Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Die toestand van die ewige soeke
Ingrid Jonker. Foto: Tom Burgers

As kunstenaar en skrywer is ek konstant in ’n toestand van soeke. Soeke na oorspronklike kuns, soeke na nuwe maniere om dinge rondom my uit te beeld en ook op ’n soektog na die ware betekenis en doel van kuns.

Kuns en maatskaplik-politieke kwessies is al eeue lank verstrengel in mekaar. Onder meer was daar groot beroering in die 1960’s oor die Nasionale Party (NP) se siening van kuns en sensuur.

Bekende digters en skrywers soos Ingrid Jonker en Uys Krige was voorlopers in die stryd teen die NP sodat kunstenaars sonder vrees kon skep. Gedurende hierdie tyd is massas boeke, kunswerke, uitsendings en programme deur die staat verbied. Die NP het ook die volle samewerking en ondersteuning van die SAUK gehad en dié het ’n magdom albums en snitte van sy uitsendingslys verwyder.

Vat dit nog ’n aantal jare terug, en ons beland by Plato se Republiek. Hierdie boek is teen 380 v.C. geskryf en in ’n onbekende deel van die dialoog skryf Plato en sy leermeester, Socrates, oor die verbanning van digters uit die idealistiese staat omdat dit ’n gevaar inhou vir die gemeenskap en staat.

Maar waarom? Watter gevaar hou kuns dan vir die gemeenskap en staat in?

Gooi hierdie kwessies in ’n pot en kook dit tot die essensie van die probleem agter bly, en jy kry drie moontlike redes:

  • Die mense wat sensuur toepas (regering, staatshoof) is oningelig;
  • Mense wat sensuur aan kopiereg wil onderwerp en die gepaardgaande geld (“royalties”) na hulle toe wil bestuur; en
  • Die mense wat sensuur wil toepas, wil gepubliseerde kuns manipuleer vir politieke doeleindes

Rede 1 is kommerwekkend, rede 2 is bedrog en rede 3 is gevaarlik en ook staatspropaganda.

Nou watter een is die werklike rede?

Ek dink die antwoord is te vind in die konteks van die situasies waarin sensuur toegepas is.

Volgens Plato en Socrates is digters onder meer skuldig aan “the Theory of Imitiation”. Hierdie teorie ondersoek die idee dat waarnemers van kuns ook daardie kuns sal na-maak. In eenvoudige terme, indien jy ’n gedig lees oor selfmoord, verhoog dit ook die kans dat jy oor selfmoord sal dink en wonder. Volgens Plato is hierdie fenomeen ’n ernstige bedreiging vir die gemeenskap en staat. Dit kan beskou word as ’n vorm van propaganda en, in ’n neutedop, breinspoeling.

Waaroor ons wel kan saamstem, is dat kuns magtig is.

Tydens die apartheidsera het baie digters en kunstenaars uitsprake gelewer deur middel van hul kuns. Apartheid is direk gehanteer in werke van kunstenaars, en die wantroue in die regering is ook duidelik gemaak deur baie skrywers. Dit het ’n groot gevaar ingehou vir die destydse regering wat sy gesag met alle mag wou behou. Die uitspraak van wantroue in kuns sal heel moontlik ook die publiek laat wonder en twyfel. En dit is hier waar dit gevaarlik raak vir die persone in wie getwyfel word.

Die oplossing is dus om sensuur toe te pas. Verwyder die bron van twyfel, en die twyfel raak leeg.

Die SAUK het byvoorbeeld alle musiek waarin in meer as een taal gesing word aan sensuur onderwerp. Dit het waarskynlik vir die regering soos rasse-vermenging geklink en hulle was bang dit “beïnvloed” die publiek.

’n Ander oplossing is om kuns wat die staat se oortuigings ondersteun te gebruik as propaganda.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Nazi-regering hierdie konsep alte goed verstaan.

Almero Welgemoed

Na aanleiding hiervan moet ons egter die vraag vra: is dit gevaarlik as die leser, luisteraar en publiek beïnvloed word deur kuns? Om onreg in die visier te kry is een ding, maar wat as die kunstenaar nie skryf oor aktuele kwessies nie, maar eerder persoonlike struikelblokke? Indien ’n gedig oor depressie die leser beïnvloed, is dit gevaarlik?

Of wat as kuns gebruik word om onreg te ondersteun en te regverdig?

Hier raak dinge grys en minder duidelik. Ek kan dit nie beantwoord nie.

Verantwoordelike kuns is objektief.

Visuele uitbeelding, taal en bemarking is die nommer 1-vorm van propaganda. As jy omring word met ’n sekere denkwyse, filtreer dit deur na jou eie manier van redeneer. Verpak hierdie denkwyse in iets moois en kunstigs en die boosheid daarvan word amper heeltemal weggesteek.

Dit is waarom bewegings soos apartheid en segregasie suksesvol was, al klink dit vir ons nou absoluut belaglik.

Die verantwoordelikheid lê dus by die kunstenaar. Die pen is werklik magtiger as die swaard.

En soms is die verfkwas ’n wapen.

  • Almero Welgemoed (21) studeer sielkundige berading aan Unisa. Hy kom van Bloemfontein af en is ook heeltyds 'n musikant en skrywer.
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Kuns  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.