Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Die Kanarie het gesing
Illustrasie: Aletta Simpson

Hierdie is nie ’n resensie nie.

Hoewel, as dit ’n resensie was, sou ek vir jou gesê het Kanarie is een van die beste Afrikaanse flieks wat ek in ’n lang tyd gesien het.

Ek sou ook genoem het dat die vermenging van genres (musiekspel, oorlog, romanse) verfrissend is en dat die akteurs uitstekend is.

Ek wil met julle deel wat ek uit die fliek geleer het. Ek het die fliek twee keer gaan kyk. Daar is soveel elemente aan die fliek ’n mens kan nie alles gelyk begryp nie.

LEES OOK: Nie één lelike boodskap oor mans se vryery in 'Kanarie'

Op die eerste vlak is dit ’n mooi fliek. Dis regtig visueel en tegnies stunning. Die kamerawerk is baie gefokus op die akteurs se gesig en ’n mens het die ervaring dat jy in hul lyf inklim. Dat jy vir die duur van die fliek die lewe uit die oë van Johan Niemand sien. Die musiek is ook pragtig en al gaan kyk jy dit vir niks anders nie is dit al die moeite werd. Dan is dit ook ’n mooi liefdesverhaal.

Maar dit is nie net enige liefdesverhaal nie. As jy al van die resensies en onderhoude oor die fliek gelees het, is daar ’n tweede vlak. Die besef dat dit ’n ware verhaal is. Dat dit ’n voorreg is om die intieme lewensverhaal van Charl-Johan Lingenfelder met hom te kan deel.

LEES OOKNuwe Afrikaanse fliek gee verlore generasie ’n stem

Dis met hierdie besef waar die vlakke begin kruis en kompleks raak. Met die tweede keer se kyk, het ek nog ’n paar dinge besef: die storie is nie net Johan Niemand se storie nie, maar ook die storie van enigiemand wat al ooit gevoel het asof hulle nie inpas nie.

Dan is die storie ook ’n storie wat vra “wie het jou seergemaak?” en die gehoorlid dwing om in stilte te antwoord en te dink: “ek”.

Die kanarie het gesing. Dis nou tyd dat ons luister.

Laastens, het ek ook besef dat van die angs in die fliek nie net op die grens gelos is nie; dat dit nie net aan Suid-Afrika se verlede behoort nie, maar dat dit nog aanwesig is in die land en dat dit elke dag nog deur ons geïnternaliseer word. Ons hou dit aan die lewe. Of dit nou angs is oor jy gay is of oor jou lewe net gebroke is.

As jy dit regkry om jou oor te gee aan Johan se storie dan kan dit nie anders as dat daar iets met jou gebeur nie. En so kragtig soos wat die storie is, dink ek dit het nie net met die spesifieke gebeure te doen nie. Dit het te doen met die eerlikheid en broosheid van die storie.

It’s powerful, because it’s true.

Die verhaal is nie net in die konteks van die fliek waar nie; dis nie net tydens ons geskiedenis waar nie: dis nóú waar.

Aanvaarding wat mense innooi

Aletta Simpson

Oor die rol van gay mense in die samelewing sê die fliek dat daar nie in ons land se verlede vir hulle ’n veilige plek was nie. Veral nie in die kerk nie. Maar ook nie in die huis nie en ook nie by hulself nie.

Die selfhaat wat so akkuraat in die fliek vertolk word, is vir my los hande die mees ontstellende deel van die onderdrukking wat uitgebeeld word in die fliek.

Vandag word daar in kerke ook luidkeels oor gay mense gedebatteer, oor of hulle “welkom” is of nie.

Daar is verskeie maniere om die debat te beskryf.

Hier praat ek van regte aanvaarding wat innooi en met geen voorwaardes nie. Dis nie ’n statiese aanvaarding nie, maar ’n gasvrye aanvaarding.

In die verlede is mense bewustelik “uitgestoot” daarom moet ons hulle weer bewustelik innooi. Behalwe vir die feit dat as enige gemeenskap gay mense uitsluit, die gemeenskap armer is, is daar hierdie ongelooflike onregverdige selfhaat wat iets soos hierdie openbare debat by ’n gay mens en hul geliefdes kan wek.

“Wie het jou seergemaak?” vra een van die karakters terwyl sy jou in die oë kyk.

“Do you really want to hurt?” weerklink die Britse sanger Boy George se refrein in die rolprent.

Die kanarie het gesing. Dis nou tyd dat ons luister.

  • Aletta Simpson (20) studeer BA Geesteswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Sy kom oorspronklik van Brackenfell in die Kaap.

Is jy 'n student en wil jy R5000 wen? Klik hier.

Meer oor:  Kanarie  |  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.