Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Die fout met feminisme

Die skrywer Marie Shear het die uitlating gemaak dat feminisme die radikale gedagte is dat vroue mense is. Maar wat gebeur wanneer feminisme begin bepaal watter tipe mens jy mag wees?

Feminisme het as ’n goeie inisiatief begin. Vroue was moeg daarvoor om nie dieselfde werkgeleenthede te kry, nie stemreg te hê nie en heeltyd in boksies geplaas te word. Vroue is as té emosioneel, minder intelligent en minder “mens” as mans gesien.

Hierdie beskouing bestaan al sedert Antieke Griekeland toe Aristoteles “die mens” gedefinieer het as ’n rasionale dier, en vroue per definisie uitgesluit het omdat hulle (volgens hom) nie rasioneel is nie.

Ons kan ’n hele debat voer oor wat van iemand ’n “mens” maak, maar wat maak van jou ’n vrou? ’n “Regte” vrou, as so iets ooit bestaan.

Volgens my is daar nie ’n antwoord wat dié vraag kan beantwoord nie. Geen twee vroue, of mense, is dieselfde nie. En dankie tog daarvoor, anders sou hierdie wêreld ’n bra vervelige plek wees.

Feminisme word gedefinieer as die ondersteuning van die gedagte dat mans en vroue gelyk is. Gelyk in wat? Ek stem saam dat mans en vroue dieselfde menseregte moet hê; die probleem ontstaan wanneer mense die woord “gelyk” met “dieselfde” definieer.

Maar wat gebeur wanneer feminisme begin bepaal watter tipe mens jy mag wees?

Volgens feminisme moet vroue die broodwinner wees, want mans en vroue is “gelyk”. Vroue moet herstelwerk doen, want mans en vroue is “gelyk”. Vroue moenie hul beenhare skeer nie, want mans en vroue is “gelyk”. En tot ’n mate is hulle reg. Party vroue kan ’n baas wees, herstelwerk doen, ’n gesin aan die gang hou en hulle kan hulle beenhare laat groei. Maar wat as hulle nie wil nie?

Die kernwoord in die bogenoemde stellings is “kan”.

“Kan” is ’n bywoord wat ’n moontlikheid aandui. Dit impliseer geensins waarskynlikheid nie.

Ja, daar is ’n kans dat vroue hierdie rolle kan vervul. Maar is dit waarskynlik? In baie gevalle nie. En is dit wat moet gebeur? Mans en vroue moet gelyk wees in terme van die geleenthede wat aan ons gebied word en ons basiese menseregte, maar ons is beslís nie dieselfde nie.

Enige basiese fisiologie-handboek sal dit vir jou kan sê.

Nog ’n motivering wat vroue vir feminisme aanvoer, is dat vroue alles doen om mans tevrede te stel. Ek weet nie van jou nie, maar ek trek beslis nie mooi aan vir enige man nie. Ek doen dit vir myself, want dis wat ek wil hê en as ek die dag lus is om my hare te doen en ’n rok te dra, gaan ek nie daarvoor jammer sê nie.

Hoekom moet vroue skaam wees daaroor dat hulle meer emosioneel as mans is, as dit bloot as gevolg van ons hormoonsamestelling is? Hoekom moet ons jammer wees as ons dol is oor klein hondjies en babas as dit ons moederlike instink is?

Natuurlik is daar vroue wat nie aan die tipiese “opvatting” van ’n vrou voldoen nie. Hulle hou dalk van motorwedrenne, dra nooit grimering nie en jy sal hulle nooit ’n traan sien wegpink nie. Dit maak hulle nie minder vrou nie.

Corine Raath

Dis egter nie regverdig om van ander vroue te verwag om teen hul grein te gaan deur die anti-tradisionele opvatting van vrouwees aan te neem in die naam van feminisme nie. Deur dit te doen, is feminisme beslis nie besig om vroue regte te gee nie, dis besig om dit weg te neem.

Ek hou van kosmaak. Ek sal graag eendag van die huis af wil werk sodat ek na my kinders kan kyk. Ek wil beslis nie my motor se wiel self omruil nie en soms raak ek ’n bietjie emosioneel. Dis wie ek is. Dis die tipe vrou wat ek is. Al is dit dan tradisioneel, maar ek is beslis nie ondergeskik aan of minder intellektueel as enige man nie.

Dis tyd dat alle vroue besluit watter tipe vrou hulle wil wees, nie op grond van ’n politieke beweging of ’n modegier nie, maar op grond van wat hulle gelukkig maak en wie hulle werklik is.

Feminisme is cool, maar dis baie meer cool om jouself te wees.

  • Corine Raath (19) studeer BA Wiskunde en Geesteswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit. Sy kom oorspronklik van Bellville in die Kaap.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.