Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Die donker draak van depressie en die geel pilletjies
MJ Scholtz
MJ Scholtz

Dis 04:23 op ’n koue Junie-oggend. Ek sit bo-op die koshuisdak in my oupa se ou Sasol-baadjie en ’n paar long johns wat ek al vir die derde dag agtermekaar dra.

Oor vier ure sit ek in Hall 29 (meer soos Hell 29) en skryf ’n wiskundevraestel wat al dae lank soos ’n donder wolk oor my hang en my uiteindelike verdoemenis voorspel.

Snikkend in angs bel ek my mamma.

“Ek kan nie meer nie. Ek’t twee dae laas geslaap. Ek’s paniekbevange en naar. Ek weet niks, ek voel niks en dis als net te veel.”

Ek hoor polisiesirenes sag in die agtergrond.

“Toemaar, my kind. Doen jou bes vandag, dis net die stres.”

Maar Mamma, dit is nie net stres nie, en die dokter sê ek moet weer pilletjies begin drink. 200 mg serotonien snags sal die seine laat reguit loop. Ek sak stil in die hoekies van skaamte terug en die vrae draai herhaaldelik deur my kop soos ’n Krismis-special op SABC2.

In ’n land waar die donker draak van depressie by een uit vier universiteitstudente gediagnoseer word, is dit heel moontlik dat jy die storie net so goed soos ek ken.

Waarom ek, en hoekom werk my brein nie reg nie, en hoekom is ek so swak, en gaan ek ooit normaal wees, en, en?

In ’n land waar die donker draak van depressie by een uit vier universiteitstudente gediagnoseer word, is dit heel moontlik dat jy die storie net so goed soos ek ken. Nes ek het jy ook dalk vrae. Maar is dit dalk tyd dat ons die vrae nie net oor onsself vra nie?

Vyf slagoffers van selfdood in ’n jaar by hierdie einste instituut. Die getal pogings draai diep in die 20’s. By Tuks marsjeer hulle en praat van 23 selfdoodpogings in 2018. By UCT ses gevalle van selfdood in drie jaar.

Die syfers raak naderhand eentonig en ons kry die prentjie: Onder die glans van Robot-specials by Impala, R2-drinks by Maddies en Junkies by MVG; selfs onder lae van Varsity-rugby, SER, Lentedag, jool, Freshers en Vensters – onder die glans en die glam is swot maar donners tough.

Ons kan sekerlik nie verwag dat die universiteite standaarde verlaag net sodat ek en jy onder minder druk kan uitblink nie.

Maar wat doen die universiteite om te help? Daar is welsynsdienste op elke kampus – dis wet – en om elke hoek en draai ’n poster met die suicide hotline (0800 567 567 – save hom). Daar’s springkastele op die biblioteek se grasperke, middagete-shows voor die hoofgebou, selfhelpklasse oor eksamenstres, gratis melkskommels, e-posse met inligting, nauurse praatjies, ens. Hulle probeer tog. Wat nou meer? Ons kan sekerlik nie verwag dat die universiteite standaarde verlaag net sodat ek en jy onder minder druk kan uitblink nie.

Nee, en ons verstaan. Julle probeer tog. Maar Meneer Dekaan, verskoon my as ek nie lus het om op ’n springkasteel rond te spring as my tyd al klaar deur agt take, twee opstelle en vyf komende toetse opgeneem word nie. Hou dalk jou melkskommel en bel-ons-pamflette en gee my net ’n bietjie leiding sodat ek makliker kan cope.

Ware leiding en behoorlike ondersteuning. Goed wat sin maak sonder ’n terapiesessie van R300.

Vat ’n pouse en sit daai foon af

Dit vat nie te veel nie, geagte leser.

Depressie en antidepressante maak jou nie swak nie. Dis menslik. Jou lyf produseer nie genoeg happy-hormone nie, nes party mense nie genoeg insulien het nie of ander te veel teenliggaampies het. Jy dink tog nie iemand is minder mens as hulle ’n asmapompie of insulien gebruik nie?

Depressie en antidepressante maak jou nie swak nie. Dis menslik.

Goeie gewoontes kweek ’n gelukkige leefstyl. Begin klein. Staan vyf minute vroeër op. Maak in die oggend as jy opstaan dadelik jou bed op – dan het jy jou eerste taak van die dag voltooi en is jy op pad na sukses.

Eet tog ontbyt want ’n leë maag maak van jou ’n grompot.

Drink genoeg water – dehidrasie is ’n duiwel.

Gebruik die trappe in plaas van die hysbak. Luister na ’n tune wat jou nie jou polse laat afkou nie. Sit die handboek neer en kyk ’n episode (matigheid voor oë) van ’n snaakse sepie.

Gaan oefen sodat jy die hormoonkliere ’n kick-start gee, en as die gym te gagga is, gaan stap om die blok. Dwing ’n glimlag deur die dag en voordat jy jouself kry, is dit natuurlik. Easy peasy.

LEES MEER: 'Ek haat die meisie in die spieël'

Sit daai donnerse foon neer – ja, ek klink soos my ma – maar ek’s ernstig, vat ’n pouse. Klim af van Insta-G, Facebook en Snapchat net vir ’n rukkie. Die druk van uni is al klaar groter as my bierboep – sonder sosiale media se verwagtinge om soos ’n Kim of Kanye te lyk.

Sit hom af as jy leer of wil slaap of selfs net niks doen nie. Teken liewer of skryf ’n meningstuk vir Die Student, gaan skop ’n bal of gaan sit in die park en kyk na die wolke. Jou iPhone sal steeds ná die tyd nog daar wees.

Moedeloosheid is net nog ’n emosie. Laat jouself voel wat jou moet voel. Dis oukei om te huil en te skree. Kap dan ’n middagslapie en kom sterker terug.

Moenie dinge opkrop nie – jy is klaar propvol ander worries en verantwoordelikhede. Let it go, let it go . . . ek weet jy ken die res.

Vat ’n afdag

Dis oukei om elke nou en dan ’n personal day te vat. As die wêreld vanoggend te veel is en jy daai 08:00-klas kan opvang, vat ’n afdag. Gaan Mugg & Bean toe, plak jouself in ’n hoek met ’n bottomless koffie en lees ’n boek. Niemand gaan jou oordeel nie.

Moenie dinge opkrop nie – jy is klaar propvol ander worries en verantwoordelikhede.

Onthou jy is nie alleen nie, so help ’n pel. Ons almal struggle. Dalk kan ons effens minder sukkel as ons saam sukkel. Saam hou ons makliker kop bo water. Vra voordat jy verdrink.

Laastens, as niemand dit onlangs vir jou gesê het nie: Jy is genoeg, jy doen great en ek’s moerse trots op jou. Ek like jou skoene en daai T-shirt wat jy aan het, is cool. Jy’s fantasties en jy sal survive.

Ek glo in jou.

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.