Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Die waarheid van padveiligheid

Suid-Afrika het ’n ernstige probleem met padveiligheid. Baie mense sterf jaar ná jaar op ons paaie.

Tog verkies sommige studente om na universiteite honderde kilometers van hul huise af te gaan. Vir dié studente (ek is een van hulle) beteken dit ’n veeleisende proses van heen en terugry vir elke vakansie en langnaweek.

Die eerste paar kere dat ’n mens ’n nuwe pad ry, kan jy betower raak deur jou omgewing, terwyl sommige mense sommer net bly is oor die verkenningsreis.

Die rit, soos die een van Durban na Johannesburg op die N3-snelweg, kan egter gou verander in ’n vervelige herhaling van vorige reise.

Wanneer ek so alleen ry, is die radioaanbieders my geselskap. Nie net moet hulle my ingelig hou oor moontlike probleme op die pad nie, maar hulle help ook om my gedagtes besig te hou terwyl ek ure aaneen staar na die reguit, gelyk pad.

Ek hoor gereeld die advertensies wat ’n mens maan om “nie te drink en bestuur nie”, om “veilig te ry in die feestyd” en dan die een van “maak jou veiligheidsgordel vas”. Ek kan nie help om te dink dit is net clichés nie. Almal doen mos maar net wat hulle moet doen.

Ons het almal al gehoor hoe jou familie en vriende jou aanmoedig om “asseblief versigtig te ry” wanneer jy op die lang pad gaan. Dit verstom my. Dit is tog my eerste gedagte en plan om veilig te ry. Ek was beslis nie van plan om onverskillig te bestuur voordat iemand my aangesê het om dit nie te doen nie.

Uiteindelik het ek besef dit word maar net uit beleefdheid gesê en jy moet maar net die persoon bedank vir sy goeie wense.

Dit was ’n miserabele, reënerige dag

Ná ’n suksesvolle jaar aan die Noordwes-Universiteit het ek teruggery huis toe om die vakansie saam met my geliefdes deur te bring. Die motor wat ek bestuur het, was baie oud en het sy aftrede vinnig genader. Ek het byna maandeliks probleme met hom gehad. Vir my ma wat reeds so bekommerd was elke keer as ek lang afstande moet ry, het my onbetroubare motor dit net soveel erger gemaak.

Ons het besluit om die motor te verkoop terwyl ek met vakansie is en dan ’n nuwe een in Durban te koop voordat ek moes terug wees op Potch. Ek het my nuwe motor gekry, maar ongelukkig was hy in Johannesburg.

Ek ry gewoonlik self terug universiteit toe, maar dié keer was die plan om saam met my ouers in hul Mitsubishi Outlander Johannesburg toe te ry. Daar sou ek my nuwe motor kry en van daar af verder na Potch toe ry.

Dit was ’n miserabele, reënerige dag. My pa het bestuur en soos dit in ons kleintyd was, sou my ouers voor sit. Maar voordat ons gery het, het my ma daarop aangedring dat ek voor sit. Sy wou gemaklik op die agterste sitplek teruglê op ’n kussing terwyl sy haar geliefde Huisgenoot lees.

Toe ons begin ry, het die motor die voorste passasier en die bestuurder met ’n crescendo van biepe daaraan herinner om hul veiligheidsgordels vas te maak. Daar was geen biep van waarskuwing vir die passasiers op die agtersitplekke nie.

Ek het op die nat teerpad wakker geword. My kop het op ’n tas gerus. Ek kon die kattebak van ons motor sien en my pa het langs my in die middel van die pad gesit.

In Suid-Afrika is dit algemeen dat net die mense in die voorste sitplekke veiligheidsgordels dra. ’n Busbestuurder wat 50 skoolkinders vervoer, word byvoorbeeld gedwing om ’n veiligheidsgordel te dra, maar niemand of niks dwing die kinders agter hom om dit te doen nie. Ek het nog altyd oor die logika daarvan gewonder.

Rondom die halfpadmerk van die reis is ons deur die bekende Van Reenenspas.

Wat verder gebeur het, is ’n deurmekaarspul. Die voertuig het traksie verloor en op die gladde pad begin gly. Ek het vir ’n breukdeel van ’n sekonde opgekyk en die grys veiligheidsreling langs die pad gesien. Toe was daar ’n slag en verder was dit net donker.

Ek het op die nat teerpad wakker geword. My kop het op ’n tas gerus. Ek kon die kattebak van ons motor sien en my pa het langs my in die middel van die pad gesit. Totale verwarring het gevolg. Hoe het ek uit die motor gekom? Hoekom is ek uit die motor?

JJ Denton.

’n Britse dokter wat in Suid-Afrika met vakansie was, het agter ons gery en die hele ongeluk sien gebeur. Hy het ons behandel voordat enige nooddienspersoneel daar aangekom het.

Terwyl ek hulpeloos daar in die pad gelê het, het die dokter vir my gesê ons was pas in ’n botsing teen ’n ander voertuig. Die kar het teen die veiligheidsreling vasgery en teruggebons tot reg voor die aankomende verkeer in waar ons deur ’n ander voertuig getref is.

“Dankie, dokter,” het ek gesê, “waar is my ma?” Ek het gehoop sy word iewers anders deur paramedici behandel. Die dokter het net sy kop geskud. Ek het dadelik besef waarom hy nie geantwoord het nie.

Ek het dit nie geweet nie, maar ek het in die pad gelê met ’n gebreekte been. ’n Deel van die veiligheidsreling het deur die passasiersdeur geskeur en my been deurboor. Ek het geen pyn van die been of enige van my ander wonde gevoel nie. Ná die nuus van my ma se dood was al die pyn in my hart gekonsentreer.

Ek en my pa het net oorleef omdat ons veiligheidsgordels gedra het. Met die impak is ons styf teen ons sitplekke vasgedruk. My ma, die een wat altyd bekommerd was oor haar familie se veiligheid wanneer hulle ry, het die slagoffer geword van dit wat sy so gevrees het met ons kon gebeur.

“Maak vas!”

Die waarskuwings oor padveiligheid is net clichés, het ek gesê. Cliché of nie, dit kon die verskil gewees het tussen lewe en dood.

  • JJ Denton (22) studeer BA (kommunikasie en politiek) aan die Noordwes-Universiteit. Hy kom oorspronklik van Pietermaritzburg.
Meer oor:  Menings  |  Padveiligheid  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.