Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Dis nie genoeg om uit papierstrooitjies te drink nie'
Nicole van Niekerk
Nicole van Niekerk

Ons generasie hou daarvan om te glo dat ons aktiviste is. Dat ons kan opkom vir een of ander maatskaplike kwessie en dat ons aan die wêreld kan wys dat ons ook sosiaal bewus is.

Ons hou daarvan om ingelig te wees in gesprekke oor aardverwarming, vroueregte en wapenwette. Ons deel relevante artikels op Facebook en gebruik die regte hashtags op ons Instagram-foto’s.

Ons koop hernubare sakke by Woolies en lees artikels oor hoe om gemorsloos te leef. Ons drink uit ons bamboes-strooitjies en dra ons T-hemde met slagspreuke soos “Empowered women empower women”.

Ons neem diere aan by skuilings in plaas van telers, ons boikot handelsname wat enige toetse op diere doen asook dié wat hul Chinese werkers in onmenslike toestande laat werk teen minimum betaling.

Ons skroom nie om enige beweging wat uit Hollywood uit kom te ondersteun nie en ons verkondig hierdie ondersteuning op sosiale media. Die wêreld moet tog weet jy is sosiaal bewus.

Weet ons wat ons doen?

Dit klink én lyk alles wonderlik. My groot vraag is egter, is ons regtig aktiviste of is dit maar net nog trends wat ons blindelings volg?

Verstaan ons regtig waaroor die sosiale kwessies waarteen ons onsself uitspreek op sosiale media gaan?

Het ons navorsing gedoen of glo ons maar net elke opskrif wat ons op Facebook en Twitter lees?

Sal die sogenaamde millenniërs en generasie Z’s regtig bereid wees om hul gemak, geld en tyd prys te gee vir die kwessies wat hulle sê hulle ondersteun?

Sal die sogenaamde millenniërs en generasie Z’s regtig bereid wees om hul gemak, geld en tyd prys te gee vir die kwessies wat hulle sê hulle ondersteun?

Tydens ’n onlangse gesprek in een van my klasse vra die dosent: “Wie van julle het T-hemde wat vroueregte ondersteun, met woorde soos “Womanhood” en “The Future is Female”?

Ek steek amper my hand op, maar bedink myself net betyds . . . waarheen gaan hierdie gesprek?

LEES OOK: Millenniërs: 'Ons is ’n generasie wat vryheid bo alles stel'

Die dosent se volgende vraag bevestig my vermoedens: “Wie van julle het al ooit daaraan gedink dat daardie T-hemde meestal gemaak word deur vroue in derdewêreldlande wat uitgebuit word en waarskynlik nooit ’n blink toekoms sal hê nie?”

En net daar, in my Dinsdagmiddagklas tref dit my . . . ons dra en sê die “regte” woorde vir die wêreld om te sien, maar wat doen ons regtig om belangrike kwessies wat ons almal raak te takel?

Almal moet hul kant bring

Dit is tyd dat ons ophou praat en begin doen. Ons generasie kan nie meer bekostig om ons blind te hou vir kwessies soos aardverwarming nie.

Dit is tyd dat ons Our Planet op Netflix afsit en self sien wat regtig in ons wêreld aangaan, want om na Our Planet te kyk en daaroor te praat by die volgende kuier, is nie genoeg nie.

Dit is tyd dat ons Our Planet op Netflix afsit en self sien wat regtig in ons wêreld aangaan, want om na Our Planet te kyk en daaroor te praat by die volgende kuier, is nie genoeg nie.

Dit is nie meer genoeg om elke nou en dan jou koper-strooitjie uit sy mooi sakkie te haal net vir daardie perfekte Instagram-foto nie. Ons kan ook nie meer die hernubare Woolies-sakke aanskaf net om eers daarvan te onthou as jy reeds by die betaalpunt is en dan in elk geval maar plastieksakke koop nie.

Dit is nie die wetenskaplikes wat al die navorsing doen wat oor 20 jaar met die probleme gaan sit nie, dit is ons wat teen daardie tyd gesinne gaan hê. Ons gaan aan ons kinders moet verduidelik hoekom hulle nie in die see mag swem nie, want dit is te vuil.

Ons gaan vir hulle foto’s van kameelperde en bye moet wys, want iets wat so algemeen in ons leefwêreld is, gaan dalk nie meer bestaan nie. Ons, wat gewoond gaan moet raak aan ’n besoedelde wêreld sonder die natuur waarvoor ons so lief is.

Ons generasie is nie bang vir verandering nie, ons is nie bang om nuwe uitdagings aan te pak en dit deur te voer nie.

As jy net een keer ’n week ’n klein verandering in jou roetine, universiteitslewe, werksomgewing of selfs in jou vriendekring kan maak, het jy 52 goeie dade gedoen aan die einde van die jaar en 156 aan die einde van jou voorgraadse studies.

Dit is tyd dat ons die kwessies wat ons op sosiale media verkondig regtig begin verstaan en ondersteun. As jy net een keer ’n week ’n klein verandering in jou roetine, universiteitslewe, werksomgewing of selfs in jou vriendekring kan maak, het jy 52 goeie dade gedoen aan die einde van die jaar en 156 aan die einde van jou voorgraadse studies.

Niemand kan meer sê hulle is net een mens nie, dat die veranderinge wat hulle maak niks gaan help nie. Ons moet nou bewus raak van ons aksies, die besluite wat ons neem en die voorbeeld wat ons stel.

Om ’n aktivis te wees is lankal nie meer ’n trend nie, dit is ’n kopskuif en dit is tyd dat ons daardie skuif maak.

  • Nicole Van Niekerk (23) studeer BA Visuele Kommunikasie (Fotografie en Kommunikasie Ontwerp) by die Open Window Institute. Sy het ook ‘n BA graad in Sielkunde en Kriminologie aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy het in Secunda, Mpumalanga groot geword, maar bly alreeds ses jaar lank in Pretoria.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier. 
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.