Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Die geite en giere van Millenniërs
Anke Marias
Anke Marais

Om ’n generasie se geite en giere in ’n paar paragrawe neer te pen, is ’n taak wat grens aan die onmoontlike, maar ek het nog altyd gehou van metafore en wie beter vir die onmoontlike as Alice van Alice in Wonderland?

Nes Alice leef ons in ’n wêreld waar ons daagliks wissel van die een na die ander weergawe van realiteit – die alledaagse herskepping van onsself – en die hele affêre is ’n verskriklike deurmekaarspul met nimmereindigende teenstrydighede.

Ek kan myself absoluut vereenselwig met Alice toe sy aan Absolem erken: “I can’t explain myself, I’m afraid, sir, because I’m not myself, you see.” Want die vader alleen weet, ek hou self my asem op vir “ons” klomp.

Partymaal verorber ons die metaforiese “eat me”-koekie, krummel vir krummel, totdat ons só klein krimp dat ons bestaan slegs deur middel van skerms, in blokkies van valse voorkomste verdeel, bevestig kan word.

In hierdie toestand word ons gereeld as ’n pes beskou wat nie sonder die hulp van die voorafgaande lede van mensdom sal kan oorleef nie. Ons is laks om ons eie kennis op te doen, boeke is blote versierings op ’n rak en as Google nie die antwoord het nie, loop soek ons selde verder.

LEES OOK: Millenniërs: Ons kan nie eens onsself verstaan nie

Só ’n pes het groot opinies wat met klein woorde in kort sinne op Facebook bekend gemaak word, terwyl ons almal half saamgestelde stories van ons lewens op Instagram plaas, gestroop van die volle spektrum van emosie wat ons méns maak.

Hierdie verkrampte toestand belemmer ons waarnemingsvermoë, so die omliggende en verbygaande lewe ontglip ons verwysingsraamwerk.

Dié word eerder bepaal deur die kuberruim en ons geliefkoosde sosiale media en diegene van ons “jong” klomp wat mooi praatjies maak ter verdediging van die saak, ontken ’n groot afhanklikheid van ons generasie. Ons almal soek ’n snytjie van die koek.

Gun ons groeipyne

Wat sit agter hierdie duimspeletjies en passiewe gesiguitdrukkings? ’n Verlatenheid wat toegepleister word met emoji’s en gifs. ’n Gebrek aan gesprekke waar ’n mens se tong oor jou lippe rol en geluide uit jou keel roggel. ’

'n Heimlike vrees vir emosionele ontbloting en mede-afhanklikheid. Dis maklik om afhanklik te wees van Instagram likes, die prys daarvoor is weglaatbaar, die waarde daarvan minder. Helaas, hierdie eienskap van ons het ’n omgedraaide oorerflikheid, want “julle” as mede-lyers kan wragtig nie vingerwys nie.

Dis maklik om afhanklik te wees van Instagram likes, die prys daarvoor is weglaatbaar, die waarde daarvan minder.

Alle munte het wel twee kante.

Ons het die “drink me”-botteltjie al raakgegryp en soos Alice met haar uitgestrekte nek het ons ’n ander blik op die samelewing en die vooropgestelde grense wat ontstaan het vanuit konserwatiewe ouer gewoontes.

Ons uitkyk span oor grense, hetsy dit taal-, ras- of fisieke grense is. Die waarheid is wel dat daar helse groeipyne daarmee gepaardgaan en ons kop tref gereeld die plafon.

Ons hou nie daarvan as ander ons definieer nie, maar terselfdertyd bou ons daagliks nuwe boksies vir onsself om in te klim. Elkeen kan hul eie opinies hê, solank as wat jy die regte een kwytraak. Ons mars deur die strate teen CO2 (met plakkate van Moeder Aarde) terwyl ons verbruikerskultuur se klere swaar aan ons skouers hang.

Die ontwikkelingsfase is ’n stryd en mens neig heeltyd om na die “eat me”-lekkerny te gryp, want dis tog so eenvoudig om klein en verkramp te wees. Wees maar geduldig en gun ons die groeipyne van selfontdekking.

Jy mag ’n vrou, man of enigiets anders wees, moet dit net nie te hard verklaar nie. Inteendeel moet liewer niks verklaar nie. Maar onthou om jou vir iets te beywer!

Die ontwikkelingsfase is ’n stryd en mens neig heeltyd om na die “eat me”-lekkerny te gryp, want dis tog so eenvoudig om klein en verkramp te wees. Wees maar geduldig en gun ons die groeipyne van selfontdekking.

Sien Smokie het dit destyds al reg gehad: “Who the f**k ís Alice?”

  • Anke Marais (21) studeer Erfenis-, Museum- en Bewaringsstudie aan die Universiteit van Pretoria. Sy het groot geword in Kaapsehoop, 'n klein dorpie 30km buite Nelspruit.
  • Hierdie meningstuk is 'n inskrywing vir Die Student se rubriek-kompetisie, waar hulle vir ouer lesers moet verduidelik wat hulle nie van die jong generasie verstaan nie.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!
Meer oor:  Diestudentgenerasies  |  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.