Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Die probleem met ‘problematies’
Aletta Simpson.

Ek het ’n nuwe plesiertjie. Ek lees die kommentaar op my opiniestukke op Die Student op Netwerk24.

My gunsteling sover: “Hierdie is die grootste klomp liberale s****t wat ek in ’n lang tyd gelees het.”

Ek vat dit as ’n kompliment. Maar ek sal ook graag wil bylas: Challenge accepted.

As BA-student aan die Universiteit Stellenbosch het ek in my eerste klas al ’n paar belangrike terme geleer, naamlik feminisme, patriargie, die Ander en problematies. Hierdie terme word dikwels sonder konteks op kampus rondgeslinger en daar ontstaan ’n soort kultuur van roekelose misbruik daarvan. Die meeste BA-studente sal met gemak vir jou sê dat hulle “allergies” is vir die woord “problematies”.

Ek dink studente vermy die woord “problematies” omdat ons moeg is vir gesprekke wat nie gedrag verander nie. Omdat ons moeg is vir die uitwys van taal wat nie “polities korrek” is nie, maar ons kommunikeer nie op ’n manier wat mekaar se opinies verander nie. Ek dink wat ek probeer sê is, studente verstaan dit help nie om net te praat nie.

Ons is al almal opgevoed oor die betekenis van die woord “problematies”. Die meeste BA-studente kan ’n rassistiese of seksistiese uitbeelding ’n myl ver sien. Maar wat dan? Wat maak ons met hierdie waarnemings?

Die probleem met patriargie

Ek dink vir nou wil ek eers fokus op patriargie. Ek sal graag hierdie term so ’n bietjie wil problematiseer (jammer – hier is die woord weer, maar byt vas: ek sal by die punt uitkom). Patriargie is ’n vorm van onderdrukking. Dit word gesien as die onderdrukking van verskeie minderheidsgroepe deur wit mans. Maar ek wil almal attent maak op die maniere waarop mense wat nie wit is nie of nie mans is nie, ook hierdie stelsel in stand hou.

Daar is ontsaglik min wat teen my tel in die samelewing en ek gaan dit nou hier erken en erken dat ek daarvan bewus is. Ek is wel ’n vrou en my slegste ervarings met patriargie tot dusver was ander vroue wat dit in stand hou:

  • Vroue wat kommentaar lewer op my kleredrag en voorkoms, want iemand wat gebore is met vroulike geslagsorgane moet aantrek soos ’n vrou, sit soos ’n vrou, loop soos ’n vrou, wees soos ’n vrou en sy moet asseblief tog net nie vergeet of te lui wees om haar beenhare te skeer nie.
  • Vroue wat my daarop attent maak as ek my nie gedra soos ’n vrou nie. Hoe durf ek my opinie lug? Hoe durf ek vir jou sê as jy my nie soos ’n gelyke hanteer nie? Hoe durf ek jou vra hoekom dinge moet wees soos wat dit is as die enigste antwoord is dat dit nog altyd so was?
  • Vroue wat vir my sê ek sal nooit ’n “man vang” as ek so hard oorkom nie. As ek dan vra wat dit beteken: Jy is te doelgerig. Jy is te opinionated. Jy is te eiewys. Jy hou jou te slim. As ’n mens wil hê ’n man moet jou nader, moet jy minder gevaarlik voorkom. Moenie die man laat dom voel nie. (As ek nou doodeerlik is, dink ek vroue moet oppas om mans se intelligensie so te onderskat.)

Dit alles gesê: Wat nou?

Hier is my punt: Die maklikste manier om die patriargie aan te vat, is om nie toe te laat dat jy ook so optree teenoor die Ander nie. Wees bewus van die patrone en norme wat die patriargie skep en daag dit uit. Hiermee bedoel ek nie jy moet jou hele lyf laat tatoeëer en boheems aantrek nie (maar as dit is wat jou hart begeer, asseblief, maak nes jy wil). Wat ek hiermee bedoel, is die volgende:

  • Help jou vriende sodat hulle sê wanneer hulle sien iets is nie reg nie.
  • Gaan oopkop met kritiek om. Moenie altyd kritiek afmaak sonder om dit te oorweeg nie.
  • Probeer om nie na mense te kyk in terme van watter “rol” hulle vervul of moet vervul nie. Kyk eerder na wie hulle is.
  • Moenie kommentaar lewer op iemand se voorkoms nie, behalwe as dit ’n kompliment is, want wie het jou die polisie van styl en norme gemaak? Wat maak voorkoms nou regtig saak? As die persoon gemaklik is, behoort jy bly te wees daaroor.

Wanneer jy weer die woord “problematies” hoor, probeer om te dink wie verantwoordelik is vir die polisiëring van hierdie norm. Die antwoord sal jou waarskynlik verbaas. Daar is altyd die kans dat jy met jou gedragsverandering ook ’n verskil kan maak.

  • Aletta Simpson (20) studeer BA Geesteswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Sy kom oorspronklik van Brackenfell in die Kaap.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.