Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Die leuen van demokrasie
Shanté Kroukamp
Shanté Kroukamp

Demokrasie is ’n regeringsvorm wat gekenmerk word deur vrye media, burgerregte en gereelde, vrye verkiesings waaraan meer as een politieke party kan deelneem. Demokrasie verwys dus na ’n “regering gekies deur die mense”.

Teoreties is dit die mees regverdige politieke ideologie wat vryheid en gelykheid impliseer. In praktyk is dit egter die mees onpraktiese regeringsvorm, veral vir ’n onontwikkelde of ontwikkelende land.

Bekwame en beperkte mag word juis hier vereis vir leiding te midde van sosio-ekonomiese chaos. In die Suid-Afrikaanse konteks verrig demokrasie meer skade as goed en dit is die presiese rede hoekom ek nie gaan stem in die verkiesing van Woensdag, 8 Mei 2019 nie.

Demokrasie en die absurde

In ’n wêreld waar die individu aangemoedig word om te bevraagteken, uit te daag en menseregte beter te ken as religieuse tekste, word politieke mag en leierskap verkleineer en problematies herdefinieer.

Die individue wat die meerderheidsgroep vorm, neem besluite. Gevolglik is die hele land uitgelewer daaraan.

Politieke en ekonomiese kwessies is nie onderwerpe wat ligtelik opgeneem moet word nie en alhoewel politiek ’n gunsteling Suid-Afrikaanse onderwerp is, is minder as die helfte van dié politiek-praters gekwalifiseerd genoeg om ’n ingeligte politieke opinie te lewer wat voordelig vir die ekonomie is.

In ’n wêreld waar die individu aangemoedig word om te bevraagteken, uit te daag en menseregte beter te ken as religieuse tekste, word politieke mag en leierskap verkleineer en problematies herdefinieer.

Nou word diegene ’n stemreg gegun en die meerderheid se besluit word die realiteit ongeag van die gehalte van die stem. Alhoewel die demokratiese Suid-Afrika ’n rasionele oorsprong het, is daar feite wat aandui dat die konsep van demokrasie hier absurde elemente bevat wat nadelig is vir ekonomiese groei en algemene lewensgehalte.

Tipes politieke stelsels

Fundamenteel bestaan daar twee tipes politieke stelsels. Outokrasie teenoor demokrasie. Outokrasie is ’n regeringsvorm waar totale beheer aan ’n enkele politieke figuur of klein verkose groep behoort.

Dit word onderverdeel in ’n monargie of ’n diktatorskap. Daar is tans minder as 20 absolute outokrasieë ter wêreld en grondwet-vriendelike aanpassings daarvan soos gesien in Brittanje, die VAE, Noorweë, Swede en Turkye.

Hierdie lande word as ontwikkeld beskou en word meestal outokraties bestuur deur ’n monargie waar die burgers slegs ’n stem het in die bepaling van ’n verteenwoordiger wat deel vorm van die parlement.

Die eksklusiewe beheer is in die hande van ’n geleerde individu of kabinet wat deur wetgewing gemonitor word om korrupsie te probeer elimineer.

Die eksklusiewe beheer is in die hande van ’n geleerde individu of kabinet wat deur wetgewing gemonitor word om korrupsie te probeer elimineer.

Statisties gesproke bepaal die individu se stem nie die koers van politieke winde nie, soos gesien in die Amerikaanse verkiesing van 2016. 137 miljoen mense het gestem en elke individu se stem het ’n irrelevante 0,000007% getel volgens die Foundation For Economic Education en 71 Republic.

Verder is dit bekend dat Hillary Clinton meer stemme as Donald Trump verwerf het, maar steeds het Trump die verkiesing gewen.

Politieke figure gebruik skaamteloos die onkunde en emosies van gewone burgers tot hul voordeel. Afgesien van die feit dat demokraties-verkose Jacob Zuma gemaak en gebreek het soos hy wil, het hy en die ANC verskeie onrealistiese beloftes gemaak en die skare effektief gemanipuleer met kospakkies, T-hemde en uitgedateerde voorvaderpropaganda.

Politici lieg

Daar word geredeneer dat dit uiters belangrik is om te stem omdat dit my “verantwoordelikheid en plig” is. Nee, dit is nie. Suid-Afrika en die res van die wêreld is so getraumatiseerd deur outokratiese beheer dat demokrasie kultus-status bereik het en so in my keel afgewurg word dat ek nie meer ’n stem het nie.

Trauma en politiese korrektheid is nie genoeg rede om verplig te voel om te stem nie en dit is presies waaroor die verkiesings in SA nog altyd gehandel het.

Waar is die wil en gesonde dryfkrag om SA weer ’n ontwikkelde land te maak waar politieke leiers bewonder en vertrou word, ongeag velkleur? Ek verwerp my stemreg want ek glo nie in wat die demokrasie in SA beteken nie.

  • Shanté Kroukamp (21) studeer BA (Algemeen) aan die Universiteit van Pretoria.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Hierdie artikel is ‘n inskrywing vir Die Student se kompetisie oor die verkiesing. Lees die ander inskrywings hier.
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Verkiesingdiestudent  |  Verkiesing2019  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.