Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Die WhatsApp, die kuierplek en die laataand koffie...
Almero Welgemoed.

Ek was laasjaar vir die eerste keer in ’n kuierplek.

(Bedaar, ek is steeds ’n Christen).

Laat ek verduidelik hoekom ek myself daar bevind het, net voor eenuur op ’n Sondagoggend:

Ek en my broer was in die Kaap. Vir twee optredes, maar ook om ons vriende daar te sien.

Hoekom ons vriende meer as ’n 1 000 km van ons af woon, díe weet ek nie, maar hulle is lékker mense. Die soort mense wie jy nie op speaker phone kan sit as jou ma naby is nie, want ’n paar onvanpaste en vulgêre grappies is altyd daar.

Vir privaatheidsredes, asook om dinge effens meer spanningsvol te maak, gaan ek skuilname aan elke persoon gee.

Ons het dié naweek die Saterdagaand gaan uiteet saam met ander kerkmense, nadat ons die heeldag die snikhete Kaapstad verken het. ’n Kelnerin wat presies soos Riaan Cruywagen lyk, het ons bedien. Dit was die hoogtepunt van my dag.

Ná ete het ons na ons blyplek teruggekeer, waar Marc* (’n dominee) sy preek moes skryf voor die volgende oggend (Sondag). My broer het gaan inkruip.

Ek en Kobus* was ook van plan om te gaan slaap, toe hy ’n WhatsApp van ’n sekere dame ontvang wat hom uitnooi om asseblief later die aand na ’n kuierplek te kom, waar sy hom sal kry.

Ek en Kobus* was ook van plan om te gaan slaap, toe hy ’n WhatsApp van ’n sekere dame ontvang wat hom uitnooi om asseblief later die aand na ’n kuierplek te kom, waar sy hom sal kry.

Kobus was opgewonde om twee eenvoudige redes:

1. Die vrou is aanloklik op ’n gevaarlike manier (maar soos ’n warm plaat, in die sin dat jy eers jou hand daarop wil sit om seker te maak dit ís gevaarlik)

2. Sien nommer 1.

Hy wou egter nie alleen daar vir haar sit en wag nie, en nooi my toe saam.

Ek huiwer eers. Om drie redes:

1. Ek vermy alle openbare plekke waar wit mense probeer dans.

2. Dronk mense hou selfs minder van my as nugter mense.

3. Ek moes die volgende oggend in die kerk ’n item sing, en my ou stemmetjie is broos as ek nie genoeg slaap inkry nie.

Kobus oortuig my egter met die belofte dat ons koffie kan koop op pad terug huis toe later.

Wees dapper hier, bra

Die ongemak het begin die oomblik toe ons uit Kobus se wit Toyota Fortuner (gedoop “White Privilege”) klim op die parkeerarea. Die kuierplek was raserig en ons kon dit van die kar af hoor. My sosiale angs kry toe ’n spontane opstanding uit die dood. Kobus is ook effens benoud in dié stadium. Ons albei se broeke sit stywer as wat sosiaal aanvaarbaar is en ek is selfbewus oor my selfbewustheid.

Ons skraap toe die moed bymekaar om die rookwalms en gladde vloere aan te pak en gaan na die ingang.

Dit is hier waar ek onthou dat ek herkenbaar is, al gebeur dit selde. Die meisie by die ingang wat die toegangsgeld vat, kyk my aan asof ek haar herinner aan haar oorlede oupa.

“Askuus, is jy Almero?” vra sy.

“Ja, ek dink so,” antwoord ek, meestal verlig dat sy nie my ID wou sien nie. (Ek lyk soos ’n tienjarige).

LEES MEER: Van die perdejokkie tot die boomgat: Daar is 5 soorte dansers

Dit is toe dat ek besluit om vir haar ’n onbeplande high-five te gee. Sy gryp die kans aan om my hand vas te hou. So staan ons toe ’n ongemaklike lang tyd en staar in mekaar se oë in terwyl my hande begin sweet.

