Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Sien jy kans om jou kinders in SA groot te maak?
Ané Havenga
Ané Havenga

Vir ’n hele aantal dae wriemel hierdie woorde in my gedagtes rond. Dit als te danke aan die woorde wat in my kop vassit nadat ek die “post” tydens ’n Instagram-sessie op die bank raakgelees het.

Ek dink aan hoe Suid-Afrika nou lyk, hoe moet dit lyk? Hierdie gedagtes het egter ’n toppunt bereik toe ek saam met my ouers Toy Story 4 gaan kyk het.

Tydens die voorskou maak ek met die nuutste Vodacom-advertensie kennis. ’n Ouerige vrou wat verduidelik hoe sy die aflosstokkie van die lewe aan haar dogter moet oorgee. Sy gebruik treffende sinne soos “It’s (SA) a wonderful place to make your mark. There are modern things now, these things are changing the world and they will shape who you are.” Dan kom die hoogtepunt: “What will your ’94 be? Who will be your champion? Look how far we’ve come, we can go further. Aspire to be more. Be fearless. Because for you the future is exciting.”

Ek het gou agtergekom dat ons nie meer in die 1900’s leef waar vroue slegs voortplant nie. Twee van my ouer vriendinne het aan my erken dat hulle glad nie kinders wil hê nie.

So dink ons generasie nog daaraan om kinders in SA groot te maak, te help bou aan hoe ons wil hê SA moet lyk?

Ek was eers effens verbaas en toe besef ek die dae is verby waar ons tien jaar oud is en klaar beplan hoeveel kinders ons met elkeen se perfekte naam wil hê. Ons is op die oomblik die jeug en die voorouers van die jeug oor 20 jaar. So dink ons generasie nog daaraan om kinders in SA groot te maak, te help bou aan hoe ons wil hê SA moet lyk?

Ouer mense is moeg vir die lewe

Ek wil eendag kinders hê en ja, ek het reeds aan hulle name gedink. Daar is al ’n lys gemaak van ’n hele paar opsies en daaroor gedebatteer. Op die ou einde is die keuses iets waarvan ek hou, rolmodelle en sekere betekenisvolle woorde. Iets soos Serena. ’n Huldeblyk aan Serena Williams, ’n vrou wat op soveel vlakke grense verskuif het en dit steeds doen. Sy inspireer my om SA ’n beter plek te maak en ek wil graag dat iets van hierdie legende in volgende generasies voortleef.

Ek hou ook van die idee van “Faith, Hope en Love” as tweede name. Dis ’n supergroot cliché, ek besef dit, maar ek wil my volgende generasie instuur met die wete dat ons liefde moet inbring in SA, ’n SA wat dit so nodig het. Of soos Bouwer Bosch sal sê: “Almal is stukkend. Sommige meer as ander. Maar as ons saam bliksem met liefde, kan ons dalk net die wêreld verander.”

LEES MEER: Suid-Afrika, sy is ons s’n

My ouers het in ons drie kinders geglo, ons gemotiveer en my laat glo dat ek kan hoop en droom. Dis egter nie die geval in elke huishouding nie en dit het my regtig tot my sinne gebring.

Ek wil ongelooflik graag SA verander en begin waar ek kan – in my koshuis, klasse en tussen vriende. Ek glo in ’n SA waar die besigheidsman sowel as die kind op die straat kan droom. Vir die volgende 20 jaar wil ek dit aanvuur in SA, en die jeug speel ’n bepalende rol. Meeste ouer mense is moeg vir die lewe en dis waar die jeug inkom. Die jeug moet die vuur in hulle laat brand en só SA inspireer.

Dinge het nie altyd in my lewe uitgewerk nie en vandag se SA is ’n bepalende faktor. Ek en jy is wel nou deur die “test run” – ons weet wat werk en wat werk nie. Daarom kan ons begin leef om vir ander en die generasie van oor 20 jaar dit moontlik te maak.

Die toekoms is opwindend

Soos die advertensie wil ek die jeug aanmoedig om jou merk in SA te maak. Dinge is daagliks nuut en anders, maar dis ’n gawe eerder as ’n vloek. Ons het nie die wonder van 1994 beleef nie, maar dit moet niemand stuit om te werk vir ons generasie se ’94 nie. 1994 is die simbool van vrede, vernuwing, hoop en drome. Kom ons skep ons 1994 en streef daarna. Die toekoms is inderdaad opwindend!

Ons het nie die wonder van 1994 beleef nie, maar dit moet niemand stuit om te werk vir ons generasie se ’94 nie.

Ek stap uit Toy Story 4 uit. Disney verras my steeds as ’n jong volwassene. Ek hoop Woody en Buzz kom eendag weer bymekaar uit in Toy Story 5 (jammer vir dié wat nog nie hierdie een gesien het nie). Aangesien ek tien jaar moes wag ná Toy Story 3 vir hierdie prent, gaan ek moontlik nog tien jaar moet wag.

Ek sê spottenderwys vir my ma dat sy dit saam met die kleinkinders (die nuwe generasie) sal moet gaan kyk teen die tyd wat dit moontlik uitkom.

Mag ons teen dan ’n SA geskep het wat net soos Disneyland “the most magical place on earth” is

  • Ané Havenga (19) studeer Bcom regte aan die Universiteit Stellenbosch. 
  • Hierdie meningstuk is deel van Die Student se rubriek-kompetisie waar ons vir studente gevra het om te skryf oor die Suid-Afrika wat hulle oor 20 jaar wil sien en hoe die jeug kan help om by dié droom uit te kom. Die kompetisie is in samewerking met die Universiteit Stellenbosch aangebied ter viering van Jeugdag.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.