Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Dis nie maklik om te boer nie'
Carla Visagie
Carla Visagie

Dit lyk seker meestal vreeslik glansryk om op ’n plaas te bly as jy so na die Junievakansie-jagfoto’s op Instagram kyk waarby mense skryf dat hulle “verlief is op die niks”.

Dié verliefdheid verdwyn meestal gou sodra hulle die kitskosrestaurante en winkelsentrums begin mis.

Om te boer is ’n roeping en nie enigiemand is beskore om dié paar velskoene te kan volstaan nie, en dis beslis nie iets wat jou outomaties ryk maak nie.

Om te boer is ’n roeping en nie enigiemand is beskore om dié paar velskoene te kan volstaan nie, en dis beslis nie iets wat jou outomaties ryk maak nie.

Ek sê dit omdat ek gesien het watter uitdaging dit kan wees om vas te byt wanneer die weer nie saamspeel nie. Dit soos op ons plaas waar ’n “rivier”, waaruit die lusernlande besproei moet word, vyf jaar laas water gesien het.

’n Boer is dikwels ’n veearts, soos byvoorbeeld wanneer daar geboortekomplikasies by die vee voorkom, ’n loodgieter wat moet weet hoe die besproeiingstelsel aangelê moet word, en soms vrederegter in dispute tussen arbeiders.

’n Boer is baie dinge, maar ek dink iets waaroor ons almal kan saamstem, is dat die land van die boere afhanklik is, want sonder hulle sal daar nie kos op ons tafels wees nie.

Mense is sleg of goed

Daar was verlede jaar 433 plaasaanvalle en syfer styg steeds. Die spreekwoord waarsku dat jy nie die hand wat jou voed, moet byt nie. Daarom is dit vir my onverstaanbaar dat daar nie méér ag op hierdie aanvalle geslaan word nie.

Plase is afgeleë en die boere is maklike teikens aangesien die polisie ver en die bure ook dikwels nie naby is nie. Juis weens die afgesonderdheid van plase behoort ’n spesiale polisie-eenheid teen plaasaanvalle op die been gebring te word.

Die onmenslike wreedheid wat dikwels met die plaasaanvalle gepaardgaan, spreek van ’n haat teenoor boere.

LEES OOK: 'Ek droom van 'n SA sonder plaasmoorde'

Aandag moet dringend hieraan gegee word, maar dit moenie met rasse-retoriek gepaardgaan nie. Dit is wel so dat sommige politieke partye haatspraak en geweld aanhits, maar dis onregverdig om iemand op grond van sy velkleur te brandmerk – na watter kant toe ook al.

Boere en plaaswerkers het almal al deurgeloop, en misdaad bly misdaad. Dit maak nie saak wat die motief is nie, en jou velkleur impliseer nie dat jy inherent ’n moordenaar of dief is nie. Jy kry slegte mense en jy kry goeie mense, maar nie slegte rasse of goeie rasse nie.

Sien die skurke vir wie hulle is

As ons werklik verandering in die land teweeg wil bring, moet ons saam veg teen hierdie probleem en nie toelaat dat ons op grond van ras verdeel word nie. Moord is moord, en dit gaan ons nêrens bring om oor en weer doodsdreigemente en beledigings op Twitter te maak nie.

So wat word van ’n plaas as die boer nie meer daar is nie? Dis maklik om die plaas te verkoop, maar die nuwe boer en sy arbeiders asook die omliggende boere en hul arbeiders, sal nooit weer veilig voel nie.

Die onmenslike wreedheid wat dikwels met die plaasaanvalle gepaardgaan, spreek van ’n haat teenoor boere.

Die gesin wat hul pa verloor het, sal nooit hul pa kan terugkry nie, en dit sal maande duur voordat die nuwe eienaar weer die plaas in volle produksie kan bring.

Wyle pres. Nelson Mandela het gesê: “Niemand word gebore met haat in hul harte vir ’n ander velkleur, agtergrond of geloof nie. Mense leer om te haat, en as hulle kan leer om te haat, kan hulle leer om lief te hê, want liefde is meer natuurlik vir die menslike hart as die teenoorgestelde.”

Miskien moet Suid-Afrikaners ophou om mekaar as die skurke in die verhaal te sien en eerder die korruptes en moordenaars as die skurke sien.

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.