Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Dít is wat die liefde moet wees
Corlien Venter
Corlien Venter

“Love is patient, love is kind . . . Love means slowly losing your mind.”

Dié woorde van die akteur James Marsden (my celebrity crush) resoneer in my kop as ek dink aan hoe liefde verskillend vir verskillende mense lyk.

Ons is almal ingelig oor die verskillende liefdestale en hoe ons moet moeite doen om ons maat se liefdestaal te ontdek om op hul manier vir hulle te sê of te wys dat ons hulle liefhet.

Liefde lyk beslis anders vir almal 

Ek stem saam – liefde lyk verskillend vir verskillende mense – vir my, byvoorbeeld, moet jy wys dat jy my liefhet, maar jy moet dit sê ook. My kêrel is weer meer “touchy-feely” en dan waardeer hy dit ook as jy iets vir hom doen.

1 Korintiërs 13 gee vir ons ’n paar opdragte oor wat liefde is en hoe dit behoort te lyk – geduldig, vriendelik, nie afgunstig nie, nie grootpraterig nie, soek nie eie belang nie, hou nie boek van die kwaad nie, om net ’n paar te noem. En dan natuurlik: Liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, en waar liefde is, is geen plek vir vrees nie.

Liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, en waar liefde is, is geen plek vir vrees nie.

Ek het al baie gehoor dat mense sê “liefde is ’n werkwoord” en dis waar – maar dit werk net as albei in die verhouding bereid is om daaraan te werk en as albei dieselfde doel voor oë het.

As een dink aan trou en kinders en die ander een wil net los en vas vry, hoe gaan die verhouding oorleef? Dis soos om ’n spiesgooi- en hoogspringatleet teen mekaar te laat deelneem en dan ’n wenner te probeer bepaal – onmoontlik.

Ek kan myself wees

In 2020 lyk liefde in my lewe baie anders as wat ek gedink het dit gaan lyk – onder meer omdat ek en my kêrel die langafstand-ding doen. Hy bly in Kimberley en ek in Pretoria.

As jy my sowat ’n jaar – of selfs twee jaar gelede sou vra of ek ooit sou kans sien vir ’n langafstandverhouding, sou my antwoord ’n klinkklare NEE gewees het met ’n hele lys van redes oor hoekom langafstandverhoudings nie kan werk nie en hoekom jy iemand nie werklik oor die foon kan leer ken nie. Ek sou byvoeg dat vertroue oor ’n afstand, nie kan bestaan nie.

Ek sou byvoeg dat vertroue oor ’n afstand, nie kan bestaan nie.

Maar toe stuur God hierdie ongelooflike man oor my pad, en vir sewe maande doen ons al amptelik die langafstand-ding. Ons is inniglik dankbaar vir video call en ek sien hom sowat een naweek elke maand, wanneer hy die lang pad (sowat 550 km) van Kimberley tot Pretoria aandurf.

En danksy WhatsApp en selfone kan ons mekaar gereeld deur die dag kontak en so op die hoogte bly (en deel wees) van wat in mekaar se lewe aangaan.

My liefde lyk anders, want ek kan myself voor hom wees, ons kan mekaar volkome vertrou en ons fundamentele beginsels en waardes is dieselfde.

Moenie jou idee van liefde op ander afdwing

In die verlede glo ek, het ek aan “gebreekte-vlerk-sindroom” gely. Ek het ’n oulike ou ontmoet, iets in hom gesien wat ek kan help regmaak, want ek sien “die potensiaal in wat hy kan wees” en dan probeer ek hom verander soos wat ék wil hê hy moet wees (wat nie reg is nie). En dan, wanneer hy nie uitdraai soos die prentjie in my kop nie – en wanneer almal ongelukkig is – besluit ons om die verhouding te beëindig.

Ek het intussen geleer dat ek nie my idee van hoe liefde behoort te lyk op ander mense kan afdwing nie en dat ’n verhouding nie net gaan oor wat ek wil hê nie, maar oor wat ons wil hê. Dit gaan oor gee en neem. Oor kompromie. Oor kommunikasie en oor volkome vertroue in God en op mekaar.

LEES OOK: Pasop dat sosiale media die liefde laat taan

In 2020 lyk liefde vir my anders, want ek is in ’n verhouding met die belangrikste persoon in my lewe – en dis God. Hy leer my elke dag nederigheid en vertroue en hoe om die beste weergawe van myself te wees – vir myself, dié om my en vir Hom.

Hy stuur mense oor my lewenspad wat Hy weet ek nodig het of mense wat my nodig het.

In 2020 lyk liefde vir my anders, want ek is in ’n verhouding met die belangrikste persoon in my lewe – en dis God.

Hy het ’n plan vir my lewe en ek het volkome rustigheid in my as ek aan my toekoms en liefde dink, waar ek in die verlede altyd angstig was oor hoe my lewenspad gaan uitdraai en “sê nou maar dit draai nie uit soos wat ek wil hê dit moet uitdraai nie”. (Jy weet, die ding van getroud op 23 en drie kinders teen die tyd dat ek 30 is).

Nou vind ek my rus by God en ek weet dat wat ook al gebeur, Hy is met my elke tree van die pad.

So já, love is patient and love is kind, but love does not mean losing your mind. It means loving the way God wants you to.

  • Corlien Venter studeer oudiologie aan die Universiteit van Pretoria. Sy is gebore in Kimberley, maar bly al amper 15 jaar in Pretoria.
  • Hierdie meningstuk is deel van ’n kompetisie op Die Student waar studente gevra word: Lyk die liefde anders in 2020? Klik hier om die ander meningstukke te lees.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!
  • Ons stuur elke Vrydag ‘n nuusbrief uit met die drie gewildste meningstukke van die week. Klik hier en teken in vir die Stemme-nuusbrief.
Meer oor:  Liefdediestudent  |  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.