Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Doen ek genoeg en maak dit ’n verskil?

Karmen Wiid
Karmen Wiid

Deesdae wonder ek oor baie dinge.

Ek wonder wat gaan van die wêreld word, ek wonder hoe ek kan help en ek wonder of dit wat ek doen waarlik saak maak.

Nou, meer as ooit, steek die straathoeke bakhande weg en lewenstragedies word uitgebloei op karton. Gister by die stopstraat het ek gewonder hoekom niemand bedelaars in die oë kan kyk nie? Die mense op die strate lyk nie eens meer soos arm behoeftiges nie.

LEES OOK:'Wees tevrede met wat vir jou dalk lyk soos min'

Hulle lyk nou soos bouers, huiswerkers en kelners wat nie ’n werk het om na toe terug te gaan nie. Ek sien sakemanne en -vroue in hul duur karre wat oogkontak skaam vermy, die meeste nie omdat hulle te suinig is om geld te gee nie, maar omdat hulle weet die persoon op die straat met R5 in sy sak is beter af as hulle wat die gewig van duisende rande se skuld op hul skouers moet dra. ’n Kredietkaart is ’n graf.

’n Nimmereindigende pendulum

Ek lewe daagliks met die onsekerheid van my eie invloed. Ek glo met my hele hart dat ware geluk in die uitoefening van jou passie en in die aksie van uitreiking lê. Ek het altyd gedink ek vind vervulling in albei.

Ek skryf gedigte oor die liefde en oor skemer en mense het altyd gesê dat dit iets vir hulle beteken, maar deesdae wonder ek of dit genoeg is. Is liefde en estetiese bewondering nie maar net luukshede wanneer kinders elke aand honger gaan slaap nie? Doen ek waarlik genoeg? Maak een persoon se pogings regtig saak?

Die optimis binne my sê ja. As ons eers begin dink dat verbetering te ’n groot ’n taak is om te vermag, gaan ons ook maar net drenkelinge word in die moeras van menslike ellende.

My basiese behoeftes word met gemak vervul, terwyl dominees hulle salarisse opoffer om die mense in die gemeenskap te voer.

Tog voel ek in hierdie tyd vasgevang in ’n nimmereindigende pendulum wat beweeg tussen skuld en ’n diepe gevoel van dankbaarheid. My basiese behoeftes word met gemak vervul, terwyl dominees hulle salarisse opoffer om die mense in die gemeenskap te voer.

Aan die een kant is ek so trots op ons president en ons mense vir alles wat hulle in hierdie moeilike tyd vermag. Maar aan die ander kant kry ek so skaam vir die gedeelte van die bevolking wat steeds kies om kleurskeidslyne en negatiwiteit in elke goeie daad te sien.

Elke straaltjie hoop

Dit is ’n tyd van ongelooflike stres en groot onsekerheid, maar ook een van bonatuurlike hoop. Mense kry swaar, maar mense staan ook saam. Dalk help my skamele hopies woorde nie om kos in ’n kind se mond te sit nie, maar dalk, net dalk bring dit die skraalste straaltjie hoop in iemand se donker vooruitsigte.

Ek het dalk nie al die antwoorde nie, maar my beste poging is dit: Dit is ons verantwoordelikheid om hoop te bring waar ons kan, maak nie saak in watter vorm nie. So skryf jou gedigte, neem jou foto’s, teken jou prentjies en glimlag vir die mense op die straat.

Jy hoef nie eiehandig die land se ekonomie te red om ? verskil te maak nie. Die bietjie hoop wat elkeen van ons kweek, is uiteindelik wat ons land gaan red.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.