Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Seksualiteit: Hou op om mense in kassies te sit
Mart-Marié Serfontein.
Mart-Marié Serfontein.

Ek het ’n goeie vriend. Hy is mal oor musiek. Hy speel klavier, sing en geniet klassieke konserte. Hy geniet dit ook om stylvol te lyk en jy kan hom altyd deur ’n ring trek. Hy dra gel in sy hare. Hy weet presies hoe om ’n foto te neem om jou en sy beste angles te kry. Hy is ’n feminis. Die lys gaan aan.

Maar, daar is een ding wat hy nie is nie. Gay.

Jy lag miskien. Jy lees weer die beskrywing bo en skud jou kop. Wat bedoel jy hy is nie gay nie? Al die tekens is daar? sê jy.

Voordat ek kwaad word, gaan sit ek eerder en skryf vir jou dié artikel, sodat jy dalk kan verstaan.

Ons smag na orde

Ons as mense smag na orde. Die lewe (altans, die grootste gedeelte daarvan) moet vir ons sin maak. Anders is daar nie sin aan die lewe nie.

LEES OOK: Ek is trots Afrikaans en my kêrel is swart

Een van die maniere waarvoor ons as mense die liefste is, is kassies. Ons sit goed (mense, dinge, gebeurtenisse) in kassies en verwys telkemale terug daarna wanneer iets dof of grys is. Ons kassies is ons sleutel tot die Babelse verwarring waardeur ons daagliks in die gesig gestaar word.

En dit is dan juis dié kassie wat ek vandag aanpak: seksualiteit en die uitdrukking daarvan, asook ander mense se persepsie daarvan.

Mense oordeel te vinnig

Dit is algemene kennis dat een van die groepe in Suid-Afrika wat die meeste as “konserwatief” beskryf word, wit Afrikaanssprekendes is. Hierdie stereotipe bestaan omdat daar steeds vele individue in die groep is wie se kop op ’n sekere manier werk wat ek as ’n millenniër eenvoudig net nie kan insien nie.

Een so ’n voorbeeld is wanneer hulle mense soos my vriend in die gay-kassie plaas omdat hy al hul vereistes afmerk.

Dit is algemene kennis dat een van die groepe in Suid-Afrika wat die meeste as “konserwatief” beskryf word, wit Afrikaanssprekendes is.

Die ding wat hier in gedagte gehou moet word, is dat daar ouens is wat nog wonder oor hul seksualiteit. Hulle is onseker en maak op die gemeenskap staat om dit waaroor hulle ’n vermoede het te bevestig.

In hierdie geval is dit egter nie die geval nie. Hy weet wat hy is. Hy en ander soos hy word ná die eerste ontmoeting geoordeel en daarna is daar amper geen kans meer dat hy enigiets anders in hul oë kan wees as dit wat hulle gesien het en waarop hulle reeds besluit het nie.

Kies ’n kassie

Maar dit eindig nie daar nie. Nee.

’n Tydjie terug sê my vriend vir my hy’s al deur meer as een openlik gay ou aangevat omdat “hy vir homself lieg”.

Volgens hulle is hy nie eerlik met homself nie. Hulle sien ook al die tekens wat hul wêreld vir hulle laat sin maak en sit hom in die kassie wat vir hulle die wêreld verstaanbaar maak.

En dis heeltemal verstaanbaar. Ons is almal skuldig daaraan. Wat nie reg is nie, is om jou oortuigings en begrip van die wêreld op iemand anders af te dwing net omdat jy nie hul perspektief kan insien nie.

By almal, van die konserwatiefstes tot dié wat as die liberaalste gesien word, is die boodskap duidelik: Kies ’n kassie en pas daarin, anders kan jy nie hier inpas nie.

Kan jy glo dat daar straight ouens is wat hou van sing, klassieke musiek, netjiese klere en goeie foto’s? Klaarblyklik nie in die 21ste eeu op Universiteit Stellenbosch se kampus nie. Nee, hier kyk ons so in tradisionele gender- en seksualiteitsrolle vas, dat ons diegene wat van die norm verskil nie toelaat om te wees wat hulle sê en weet hulle is nie.

By almal, van die konserwatiefstes tot dié wat as die liberaalste gesien word, is die boodskap duidelik: Kies ’n kassie en pas daarin, anders kan jy nie hier inpas nie.

  • Mart-Marié Serfontein (21) studeer BA Regte aan die Universiteit Stellenbosch. Sy werk ook vir Die Matie as teksredakteur. Sy kom oorspronklik van Kaapstad.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg Die Student op Instagram
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.