Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
BOUWER SKRYF: Die gewonde standbeeld
Bouwer Bosch
Bouwer Bosch.

Voor jy wonder hoekom ’n 34-jarige André Stander-doppelgänger vir “Die Student” skryf, wil ek hê jy moet weet dat ek voltyds ingeskryf is by die “Universiteit van die Lewe” – waar ek tans fokus om meer af te leer as aan te leer.

Sowat 11 jaar gelede in 2008 word daar iewers in die middel van nêrens ’n standbeeld van Nelson Mandela opgerig. Die standbeeld reflekteer daai geskiedkundige dag toe hy en Winnie Mandela in die straat afgestap het met ’n flash mob en met sy vuis wat sweef in die lug oor sy vrylating.

Daai dag, net soos die dag toe ’n duif op my matriekafskeidpak gepoef het, sal ek nooit in my lewe vergeet nie.

Sommige mense hou daarvan om lang ente saam met hul geliefdes op die strand te stap, maar Mandela het ’n lang stappie na vryheid gestap vir sy geliefdes: Die mense van Suid Afrika.

Terug by die monument. Die inhuldiging was op die nuus daai aand en ek besluit toe om vir Straatligkinders ’n lied te skryf getiteld “Gewonde Standbeeld” en die koor gedeelte lui:

“Sweef soos ’n vuishou,

veg sonder ophou nou,

vir dit wat goed en reg is,

sonder dat daar bloed moet vloei,

sal daar versoening kom,

sal daar genesing kom,

jy moet net bereid wees om gewond te word”

Hoekom word dit verwyder?

Nou waarom hierdie vreemde storie oor ’n standbeeld en ’n liedjie?

Want dit is 2018 en ek het op hierdie mooi dag nou al drie verskillende berigte gelees wat vandag gepubliseer is oor standbeelde in Suid-Afrika wat vra: “Moet dit verwyder word?”, “hoekom word dit verwyder?” of “hoekom word daar nie net meer gebou oor vandag se helde nie?”

Hierdie verskynsel laat my die volgende besef: Dat hierdie lewelose figure in ons midde – wat ons nie altyd weet wie hulle is of wat hulle vir Suid-Afrika beteken het sonder om op Google te gaan soek nie – het jare nadat hulle gelewe het steeds ’n groot impak op ons lewens.

Ek was nog altyd ’n aanhanger van die emosionele mondering van ’n mens. Ek dink een van die grootste foute wat die mensdom maak, is om die impak van emosies in ons daaglikse lewe te onderskat.

Wanneer Steve Hofmeyr “Die Stem” sing op konserte, kom dit uit ’n diep emosionele oortuiging. Wanneer Angus Buchan voor derduisende mense staan en sy hart deel, kom dit uit ’n diep emosionele oortuiging. Emosies is die kompas vir die siel.

Alles wat jy doen, het te doen met die jou emosies, dit is soos jou operating system, hy kan nie rêrig operate as hy vol virusse is nie. Jou emosies dryf als.

Wanneer Steve Hofmeyr “Die Stem” sing op konserte, kom dit uit ’n diep emosionele oortuiging. Wanneer Angus Buchan voor derduisende mense staan en sy hart deel, kom dit uit ’n diep emosionele oortuiging.

Emosies is die kompas vir die siel.

Apartheid in my opinie was ’n diep emosionele oortuiging dat swart mense die “gevaar” is, dat vroue nie dieselfde as mans gesien kan word nie en dat wit mense beter as ander is.

Hoeveel van ons pa’s sit nie vandag met die emosionele verwonding omdat hulle op 19-jarige ouderdom grens toe moes gaan om teen die “swart of rooi gevaar” te gaan baklei nie?

Ek kon op 19 skaars ’n snor groei maar ons pa’s moes mense gaan skiet sonder dat hulle rêrig geweet het hoekom.

My punt is dat die wortels van trauma en emosionele seer baie diep lê en baie lank vat om te genees, en ons moet bereid wees om te help met ander se genesing waar ons kan.

Die grootste onreg

Ons kom uit ’n geskiedenis waar swart mense ongelooflik baie hartseer en onreg aangedoen is. (Nou voordat jy ophou lees en dink hierdie is net nog ’n artikel oor apartheid en wonder wanneer gaan swart mense eendag net aanbeweeg, probeer jou indink hoe dit sal voel as iemand vir jou sê “beweeg asseblief tog net aan van die hartseer waarmee jy sit van jou ma of pa se dood”).

Die grootste onreg wat jy iemand kan aandoen, is om vir hulle te sê hoe hulle moet voel. Ons kan mense aanvat oor hul opinies maar nie hul persoonlike ervarings nie, en ek dink dit is tyd dat ons besef dat dit nie eintlik oor die standbeelde gaan nie. Dit gaan oor die seer en verwonding onder die mense wie se standbeeld dit is.

My punt is dat die wortels van trauma en emosionele seer baie diep lê en baie lank vat om te genees, en ons moet bereid wees om te help met ander se genesing waar ons kan.

