Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Die verlamming van depressie

This illustration shows a sad man sitting at a tab

Ek, nes vele my ouderdom, is onlangs getref deur die werklikheid van hoe dringend radikale verandering gaan moet plaasvind indien ons as ’n samelewing ’n kans wil staan.

Klimaatsverandering, polisiemagte die wêreld heen wat voel hulle kan enige en elke probleem oplos indien hulle genoeg geweld toepas, ’n wêreldwye krisis met geestesgesondheid, geslagsgeweld, kapitalisme se neiging om die rykes ryker te maak en dié wat die minste het harder en harder te laat werk om ’n mate van ’n ordentlike lewe te kan handhaaf.

Daar is baie fout in die wêreld, en dit is ons almal se plig om onsself op te voed oor die probleme en te help om ons samelewing te hervorm tot iets wat regverdig en volhoubaar is.

Ek voel baie sterk oor hierdie kwessies (dis taamlik ooglopend, ek het immers die tyd bestee om hierdie artikel te skryf), maar ek moet bieg: al voel ek hoe sterk daaroor, ek kan nie hierdie plig in dié verband nakom nie.

Francois Haupt
Francois Haupt

Ek haat dit om myself op te voed oor hierdie sake, want dit is ontstellend om te besef hoe erg die wêreld in sy tjops is. Veral sodra jy besef hoe diep die probleme loop en hoe lank en hard mense, wat baie slimmer is en veel meer mag en invloed het as jy, al dekades lank werk om hierdie kwessies te verstaan en beveg.

Hoe meer ’n mens lees, hoe meer besef jy ook dat daar nie so iets soos ’n eenvoudige oplossing is vir die meeste probleme nie. As daar was, sou die probleme lankal opgelos gewees het en sou ons almal maar net kon gaan lunch.

Ek ly aan depressie en angs en om na sulke realiteite te kyk, is nie my idee van “uitdagend en opwindend” nie, dit maak my moedeloos en histeries.

Ek beskou ’n week as ’n sukses as ek nie my graad opgeskop het nie en minstens een keer buite klasure vir ’n vriend kon kuier. As ek dit kan regkry sonder om meer as ’n dag te verloor aan in die bed lê of om ’n angsaanval te kry, was dit ’n fantastiese week.

Ek sukkel gereeld om hierdie lae vereistes wat ek vir myself gestel het te bereik en om die wêreld se probleme nog boonop my eie aan te pak, help glad nie die saak nie. Ek wil natuurlik verandering sien in die wêreld, maar ek sukkel genoeg om net deur my dag te kom.

Die volgende stap is nog meer uitdagend: om teorie in praktyk om te skep. Ek het onlangs eers genoeg moed bymekaar geskraap om goed te begin deel op sosiale media om my ondersteuning te wys.

Hoe is ek veronderstel om ’n verskil te maak wanneer ek skaars die krag of moed het om ’n “leunstoelaktivis” te wees? As ’n mens aan depressie ly of ’n swak selfbeeld het, is dit maar maklik om dan jouself af te kraak deur te lank hieroor te talm. Jy oortuig jouself jy’s dom en lui en dan skree daardie selfde stemmetjie wat vir jou sê jy’s niks werd nie op jou omdat jy deel van die probleem is deur niks te doen nie.

Jy is die oorsaak van ander se lyding. Hoekom doen jy niks nie? Jy’s pateties.

Jy kan nie jouself ’n aktivis noem terwyl jy by die huis bly en niks doen nie, maar depressie laat die basiese goed, soos stort of eet, party dae onmoontlik voel. Angs laat net die idee om iets by te woon, aan ’n optog deel te neem of om magstrukture uit te daag, my bors styftrek van paniek.

Maar mense wat net probeer gemaklik bly en hierdie goed ignoreer, is die rede hoekom niks ooit verander nie. Om net aan te gaan met jou lewe is om die status quo te versterk en verandering te belemmer.

Ons is veronderstel om beter te wees, ons moet. Maar hoe is dit moontlik?

Dit raak op die ou end ’n siklus. Die moedeloosheid en angs veroorsaak dat jy onttrek, jy sien hoe situasies nie verander nie, mense daag nie op vir die kwessies wat saak maak nie, wat jou nog meer moedeloos maak en jou verder verhoed om normaal te kan funksioneer en dus kan jy nie ondersteun en opdaag nie.

Dit is wel my storie, maar ek weet vir ’n feit ek is nie die enigste een wat so voel nie. Ek gaan nie maak asof ek ’n oplossing het nie. Hopelik kan ons saam een vind.

  • Francois Haupt studeer BA Taal en Kultuur aan die Universiteit Stellenbosch.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier. 
  • Volg ons op Instagram en Facebook.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.