Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Die lewe is soos bergfietsry
Marelize Vermeulen
Marelize Vermeulen

Ek kon nog skaars op my eie twee voete staan toe my tannie vir my my heel eerste fiets gekoop het. Ek was permanent sielsgelukkig, buite op die werf, op my rooi fietsie saam ons goue labrador, Jessie.

So kom my ouers een middag by die huis en my fiets het net een kantwieletjie aan. Ek het die ander een iewers deur die dag afgery en ’n paar dae later het die ander wieletjie ook verdwyn. Sedertdien kan ek fietsry.

Ek kan nie veel van die episode onthou nie maar ek geniet die lag in my ouers se oë elke keer wanneer hulle die storie vertel.

In retrospek het daardie klein rooi fietsie my redelik goed vir ’n goeie paar lewenslesse voorberei.

Enigiemand wat al op ’n fiets was, sal getuig dat jy gaan omval as jy op die fiets probeer stilstaan.

Behou jou balans

Fietsry gaan dus oor die handhawing van balans in beweging. Dit laat dit effens wetenskaplik klink, maar dis eintlik eenvoudig. In die aangepaste woorde van ’n klein blou vissie: “Hou net aan trap” of my persoonlike weergawe “Just keep trapping”.

Dit is ook ’n bietjie hoe ons deur die lewe beweeg. Ek het op die moeilike manier geleer dat die aarde aanhou draai, die lewe gaan aan en ons word saamgesleep of ons trap of nie.

Soms is jy gelukkig as jy in die lewe kantwieletjies kry, ’n ondersteuningstelsel wat jou regop hou en dit ’n bietjie makliker maak om op alles anders te konsentreer terwyl jy nog jou balans probeer vind.

Die kantwieletjies is vriende en familie, jou mense. Daardie wieletjies moet gekoester word, maar jy moet ook leer om onafhanklik van hulle jou balans te behou. Kantwieletjies kan afval of breek. Mense bly tog mense en soms is daar teleurstellings en dan moet jy self jou balans kan behou.

Opdraandes herinner daaraan jou hoe sterk jy is. Dit toets jou stamina, spiere en hart. Dis ’n geleentheid om sterker te word.

Die opdraandes maak die paadjie soms moeilik. Op een van my gunsteling-roetes is daar ’n bult met die Strava-naam, Reality Check.

Opdraandes herinner daaraan jou hoe sterk jy is. Dit toets jou stamina, spiere en hart. Dis ’n geleentheid om sterker te word.

My gunsteling-deel van ’n opdraand is dat jy kan besluit hoe jy dit wil benader. Jy kan aan die onderpunt afklim en jou fiets opstoot, jy kan na ’n laer rat oorskakel en redelik gemaklik teen die bult uittrap, maar dit sal jou aansienlik langer neem. Jy kan ook volspoed begin en halfpad teen die bult stop, of jy kan omdraai en dit nooit probeer nie.

Ek hou daarvan om met ’n goeie ritme in ’n gemiddelde rat op te ry, so meter voor die wiel te fokus en alles tot bo in te sit. Soms moet ek na laer ratte oorskakel en ander kere druk ek deur. Maar ek het ly gans te veel aan fomo (vrees om iets te mis) om nie die uitsig bo-op die bult te sien nie.

Staan weer op

Gelukkig het die meeste opdraandes ook daarna ’n lekker afdraand. Dan kan jy bietjie asem skep, jou bene rus en die uitsig op die omgewing waarvoor jy so hard gewerk het, in die ry aanskou. Les jou dors en haal diep asem.

LEES OOK: 20 waarhede aan die jonger ek...

Glo my, ek val gereeld (nee, ek is nie dáái Marelize nie). My beste vriend reken ek val so baie omdat ek nie bang is om te val nie.

Ek glo die lewe kan op twee maniere aangepak word: Jy kan bang wees om te val en heeltemal te versigtig wees, of my manier – gaan voluit en met spoed die lewe tegemoet. Dis altyd die moeite werd, al val jy ’n slag of wat. Die beste van val is die opstaan en weer probeer. Dit wys dat niks jou kan onderkry nie.

Oasis van hernuwing

Ek het baie jare lank aan skouspring deelgeneem. Een van die eerste dinge wat jy leer, is hoe meer jy val, hoe beter kan jy ry.

Dit is in die lewe ook so, hoe meer jy val, hoe meer staan jy op, hoe meer leer jy en hoe sterker en slimmer pak jy die lewe aan.

Daar is soms ook klein dingetjies wat kan skeefloop soos ’n pap wiel of ’n ketting wat afspring. Beskou dit as ’n tyd om asem te skep. Dit gee jou geleentheid vir introspeksie en retrospeksie – ’n kans voordat die res van die wedloop aangepak word.

Om dinge te doen wat ons geneig is om eenkant toe te stoot of af te skeep omdat ons dit as minder belangrik ag. Die oasis is hernuwing, jy word daaraan herinner om ’n bietjie na jouself te kyk en nie na almal om jou nie.

Die oasis, my gunstelling-deel. Die kans om jou energievlakke aan te vul, om na jouself te kyk. Ek dink dit is belangriker as om die wedloop te wen. Dit is ’n geleentheid om iets goeds vir jouself te doen, om na jou hart, jou siel en jou lyf te kyk.

Om dinge te doen wat ons geneig is om eenkant toe te stoot of af te skeep omdat ons dit as minder belangrik ag. Die oasis is hernuwing, jy word daaraan herinner om ’n bietjie na jouself te kyk en nie na almal om jou nie.

Dan natuurlik, die eerste reël in bergfietsry: Waar jy kyk, is waarheen jy gaan. So kyk vorentoe en moet jou nie vasstaar in die opdraandes, struikelblokke, klippe of gate nie. Hou jou doel in gedagte, jou eindbestemming. Al is dit hoe klein of groot.

Marelize Vermeulen
Marelize Vermeulen

Elkeen se resies is anders

My wiskundejuffrou het altyd gesê dat as jy glo dat jy dit kan doen, is jy reg, en as jy glo dat jy dit nie kan doen nie, is jy ook reg.

Dit gaan oor jou eie bestemming waarin jy glo en nie oor enigiemand anders s’n nie.

Elkeen se resies is anders, net omdat jy nie op dieselfde pad as iemand anders is nie, beteken dit nie dat jy verdwaal het nie. Almal is nie naelryers nie, sommige mense verkies om teen ’n ander spoed te ry.

My sussie se storie oor “leer fietsry” verskil aansienlik van myne, maar vandag kan sy fietsry en haar resies lyk anders as myne.

So my raad ná ure se trap op my bergfiets: Just keep trapping! Jy kán hierdie lewe-ding doen!

  • Marelize Vermeulen (23) studeer BCom Regte aan die Universiteit van Pretoria en is ook tans 'n tweede jaar BSC genetika, sielkunde en fisiologie student aan dieselfde instansie.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.