Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Die regering verkrag ons land'

Ek gaan stem, want my ouers sê ek moet. Ek grap net. Maar só ’n situasie is dikwels die geval.

Corine Raath
Corine Raath

Ek sal jok as ek sê politiek is my sterk punt. Maar selfs ék weet dat wat op die oomblik in ons land gebeur, minder as ideaal is – om dit sagkens te stel.

Ek beskou myself as ’n intellektueel, ek sit immers my dae om en leer op universiteit en tog weet ek nie hoe iets so belangrik soos die politiek werk nie. En ek is nie die enigste een nie.

Dis tyd om wakker te skrik

Die huidige regering is besig om ons land te verkrag. Daar is geen ander manier om dit te stel nie. As ons in ’n hof moes getuig, sou die regter beslis dat ons, die slagoffer, die regering uitgelok het.

Nie met verleidelikheid nie, nee, met onkunde. Sien, Suid-Afrika se grootste probleem is dat ons nie wéét nie. Ons staar ons vas in die verlede met ’n apartheidsgedrewe politieke bestel, (leë) beloftes oor werkskepping en gelyke regte terwyl die skaal nou na die anderkant oorhel.

Maar wat van al die sogenaamde indabas waar politici hulle ooreet, die dreigende watertekort terwyl Nkandla met ’n swembad sit “vir ingeval van ’n vuur”?

Hoekom word daar so min drastiese stappe oor belangrike kwessies gedoen? Dis altyd net een groot grap. Gaan dit nog ’n grap wees as ons die volgende mislukte Afrika-staat is?

Dis tyd om wakker te skrik. En hiermee sluit ek al die groepe in ons land in. Jy stem nie vir ’n kleur, kultuur of taal nie, jy stem vir Suid-Afrika en as jy nie jou eie vooroordele in die sak kan steek en die klappe van jou oë afhaal nie, gaan daar binnekort niks van daardie “groep” oorbly wat jy probeer beskerm nie.

So, ja, ek gaan stem, nie omdat ek regtig enige hoop het dat my kruisie ’n verandering gaan meebring nie, maar omdat ek my nie wil indink hoe Suid-Afrika gaan lyk as dit nie gebeur nie.

Op skool moet leerlinge deur talle LO-periodes wroeg terwyl hulle wéér oor vigs leer. Wat help dit ons as die mense wat daardie kennis die nodigste het waarskynlik nie eens in ’n skool is nie?

Wat help dit om verniet kondome in ’n openbare toilet te verskaf as die munisipaliteit nie eens die netheid van daardie einste toilet in stand kan hou nie?

Ek probeer nie die gevaar van sulke siektes minag nie, maar vir baie van ons is dit iets wat ons van kleins af weet.

Dalk is die beste teenmiddel vir die figuurlike vigs, die toestand van ons land, nie nog ’n LO-les nie, maar ’n nuwe regering.

Leer jeug oor politiek

As die regering dan so graag wil hê ons moet ingelig wees, leer ons jeug oor die politiek. En nie net van apartheid nie. Ons wil weet wat nóú gebeur. Ons bou tog aan ’n toekoms en nie aan ’n verlede nie.

Die regering behoort juis dié te wees wat die belangrikheid daarvan insien. Of het hulle iets om weg te steek?

Apartheid het juis soveel steun gekry omdat mense oningelig was. Mense was geïndoktrineer om slegs een kant in te sien; dis die hele punt van propaganda.

Dis tyd om vrae te begin vra – eers dán sal ons ’n ingeligte besluit in die 2019-verkiesing kan neem.

En alhoewel ek nie saamstem met propaganda nie, stem ek nog minder saam met mense wat nie inligting bevraagteken nie. Gaan jy hierdie verkiesing jou keuse maak op grond van die party waarvoor jou ouers stem? Of stem jy soos jou man?

Dis tyd om vrae te begin vra – eers dán sal ons ’n ingeligte besluit in die 2019-verkiesing kan neem.

So, ja, ek gaan stem, nie omdat ek regtig enige hoop het dat my kruisie ’n verandering gaan meebring nie, maar omdat ek my nie wil indink hoe Suid-Afrika gaan lyk as dit nie gebeur nie.

  • Corine Raath (19) studeer BA Wiskunde en Geesteswetenskap aan die Noordwes-Universiteit. Sy kom oorspronklik van Bellville in die Kaap.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Hierdie artikel is ‘n inskrywing vir Die Student se kompetisie oor die verkiesing. Lees die ander inskrywings hier.

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Verkiesingdiestudent  |  Verkiesing2019  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.