Om ’n voorbeeld te gee, daar is nou al hoeveel standbeelde op Kovsies en die NWU-Pukke se kampusse verwyder, maar steeds is daar issues en frustrasies onder studente oor taal- en kultuurverskille. Dit gaan dus nie oor die standbeelde nie.

Jy kan elke muur in Berlyn afbreek wat jou aan Hitler laat dink maar dit gaan nie die trauma en seer wegvat van daai miljoene oorlewendes in die konsentrasiekampe nie. In Suid-Afrika kan jy net so elke standbeeld wat ’n Afrikanerleier in ons geskiedenis verteenwoordig, verwyder en elke straatnaam verander, dit gaan steeds nie miljoene swart mense se seer oor ons verlede gesond maak nie.

Ek het al die cd’s verbrand wat my eksmeisie op hoërskool vir my gegee het, en steeds sal ek soms wonder hoekom sy my hart gebreek het. Hartseer is tydloos.

Standbeelde in ons eie harte

Standbeelde verteenwoordig sekere sienings en ideologieë. Hoeveel standbeelde is daar nie in ons eie harte oor die verlede nie?

Is dit nie dalk tyd dat ons eerste die standbeelde in ons eie harte verwyder voor ons begin baklei oor standbeelde in openbare plekke nie?

LEES OOK: Los die standbeelde uit!

Steve Hofmeyr sal altyd een van my gunstelingskrywers en -sangers bly en ek wens ek kon sy oupa ontmoet het, want ek hou van mense wat teen die stroom gaan.

Steve se oupa (ook Steve Hofmeyr) was die leier van die Stormjaers (Afrikaner-terroristegroep) en hulle het in die laat 20’s, vroeë 30’s, bioskope met bomme aangeval omdat “God Save the King” ná elke film gespeel is en jy moes opstaan en saamsing.

LEES OOK: Wat nou van Steyn se leë voetstuk?

Die rede vir die aanvalle is eenvoudig: Hulle het onderdruk gevoel deur die lied en dit was ’n legitieme gevoel want die Britte het hulle onderdruk.

So dit maak sin dat sommige mense vandag aanstoot sal neem wanneer “Die stem” op konserte gesing word.

As ons mekaar se geskiedenis beter verstaan, kan ons mekaar vandag beter verstaan. As Suid-Afrikaners het ons meer dinge in gemeen as wat dit ons verskillend maak.

LEES OOK: MT Steyn-standbeeld: Moenie die verlede uitwis nie

Wit en swart mense het byvoorbeeld hierdie ongelooflike hartseerding in gemeen – albei was al in hul verlede onderdruk. Dit maak dit egter meer ingewikkelde deurdat ons later die onderdrukker geword het.

So ons het aan ander gedoen wat aan ons gedoen is.

Die trauma van onderdrukking

Richard Rohr (’n Amerikaanse geestelike skrywer) het gesê: “Pain that is not transformed is transmitted” en dit gaan 100% oor die emosies.

Afrikaners het nooit die trauma van ons onderdrukking verwerk nie, en in plaas daarvan om aandag aan die trauma te gee, het ons dit op ander uitgehaal.

Mense soek iets tasbaars om aan vas te hou of te blameer wanneer dinge nie lekker is nie.

’n Goeie voorbeeld is Allister Coetzee. Hy was ’n “tasbare entiteit” waarvan ontslae geraak kon word omdat die Springbokke aangehou verloor het. Die ironie is nou dat Allister beter as Rassie gevaar het.

My punt is dat as ons nie weet hoe om met emosionele kwessies om te gaan nie, draai ons na iets tasbaars en probeer ons trauma of seer verplaas.

My punt is dat as ons nie weet hoe om met emosionele kwessies om te gaan nie, draai ons na iets tasbaars en probeer ons trauma of seer verplaas. Dit werk ongelukkig nie so nie. As ’n by jou steek haal jy dit nie op die byekorf uit nie.

Ek het nie die antwoorde vir hiervoor nie. Ek soek ook maar self nog my stem as ’n wit 34-jarige man in Suid-Afrika om uit te vind wat my rol is om ’n gesonder en beter Suid-Afrika vir almal te probeer vind – vir myself inkluis.

Ek weet net dat ons sit met mense om ons wat baie seer het as gevolg van ons land se verlede – wit mense, bruin mense, swart mense, elke liewe CMYK-kleur-mens in Suid-Afrika.

Hier is ’n lekker praktiese uitdaging vir 2019: Die volgende keer wanneer daar ’n bohaai op jou kampus, werkplek of openbare plek is oor ’n standbeeld, kom ons probeer luister na die hartseer agter die geraas, ons mag dalk net iets van onsself hoor.

Ek los jou met my gunsteling Hunter Kennedy-liriek: “Al die fucked-up kinders rook / Maar kyk mooi / Daar is iets anders fout /”

  • Bouwer Bosch (34) is 'n musikant en filmvervaardiger en is 'n gasskrywer vir Die Student. Hy het BA Kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit studeer en kom ook oorspronklik van Potchefstroom af. Hy woon nou in Randburg.
Meer oor:  Bouwer Bosch  |  Menings  |  Studente  |  Diestudent
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.