Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Dís waaroor millenniërs dink

Ek het vanjaar aan die Universiteit Stellenbosch se toneelfees deelgeneem en gaan hiermee ’n “objektiewe” weerspieëling gee van presies waarmee studente behep is.

As ’n mens die topdrie stukke van nader beskou, is die antwoord eenvoudig: grootword, seks en body positivity.

Toneelstuk 1

7 Stages is die titel van ’n stuk oor die sewe fases van grootword, die sewe dae van die skepping en 7de Laan (soort van). Die akteurs in dié toneelstuk wat derde gekom het, vat jou op ’n reis van kindwees tot oudwees wat niks van die pyn van elkeen van dié fases verbloem nie. Daar is ook ’n duidelike afkeur teenoor grootmenswees.

Die boodskap: “Don’t grow up, it’s a trap.”

In fase vyf rond, word die wit Stellenbosch-mammies liederlik uitmekaar gehaal oor hul beheptheid met ryk trou, skoonheid en hul keuse om gevangenes te wees. Daar is tog ’n mate van empatie, maar die boodskap is dat vandag se jong mense beslis dié soort sistemiese gevangenis gaan vermy.

Toneelstuk 2

In die tweede plek was Nóg geestelik, nóg beestelik, ’n stuk wat ek en ’n vriend geskryf het. Ek kan dus vir jou ’n idee gee van wat in die kop van dié 19-jarige en haar vriendinne aangaan. As ek eerlik moet wees, is ons behep met verhoudings. As jy ons iewers op die sewe fases van grootword moet plot, is ons nou by fase "manvang".

Die stuk vertel die soms tragiese, maar altyd eerlike liefdesverhale van ’n paar Stellenbosch-meisies. Die mans se perspektief is deur my vriend gekommunikeer via poësie. Volgens hom is ons temas: “seks, pecs, verlief wees, alleen aan die slaap raak en wakker word”.

Eers toe die stuk klaar geskryf is, het ons besef niemand kom by mekaar uit nie. Die klein bietjie hoop lê in die eerlikheid van die stuk en die waarheid wat dit ontbloot.

Toneelstuk 3

In die eerste plek was Upsize 2.0 waarin vier gesette dames hul daaglikse stryd weergee op so ’n manier dat jy die hele halfuur lank so lag dat jy nie asem kry nie.

Hulle praat oor alles van dubbelkenne, drillende bobene en om by die swembad uit te rol tot by biegsessies oor hoe moeilik dit is om jouself lief te hê as jy elke oggend herinner word aan hoe dik jy is as jou boarm dril terwyl jy jou tande borsel.

Dís waaroor ons dink

Hoekom vertel ek vir jou al hierdie dinge? Om vir jou te verduidelik dat millenniërs nie net op soek is na Instagram-likes en werk wat niks van hulle verwag nie.

Nee, eintlik is millenniërs behep met eerlikheid, rouheid en naaktheid. Wat die drie stukke in gemeen het, is dat daar in nie een van hulle doekies omgedraai word nie.

So, kom ons praat oor seks en pecs en grootword en vet-wees en al die ander dinge waaroor ons nie mag praat nie. Want as ons lank genoeg daaroor praat, kan ons dalk minder bang wees, eerliker wees en minder gril.
Aletta Simpson.

Dit wys duidelik dat die studente bewus is van die samelewing se norme en eenvoudig net nie kans sien om daaraan te voldoen nie. Hulle wil nie ryk trou nie, hulle wil nie hul pyn wegsteek nie en hulle wil hulle nie soveel steur aan wat die samelewing van hulle dink nie.

Dis wat ek geleer het by vanjaar se toneelfees. Die nuwe generasie ampergrootmense, jy weet daardie mense wat nog hou van swaai, maar te lank is vir Wimpy se speelarea, gaan die wêreld nog verbaas deur te sê presies wat hulle dink. Dis hoe ons die lewe gaan aanvat, deur te praat oor ons pyn en so die wêreld ’n beter plek te maak.

So, kom ons praat oor seks en pecs en grootword en vetwees en al die ander dinge waaroor ons nie mag praat nie. Want as ons lank genoeg daaroor praat, kan ons dalk minder bang wees, eerliker wees en minder gril. Dalk sal ons selfs van hierdie onwelkome norme só kan verskuif, want as ons eerlik is, pas niemand van ons werklik in ’n kassie nie.

  • Aletta Simpson (20) studeer BA Geesteswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Sy kom oorspronklik van Brackenfell in die Kaap.
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.