Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Die pyn van groepwerk: 'Skop hom onder die g*t en doen die werk self'
Carla Otto
Carla Otto

Groepwerk – ’n woord wat ’n rilling teen enige pliggie se ruggraat afstuur. ’n Mens sou dink dat vele hande ligte werk maak, maar in dié geval is dit beslis nie so nie! Die vele hande maak eerder ’n gemors wat een paar hande alleen moet opruim.

Ons het almal al met daardie één persoon (as dit nie jyself is nie) te doen gekry. Hierdie lid van die groep daag nie op vir besprekings nie en, as die persoon wel opdaag, is daar geen deelname nie: Sit heeltyd op die foon en kyk na Fantasy League-fixtures. Party van die verskonings wat groeplede aanbied, is om van te lag. Ek wens net dat daardie kreatiwiteit by hul eintlike deelname ingeploeg kon word.

Om dan nie eens te praat van die akademiese werk nie. Dit is vir my werklik skokkend om die standaard van party studente se werk te sien, maar kom ons fokus nie nou dáárop nie – dit is ’n meningstuk op sy eie.

Die harde werk wat een persoon doen, dalk twee as jy gelukkig is, se eer en erkenning kom die hele groep toe.

Fokus is nou op groepwerk: Dis sosialisme in akademiese formaat. Die harde werk wat een persoon doen, dalk twee as jy gelukkig is, se eer en erkenning kom die hele groep toe. Ek haat dit wanneer ’n dosent sê dat groepwerk ’n mens leer om met verskillende mense saam te werk en dat jy dit ook eendag in jou beroep gaan teëkom.

Dit mag dalk so wees, maar as die persoon nie sy kant bring in die werkplek nie, ontvang die skuldige ’n waarskuwing, geen salaris óf ’n moontlike afdankingsbrief.

Indien geen van hierdie geïmplementeer word in die werkplek nie, bevraagteken ek die werketiek daarvan.

Studente kom maklik daarmee weg!

Op universiteit trek die dosente maar net hul skouertjies op, so asof hulle probeer sê: “Nou wat moet ék daaraan doen?”

My argument is dat party dosente wel iets daaraan wíl doen, maar nie noodwendig kán nie. Neem in ag dat sommige van die groepwerk verantwoordelik is dat van die studente uiteindelik hul graad behaal. In die geval van my honneursgraad is dit werklik so.

Dan, die vanselfsprekende feit: Hoe meer studente slaag, hoe meer geld gaan gevolglik aan die universiteit (en die dosente).

Die groepbenadering is ’n struktuur wat, volgens my, geïmplementeer word om seker te maak dat die agterosse op die meriete van ander ook deurgetrek word. Hierdie benadering keer dat daardie sogenaamde “A-Teams” vorm om te verseker dat daar geen loafers in die groep is nie. Boonop verminder dit die hoeveelheid werk wat die dosente, of hul assistente, moet merk.

Nagte om, naweke om, sit vakansies om en werk om te verseker dat die taak van die beste gehalte is.

Ek wil graag, as pliggie, my frustrasie en die frustrasie van al my ander mede-pliggies aan die dosente rig: Wat van ons geesteswelstand?

Ons raak so mismoedig wanneer ons op ander groeplede se Instagram-stories sien dat hulle kuier of net ontspan by die huis, terwyl ons so hard werk aan die taak dat die sweet ons aftap. Nagte om, naweke om, sit vakansies om en werk om te verseker dat die taak van die beste gehalte is.

Dan kom die uiteindelike klap in die gesig: Die naam van die groeplid wat niks bygedra het nie, wat ook op die voorblad van die taak pronk.

Soos wat my vriend sê: “Groeptake het my laat besef waarom Batman vir Robin onder die gat geskop het en die werk net self gedoen het.”

  • Carla is besig met ’n BCom-honneursgraad in entrepreneurskap en bemarking op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus. Sy het ’n graad in BCom (kommunikasiebestuur) aan dieselfde universiteit verwerf. Sy is oorspronklik van Vereeniging.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!
  • Ons stuur elke Vrydag ‘n nuusbrief uit met die drie gewildste meningstukke van die week. Klik hier en teken in vir die Stemme-nuusbrief.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.