Ek sien hoe ons potensiële toekoms deur haar gedagtes flits. Ons woon in die agtertuin van haar ouers in ’n bus sonder wiele. Ons het 2,5 kinders en ontduik belasting elke tweede jaar. Sy kry 50% van alles wat ek besit tydens ons egskeiding.

Voor sy verder kon droom, glip ek my hand uit haar vingers uit en loop vinnig by die deure van die kuierplek in.

Kobus bied aan om vir my ’n drankie te koop. Ek ignoreer alle dranketiket en vra vir ’n Savanna Lite. Die barman glimlag en kyk na my boarms. Hy besluit ek is gay. Ek vat my drankie.

Ons gaan sit buite op die balkon, tussen die rokers. Vir die volgende twee ure sit ons daar en gesels oor selfskending, drink stadig aan ons bier (in sy geval) en ontmoet twee mans wat langs ons tafel kom staan en rook.

Vir die volgende twee ure sit ons daar en gesels oor selfskending, drink stadig aan ons bier (in sy geval) en ontmoet twee mans wat langs ons tafel kom staan en rook.

Ek lieg en sê ek het asmatiese brongitis. Ons loop in.

Hier sien ons die meisie wat Kobus genooi het.

Sy is relatief besope.

Haar vriend loop verward rond, op soek na sy selfrespek, met sy een plakkie in sy hand.

Ons bied aan om vir haar en haar vriendin huis toe te vat. Die ander vriend wil eerder bly en sy ander plakkie vind. (Ek let op dat dit aan sy voet is, maar ek noem dit nie).

Ons laai die twee meisies in White Privilege en stop by die naaste garage om vir hulle kos te koop. Hulle deel ’n hoender-wrap. Ek en Kobus sing ’n Post Malone-liedjie om hulle op hulle gemak te kry.

Koffie en liefde

By die huis waar ons hulle moet aflaai, nooi sy ons in vir koffie sodat sy en Kobus kan gesels. Sy is bang hy wil haar nie weer sien na die aand nie.

Die huis is vol gerookte studente wat loop en hoender eet. Van hulle ruik asof hulle in die laaste fase van ontbinding is. Iemand lê op ’n bank. Ek neem aan hy is dood en ek probeer uitvind hoe ons sy naasbestaandes kan kontak.

Terwyl ek kyk hoe Kobus en die meisie vir ons koffie maak, besef ek skielik iets.

Terwyl ek kyk hoe Kobus en die meisie vir ons koffie maak, besef ek skielik iets.

En die besef het iets in my verander:

Kobus vat die ketel by haar sodat sy haarself nie brand as sy die water in die koppies gooi nie. Sy hou die beker vas en hy skink die kookwater, maar hy kyk vir haar.

En skielik het ek haar liefgehad. Want al haar foute, issues, keuses, en bagasie verdwyn toe skielik.

En al wat ek kon sien, is die liefde in Kobus se oë vir haar.

Volgens my was sy nie enige moeite werd nie, maar die liefde in sy oë was genoeg. Hy wat haar liefhet, is genoeg.

Dalk is dit hoe God na ons ook kyk, deur die liefde in Jesus se oë.

Ek raak bewus van my arrogansie en hoogmoed. Ek en my preutse bestaan wat dink dat dit my meer “goed” maak indien ek heeltyd die “regte” keuses maak en myself weghou van mense af wat, volgens my, meer foute het as ek.

Dit is segregasie. Die vernietiging van verhoudings.

En dan is ek en al my “goeie” keuses ook net mooi niks werd nie.

Die res van die aand is minder belangrik. Ons sit en drink koffie op ’n balkon, iemand dreig om ons van die balkon af te gooi, en ons groet maar toe.

Ons het drie-uur die oggend gaan slaap.

Ek het orraait gesing in die kerk daai Sondag.

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.