Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Die R2 wat my perspektief verander het
Happy young woman playing toy grabbing game with f

Vroeër die jaar het ek en my gesin gaan inkopies doen en soos altyd ná die tyd iets gaan eet.

By die eetplekke is daar ’n speletjiesarkade met perdjies wat in die rondte draai en natuurlik die swart skaap van speletjies: die claw crane. Soms vang jy iets en ander kere breek die masjien sodra jy die R2 ingooi. Party mense beskou die masjien as ’n mors van geld, waarmee ek saamstem as ek dink aan al die R2’e wat ek al daar bestee het.

Maar ten spyte van die wete dat jy nie iets gaan vang nie, trek die masjien steeds jou aandag, veral as jy ’n teddie sien waarvan jy hou. Daar was ’n oomblik toe dit amper in die gat geval het, maar soos gewoonlik besluit die apparate anders.

Soos ek munt ná munt ingooi, kom staan daar ’n seuntjie en sy sussie by my en moedig my aan. Ongelukkig het my geld opgeraak en met ’n verslae gesig sê ek toe vir my twee aanhangers dat die geluksgodin nie aan my kant was nie.

“It’s okay,” het die seuntjie gesê voordat hy en sy sussie terug na hul ouers is.

Chànde van der Westhuizen
Chànde van der Westhuizen

Met ’n leë beursie en gekneusde ego sluit ek weer by my ma en suster aan. My ma wil weet hoeveel geld ek hierdie uitgegee het. Ek jok en sê seker net so R10.

Ons kos het gekom, maar ek kon nie eens my melkskommel geniet nie. Ek kon net aan die seuntjie dink wat so gelukkig gelyk en my aangemoedig het.

’n Paar skyfies later verskyn ’n klein gesiggie by ons tafel. Tot my verbasing was dit die seuntjie met die teddie in sy hande!

“I caught it. You can have him.”

En sonder nog ’n woord is hy weer weg. Op daardie oomblik het die trane vlak in my oë gelê en sonder om vir my ma en suster te verduidelik wat aangaan, is ek agter hom aan.

Gelukkig was hy en sy gesin ook by ’n eetplek en toe ek hom sien, het ek hom ’n stywe drukkie gegee. As ek nou daaraan dink, het sy ma seker gedink dat ek hom wou ontvoer.

Hy glimlag toe en vra of hy nog iets vir my kan vang. Soos ek die trane keer, verduidelik ek vir hom dat hy die teddie moet vat en dit as sy gelukbringer moet hou. Hy vat toe die teddie en sê dat hy hom Lucky gaan noem. Sy pa vertel my toe dat hy ’n R2 kom vra het, want hy wou die hartseer meisie help. Met sy eerste probeerslag vang hy toe die teddie.

Voordat ek loop, kom gee die seuntjie my nog een laaste drukkie en sê dat ek die volgende keer iets sal vang.

Hy was reg. Ek het toe iets gevang, maar nie by die masjien nie, maar wel metafories. Dit wat ek beleef het, was meer werd as die teddie en aantal munte wat ek uitgegee het. Ek verstaan nou waarom mense sê dat kinders die lewe anders as volwassenes sien.

  • Chànde van der Westhuizen studeer Afrikaans-Nederlands en sielkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy het in Kuilsrivier grootgeword.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!
  • Ons stuur elke Vrydag ‘n nuusbrief uit met die drie gewildste meningstukke van die week. Klik hier en teken in vir die Stemme-nuusbrief.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.