Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Die pyn van politiek
Francois van Rensburg
Francois van Rensburg

Ek hou nie van politiek nie.

Dit is nie my gebied van deskundigheid nie, alhoewel dit met tye voel asof elke persoon breedvoerige kennis van die politiek het.

Verder geniet ek ook nie die afpersing en beloftes wat gemaak word in verkiesingsjare nie. Ek spring ook geensins op en af van opgewondenheid wanneer ek die moddergeveg aanskou tussen die politieke partye en hul uitverkoopte volgelinge nie.

Dit maak dat ek hoop verloor in die mensdom en ook dat ek die emosionele koëffisiënt van alle volwasse burgers van die land bevraagteken.

Ek is nie iemand wat in debat sal tree oor die politiek nie, want ek erken ek het geen kennis van politiek of die wetenskap (sosiale wetenskap, dan) daaragter nie.

Ek weet die meeste mense meen wanneer jy alles lees wat in die politieke partye aangaan en genoeg nuus kyk en lees, jy bevoeg is om jou mening te gee en om in debat te tree daaroor, maar my mening daaroor verskil ietwat.

Ek glo dat daar mense is wat vir drie (of meer) jaar lank politiek studeer aan goeie universiteite wat met die grootste graagte die debatte kan voer oor watter party besig is om die land in die afgrond te dryf en oor watter party die land beter maak, maar ek is nie een van daardie mense nie.

Wat ek wel kan doen is om my mening te gee oor hoekom ek vir die party stem waarvoor ek stem. Ek kan my mening gee oor wat ek in die realiteit sien en oor watter beginsels ek by aanklank vind. Ek kan my opinie gee oor hoekom ek nog stem vir ’n politieke party in ons land.

Pasop vir manipulasie!

Ek lees en kyk nie nuus voor verkiesings nie, want dit maak dinge moeilik en ek weet mense gaan uit daarop om ander te manipuleer en te oortuig.

Een party probeer die wêreld oorreed dat ’n ander party sleg is en die ander party probeer vrees in elke mens wek om vir hom te stem. Dan kom holruggeryde debatte oor ras, kultuur, geslag, seksualiteit, en dies meer.

Jy word gebombardeer met inligting wat dalk (of nie) op feite gebaseer is en jy sukkel om die besluit te neem, want nou is jy deurmekaar.

Die uiteinde van die saak is, ek gaan stem want dit is die land waarin ek bly. Die land wat ek huis noem. Die land waarin ek funksioneer en waarvoor ek lief is ongeag al die seer en sukkel.

Ek neem veel eerder my besluit op grond van die afgelope drie jaar se gebeure. Wat het die huidige regerende party gedoen vir die bevordering van die land in geheel?

Is dit genoeg vir my om weer vertroue in hulle te sit, of was daar ’n ander party wat my aandag getrek het?

Indien wel, is ek bereid om my vertroue in dié party te plaas? Dit is heel eenvoudig vir my: Kyk na die beloftes, kyk na die uitsette, en oorweeg die opsies.

Die uiteinde van die saak is, ek gaan stem want dit is die land waarin ek bly. Die land wat ek huis noem. Die land waarin ek funksioneer en waarvoor ek lief is ongeag al die seer en sukkel.

Die kruisie gee jou 'n sê

Ek gaan stem, want aan die einde van die dag wil ek kan sê ek het my mening gegee. Dan het ek die reg om te sê ek is nie tevrede nie wanneer die slaggat my wiel afskryf en wanneer ek sien hoe my minderbevoorregte vriende sukkel om hulle kinders opgevoed en geskoold te kry.

Dan kan ek sê ek is ontevrede met hoe die land bestuur word en met die beloftes wat nie nagekom is nie.

Dan kan ek my mening gee, want ek het my kant gebring! Ek het my bes gedoen om verandering na te streef en ek het my bes gedoen om my insette te lewer.

Solank as wat ek in hierdie land bly, sal ek glo dat my stem tel – as ek en een miljoen ander mense net soos ek besluit om nie te stem nie, wie se stem gaan tel?

  • Francois van Rensburg (23) studeer MSc (Stads- en Streeksbeplanning) aan die Noordwes-Universiteit. Hy kom oorspronklik van Stilfontein.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Hierdie artikel is ‘n inskrywing vir Die Student se kompetisie oor die verkiesing.Lees die ander inskrywings hier.
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Verkiesingdiestudent  |  Verkiesing2019  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.