Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Dié pyn maak jou tog beter, sterker
Michelle Smart
Michelle Smart

Daar is twee soorte pyn in ons wêreld.

Daar is fisieke pyn. Jy dink dalk aan ’n kopseer, ’n kramp, ’n gebreekte been of selfs ’n hartaanval.

Ek het al twee keer in my lewe nierstene gehad (dis blykbaar geneties) en albei kere moes die stene verwyder word, want my niere het gevaarlik begin swel. Só ja, ek dink ek het ’n goeie begrip van fisieke pyn.

Dan is daar emosionele pyn.

Albei is soos ’n groot brander wat ’n kuslyn insluk, so groot dat jy nie jou voete kan vind nie.

Maar die verskil is: met fisieke pyn kan jy sink, verdrink en dis dan verby. Jy sterf aan ’n hartaanval, jy bloei dood op pad hospitaal toe, jy breek jou been en ná ’n paar maande van medikasie en dokters kan jy weer normaal loop.

Met emosionele pyn sink jy nie, jy bly dryf. Jy gryp na alles, ’n reddingsboei, ’n tak, ’n hand maar die stroom is sterk en jy spoel maar net dieper in.

Met emosionele pyn sink jy nie, jy bly dryf. Jy gryp na alles, ’n reddingsboei, ’n tak, ’n hand maar die stroom is sterk en jy spoel maar net dieper in.

Ná ’n kleurlose ewigheid spoel jy iewers in ’n hoek vas, jy plas uitasem rond, sit regop en kyk om jou. Langs jou lê jou selfoon, jy onthou jy kan iemand bel. Hoog bo jou sien jy ’n straaltjie lig, jy onthou jy kan bid. Maar jy leun net agteroor en die stroom trek jou terug in die ewige grysheid in.

Emosionele pyn het baie oorsake

Daar is, soos met fisieke pyn, vele oorsake van emosionele pyn. ’n Verhouding wat nie uitwerk nie, die verlies van ’n vriend of familielid, ’n toets wat gepluk is en dat daar oor ’n paar jaar meer plastiek in ons oseane gaan wees as water.

Maar die lewe is kort, verpligtinge is volop en oorlewing is voltyds. ’n Mens kan nie jou hele lewe oor emosionele kwale tob nie. Jy kan ook nie net ’n pleister met ’n bietjie Germolene opplak en hoop jy ontwikkel nie ’n infeksie nie. Hoe genees ’n mens dan emosionele pyn?

Daar is die langtermynoplossing: tyd en die gewilder opsie: ’n troosding.

LEES OOK: Dis okay om nie altyd okay te wees nie...

’n Troosding is soos ’n plat maag of ’n blink aandrok, tydelik maar treffend. Dis ’n kortstondige lafenis wat alle slegte situasies vir ’n wyle verdoof.

’n Troosding los nie die situasie op nie, draai jou geen rat voor die oë nie en is nie ’n beloning nie. Dit herinner jou net dat die wêreld geskape is met alle goeie moontlikhede en dat jy net ’n bietjie ontspoor het.

Dit moet gevoel word

Die punt bly dat emosionele pyn gevoel moet word. Dis soos ’n vyfde seisoen met sy eie temperatuur en aktiwiteite. Ek sal net nie weet waar om dit op ’n kalender te sit nie, want emosionele pyn is oral, die heeltyd. Dit vind sy draers sonder diskriminasie, dit maak lêplek in jonk of oud, sterk of swak.

Maar sonder emosionele pyn sou van die mees tydlose kunswerke en literatuur nie bestaan nie.

Dit komponeer van die mooiste en gewildste deuntjies. Aan die ander kant, is dit die skrywer van die wreedste geskiedenis en veroorsaak partykeer net onnodige konfrontasie. Dis wat jy daarvan maak wat saak maak.

Wanneer ’n mens emosionele trauma ervaar, maak dit ’n deur oop na groot empatie en begrip vir ander se swaarkry.

Wanneer ’n mens emosionele trauma ervaar, maak dit ’n deur oop na groot empatie en begrip vir ander se swaarkry.

Ek mag dalk nooit emosionele pyn heeltemal verstaan nie, maar persoonlik glo ek aan erkenning. Praat oor wat jou seermaak. Laat dit uit, anders sweer dit in jou.

Ek glo dat dit my beïnvloed, dat dit my laat struikel en my selfs partykeer aanspoor, maar ek weet vir seker dat dit my beter en sterker maak as voorheen.

  • Michelle Smart (21) studeer BSc Aktuariële en Finansiële Wiskunde aan die Universiteit van Pretoria. Sy bly in Hartbeespoort.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.