Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Dié vroue, meisies sal nie Vrouedag vier
Een van die vroue wat emosioneel geraak het terwyl liedere tydens die #TotalShutdown-optog gesing is.

Verlede week se #TotalShutDown-optogte het vroue van oor die land heen saamgebring om in Vrouemaand nogmaals te sê: “Genoeg is genoeg!”

Tog hoor Suid-Afrikaners en veral die regering selde die krete van ouers en familielede wat nog ’n dogter, kleindogter, suster of niggie moes begrawe.

Daarom dra ek vanjaar Vrouedag op aan die jong meisies wat nooit die kans gekry het om hierdie dag as ’n vrou te vier nie.

Hannah Cornelius

Hannah Cornelius (21) en Robyn Pearce (20) van Stellenbosch, Kaylen (17) en Stacey-Lee Visser (17) van Belhar, Whaseema Matthews (17) van Delft, Octavia Johannsen (16) van Hanoverpark, Rene Roman (13) van Lavender Hill, Stacha Arendse (11) van Tafelsig, Stacey Adams (6) van Mitchells Plain, Vinesher Christians (5) van Delft, Kaithlyn Wilson (5) van Riebeeck-Wes, Iyapha Yamile (4) van Khayelitsha en Courtney Pieters (3) van Elsiesrivier is net ’n paar van dié meisies.

Hierdie name mag ’n oomblik vaagweg bekend klink voordat ’n mens besef dat dit die name is waarmee koerante en nuuswebtuistes die afgelope paar jaar rooi geverf is.

Elkeen van die jong meisies is óf verkrag óf ontvoer, óf albei, en elkeen is uiteindelik op ’n wrede manier vermoor.

Almal in die Wes-Kaap – die provinsie met die vierde hoogste getal moorde van vroue en die hoogste van kinders.

Daarom dra ek vanjaar Vrouedag op aan die jong meisies wat nooit die kans gekry het om hierdie dag as ’n vrou te vier nie.

Luidens die Suid-Afrikaanse Polisiediens se 2016-’17-misdaadverslag was vroue die slagoffers in 173 405 misdade en meisies die slagoffers in 29 972 van daardie gevalle, ongeveer die getal studente wat in 2017 aan die Universiteit Stellenbosch (US) ingeskryf was.

In dieselfde tydperk is 3 478 vroue en kinders vermoor, van wie 265 meisies was. Eersgenoemde is ongeveer die getal heeltydse personeellede by die US. Volgens Times Livehet verskeie nieregeringsorganisasies in die Wes-Kaap ’n totaal van 66 kindermoorde in 2017 aangeteken.

Byna die helfte van alle poging-tot-moord-gevalle teen kinders in Suid-Afrika is in die Wes-Kaap aangemeld.

Byna ’n kwart van vroulike verkragtingslagoffers was jonger as nege jaar oud, byna 40% was tussen 10 en 19 jaar en byna ’n kwart tussen 20 en 29 jaar oud. Meer as die helfte was leerlinge of studente.

Die Wes-Kaap het in die kindermoord-mekka van Suid-Afrika verander, ondanks oproepe deur die provinsiale regering en onderwysdepartement – wat self min doen om die krisis te pak – tot die nasionale regering om te help.

Hulle het in die afgelope ses jaar 14 keer vir die nasionale regering gevra om militêre magte na die Kaapse Vlakte te stuur, berig Daily Maverick. Elke keer het dit op dowe ore geval.

Arleen Stone.

Hoewel Fikile Mbalula, voormalige minister van polisie, ten gunste van die idee was, glo Bheki Cele dat dit nie voordele sal inhou nie.

Die tekort aan genoeg (en ervare) polisiebeamptes in die Wes-Kaap is uiteindelik die probleem. Dít en die gebrek aan genoegsame ingryping deur die gemeenskappe self. Tog het gemeenskapspolisiëringsforums soos die Mitchells Plain Crisis Forum wel hul stemme teen kindermoorde dik gemaak en help dikwels met die opsporing van vermiste kinders en die beveiliging van hul gemeenskap.

Hoewel die leier van dié organisasie, Joanie Fredericks, ’n toonbeeld is van hoe ander vroue (en mans) ’n bydrae tot hul gemeenskap kan maak, is dit onmoontlik en onaanvaarbaar om slegs van ’n handvol mense te verwag om werklik ’n verskil te maak in die afmaaiing van Wes-Kaapse kinders.

Die regering moet onmiddellik ingryp anders mag daar nie genoeg jeug oorbly om die volwassenes van die toekoms te word nie.

  • Bronne: Stellenbosch University Statistical Profile 2017 en die SAPS Annual Crime Report 2016-’17.
  • Arleen Stone (21) studeer joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en kom oorspronklik van Springbok in die Noord-Kaap.
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente  |  Vrouedag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.