my voorlê en wat ek alles agterlaat.

Vanaand gaan slaap jy in Frankryk en word wakker in Corsica. Jou bucketlist word al hoe langer en duurder soos jy nuwe plekke, soos Cinque Terre, ontdek wat jy eendag eenvoudig moet besoek.

Van jou vyfsyfer- belastingvrye salaris word 95% gespaar, want jou grootste uitgawe is om te besluit of jy vandag ’n Bombay Sapphire of Hendrick’s gin wil drink. Hoewel ek steeds heel gelukkig is met ’n klassieke Gordon’s in my hand.

Die soet en suur

Ek het van my beste vriende en grootste vyande hier ontmoet. Elke tweede aand is jy in die Blue Lady of Hopstore, waar jy R80 per draught (nee, jammer, pint) betaal en vir die eerste paar dae weet jy nie of dit die alkohol of wisselkoers is wat jou ’n bietjie dronk laat voel nie.

As jy nie weet wat om met jouself en jou werkloosheid te maak nie, koop jy vir jou ’n €1-bottel wyn wat meer soos asyn smaak en bring die dag op die strand deur, want die beste ding van die Europeërs is dat drink in die publiek en op die strand wettig is.

LEES MEER: 'Werkloosheid vernietig die siel'

Ek’t het my verjaardag gevier by ’n beach bar langs die see en dit geëindig by ’n wynplaas op ’n heuwel in Italië. Om tussen lande te toer is soos om vir die naweek see toe te gaan vir hierdie mense.

Ek het Guinness en Jameson gedrink in Ierland, vuurwerke gekyk in Malta, paella geëet en sangria gedrink in Spanje en wyn gedrink met elke pizza en pasta in Italië.

Ek is trots om te rapporteer dat ek toiletpapier in minstens drie verskillende patrone kan vou en servette in omtrent vyf.

Maar dit was ook nie aldag Franse strande en mojitos nie. Jy is ’n slaaf wat wakker word by die werk en gaan slaap by die werk. Ek kan nou ’n wasmasjien, tuimeldroër en skottelgoedwasser gedetailleerd skoonmaak. Ek is trots om te rapporteer dat ek toiletpapier in minstens drie verskillende patrone kan vou en servette in omtrent vyf.

In my wêreld is oor- en tandestokkies nou multifunksioneel, want daar is nie ’n gaatjie of gleufie wat dit nie kan bykom nie. Ek het geleer dat alkohol, nes in die lewe, die meeste dinge kan skoonmaak en regmaak. Soggens en saans maak ek beddens op, waar die see my werklike uitsig is en nie net die screensaver op my werkrekenaar nie.

Daar word mylpale by die huis misgeloop, soos my optelkat wat grootword sonder my.

Uithou en aanhou

Om ’n Suid-Afrikaanse paspoort, oftewel “groen mamba”, in Europa te hê is ’n groter belediging as om iemand se ma se aspoestertjie te vloek. Dit is ook amper die enigste Afrikaans wat die mense hier kan praat.

Vir die eerste paar weke as jong werksoekende yachtie, was ek noodgedwonge ’n vegetariër, want al wat ek kon bekostig was spaghetti met sout en peper op. Jou huur vir die volgende week hang af van ’n barmhartige Samaritaan wat jou nooi om op sy boot te kom werk, en dit gebeur ook maar selde.

Ek weet geld is nie alles nie en koop ook nie geluk nie, maar ek huil eerder in ’n Mercedes as op ’n fiets.

Ek het eers ná twee maande ’n vaste werk gekry en dit ná twee weke verloor, want werksekerheid bestaan nie.

In ’n oomblik van paniek het ek besluit om my laaste paar sente te vat en my wonde in Palma de Mallorca te gaan lek. Goedkoop bier was my ontbyt, middagete en aandete en ’n paar trane is gestort omdat dinge gelyk het asof dit nie vir my gaan uitwerk nie. ’n Maand later is ek aangestel op die boot waar ek nou is.

LEES OOK: Moenie sit en wag vir beter dae nie

Dié bedryf is definitief nie ’n paradys nie, maar sodra jy besef dat daar aan die einde van die maand euro’s in jou rekening inbetaal word, sal jy self jou baas se boude sonder handskoene vir hom afvee (nie dat ek al moes nie).

Ek weet geld is nie alles nie en koop ook nie geluk nie, maar ek huil eerder in ’n Mercedes as op ’n fiets. Die alternatief was om in Suid-Afrika te bly waar, soos my goeie vriend Alwyn sê, elke dag dieselfde f*kk*n storie is. Ek het my tyd verkoop aan ’n metaalboks op die see sodat my studielening iets van die verlede kan wees, my kat ’n gemaklike lewe kan lei en ek so dan en wan die wêreld kan sien.

  • Jana Van Rooyen (22) het verlede jaar haar BA Regte-graad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Sy toer tans deur Europa.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.