Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Die dubbele standaarde van depressie

Sherlin Barends
Sherlin Barends

Dis ’n Maandagmiddag, die windjie waai en die voëls fluister neffens die kamervenster – dit klink asof 2020 nou uiteindelik begin einde kry.

Ek sit en maak gereed om te gesels met die Universiteit Stellenbosch-alumna en KFM-aanbieder Sherlin Barends as deel van Die Matie se regstreekse onderhoude op Instagram. Ons gesels oor die belangrikheid om na jou geestesgesondheid om te sien.

Natuurlik was dit belangrik om oor hierdie kwessie te gesels, juis omdat 2020 ’n warrelwindjaar is en mense met ’n tipe depressie sit oor finansies ensovoorts. Terselfdertyd sit ons met ons matrikulante wat nou begin het met eksamens en dit kan angswekkend wees, daarom het ons dit nodig geag om hierdie gesprek te voer.

Ons het dan ook in Oktober, bewustheidmaand oor geestesgesondheid, kans gehad om vir mense te sê: “Dis oukei” en dit is glad nie nodig om skaam te wees oor jou depressie nie.

William Sezoe

Terwyl ek en Sherlin gesels, besef ons hoe min daar gefokus word op mense se geestestoestand. Hoe min mense weet oor geestesgesondheid en die onkunde wat soms daarmee gepaardgaan.

Ek moet erken, hoewel angs, depressie en paniekaanvalle al in 2017 by my gediagnoseer is, wou ek dit nie aan ander mense noem nie. Veral nie aan my skoolmaats nie, ek was te bang ek word gespot. Maar dit wat die meeste bygedra het tot die stigma was die feit dat mense in my gemeenskap nie die belangrikheid van geestesgesondheid verstaan nie.

Hulle gaan vir jou sê “jy’s siek in jou kop” of “jy’s mal” en jy moet “malhuis” toe gaan.

Ek dink dis die grootste rede hoekom mense verkies om stil te bly, en die hartseer is dat “stilbly nie ’n antwoord is” ten opsigte van geestesgesondheid nie, want jy gaan jouself in die voet skiet.

Sherlin het eers vroeër vanjaar uitgevind dat sy depressie het en moes vir ’n paar weke in ’n psigiatriese hospitaal wees vir behandeling. Sy het begin besef hoeveel onkunde daar hieroor is.

“Daar is die tipe mense wat vir jou sal sê ‘depressie en angs – dit bestaan nie, waarvan praat jy? Julle is net lui en morbied – kom uit dit uit’,” vertel Sherlin. Ek kan nie anders as om saam te stem nie, want ek weet waarvan sy praat.

Daar is die tipe mense wat vir jou sal sê ‘depressie en angs – dit bestaan nie, waarvan praat jy? Julle is net lui en morbied – kom uit dit uit.
Sherlin Barends

“In die gemeenskap waar ek grootgeword het, moes ek hoor ‘nee dis die duiwel wat in jou is’ of ‘jy verbeel vir jou’.

Sy vertel ook dat mense ’n probleem daarmee het dat iemand pille moet gebruik vir hul geestesgesondheid. “Dan kry jy daai mense wat glo ‘ja, depressie bestaan, maar mense moet nie medisyne daarvoor gebruik nie’.

“Dit is dubbele standaarde, want mense gebruik pille vir hartprobleme en ander siektetoestande, so hoekom is dit ’n probleem as ek medisyne gebruik vir my geestesgesondheid?” vra Sherlin.

As gevolg van die stigma oor depressie was daar ’n tyd toe ek besluit het om nie meer my medisyne te gebruik nie.
William Sezoe

En dis natuurlik ’n feit, want toe ek begin medisyne gebruik vir my geestesgesondheid het mense my daaroor gespot, want “hoekom wil jy pille gebruik vir jou kop”? Wat natuurlik ’n groot jammerte is, want dit lyk asof baie min van ons mense besef jou kop, oftewel jou brein, is ook ’n orgaan waarna omgesien moet word; want jou emosies, denke en alles kom basies van jou brein af en as jy nie goed genoeg daarna omsien nie kan jy later in jou lewe probleme ervaar.

Sherlin se hospitaalervaring: “Daar was ’n bruin meisie, en sy sê toe vir my ‘my ma het gesê depressie is ’n witmensding, ons bruin mense kry nie depressie nie’ en sy bid toe vir my en gooi my pille in die toilet af.

“Nou dis moeilik genoeg om met depressie/angs te leef en dan moet jy nog deal met mense se ignorance ook. En hierdie druk lei soms daartoe dat mense nie meer hul pille drink nie,” vertel Sherlin.

Hiermee stem ek ongelukkig met ’n hartseer hart saam, want as gevolg van die stigma oor depressie was daar ’n tyd toe ek besluit het om nie meer my medisyne te gebruik nie. Ek het eintlik ironies genoeg my pille in die toilet gaan afspoel, maar gou besef depressie is ’n ongoing ding. Jy kan nie daarvan ontslae raak nie – dis nou deel van jou.

Terwyl die gesprek tot ’n einde kom, besef ek daar is baie opvoeding oor geestesgesondheid nodig, veral in ons armste gebiede. Mense sal (hopelik) net leer, verstaan en empatie toon as hul die kennis het.

My oproep aan mense wat depressie het, is om meer daaroor te praat, want saam kan ons die onkundiges opvoed. En dalk moet dié wat nie weet hoe dit is om met ’n stil vyand saam te leef nie, eers dink voordat hulle oordeel.

  • William Sezoe studeer onderwys aan die Universiteit Stellenbosch.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.